Jürgen Banscherus
Speurder Kwaaikofski
Die slinkse slangslenter
Vertaal deur Kobus Geldenhuys
Met illustrasies deur Ralf Butschkow
Human & Rousseau
HOOFSTUK 1
Ek het twee weke gelede tien geword. Die aand voor my verjaardag was ek so opgewonde ek kon skaars slaap. ’n Hele tien jaar oud! Shucks, Sherlock, dit voel onwerklik!
Maar die volgende oggend is alles weer soos altyd. Ek word wakker met my ma wat my so styf vasdruk dat ek na asem hyg, en my ’n papnat soen gee – vol op die mond. Met ontbyt staan daar soos elke jaar ’n koek versier met rooi kersies op die tafel, ’n beker warm sjokolade en allerhande koekies.
Soos gewoonlik kry ek my presente eers ná twee happe koek en drie slukke warm sjokolade. My ma sê sy wil nie hê ek moet op my verjaardag honger skool toe gaan nie.
Maar dis net ’n verskoning. Sy treiter my, want sy weet ek kan nie wag om my presente oop te maak nie. Uiteindelik word my geduld beloon. Ek kry ’n onderbaadjie spesiaal vir speurders, met sewentien sakke en die coolste helderrooi tekkies waarop almal by die skool jaloers gaan wees.
“Tevrede?” vra my ma en krap my hare deurmekaar. Ek het spesiaal vir my groot dag ’n halwe potjie jel gebruik om dit te laat regop staan. Wanneer gaan sy leer om my hare uit te los?
“Baie!” brom ek. Toe trek ek die nuwe tekkies en onderbaadjie aan, steek ’n pakkie Carpenters kougom, ’n notaboek, skryfgoed, ’n vergrootglas en ’n paar ander belangrike goed vir ’n superspeurder in die sewentien sakke en mik by die deur uit.
Maar my ma keer my. “Jy het iets vergeet,” sê sy en stop ’n boks met ’n groot sjokoladekoek in my hande.
Van my eerste jaar op skool het ons klas die gewoonte dat jy op jou verjaardag vir almal eetgoed moet bring. Dit was eers die lekkerste roomkoekies en tertjies en soutigheidjies. Maar deesdae bring almal net sjokoladekoek. Klein sjokoladekoekies, groot sjokoladekoeke, wit sjokoladekoeke, donker sjokoladekoeke – enigiets met sjokolade. G’n wonder die skoonmakers hou niks van ons klas nie.
“Maak seker elkeen kry ’n sny,” sê my ma.
“Ja-ja,” antwoord ek en sit die boks op die vloer neer sodat ek my verwoeste hare kan regmaak.
Maar Ma is nog nie klaar met my nie.
“Jou pa het vir jou geskryf,” sê sy en haal ’n koevert uit haar baadjie se sak.
“W-w-w-ie?” stotter ek. Die laaste paar maande was al wat ek van my pa gehoor het ’n oproep af en toe. En dan het ons nooit eintlik verder gekom as “Hallo” en “Hoe gaan dit?” en “Goed” en “Baai” nie.
In die koevert is daar ’n verjaardagkaartjie. Toe ek dit oopmaak, speel die liedjie “Happy birthday to you”.
My ma trek skewemond. Ek dink ook nie dis cool nie, maar ten minste het Pa onthou ek verjaar. Laas jaar het hy heeltemal vergeet. Dit het my nogal gepla.
My pa het die gewone vervelige goed in die kaartjie geskryf: Ek word nou ’n groot seun, hy dink baie aan my en hy hoop ek geniet my verjaardag. Maar toe rek my oë skielik. Daar staan:
Die kaartjie het ’n geheime wegsteekplek.
’n Speurder soos jy sal dit maklik kry.
Mooi bly.
Pa
Ek spring dadelik aan die werk. My pa was reg; dit neem my skaars ’n minuut om die storie uit te werk.
Jy moet die kaartjie net op ’n sekere manier buig, dan gaan die geheime wegsteekplek oop.
Binne-in kry ek ’n opgevoude tweehonderdrandnoot! Dis die meeste geld wat ek nog ooit in my lewe gehad het!
Al is die nuwe rooi tekkies vinniger as enige ander skoene wat ek al gehad het, kom ek daardie oggend laat by die skool aan.
My klasmaats wag ongeduldig vir die sjokoladekoek. ’n Kwartier later lyk die klaskamer soos elke keer wanneer een van ons verjaar.
Die skoonmakers gaan weer ons nekke wil omdraai …
Ná skool maak ek ’n draai by Olga se kiosk. Dis waar ek altyd my gunstelingkougom koop: Carpenters.
Olga weet ek het die kougom nodig om ordentlik te kan dink. Daarom het sy altyd daarvan in voorraad. Anders as my pa het sy my verjaardag nog nooit vergeet nie.
Vandag ook nie. “Veels geluk, Kwaaikofski!” roep sy uit toe sy my sien. “Nog ’n paar jaar, dan kan ons trou!”
“Sjoesj!” sis ek en kyk vinnig om. Gelukkig het niemand haar gehoor nie. Olga is partykeer ’n pyn in die dinges.
“Wag bietjie,” sê sy en verdwyn by haar kiosk in. ’n Paar oomblikke later skuif sy ’n pakkie oor die toonbank na my toe. Nes laas jaar en die jaar voor dit het sy groen geskenkpapier met beertjies op gebruik.
Ag nee, komaan, ek is al tien! Sy kon papier gekry het met Formule Een renmotors of ruimtetuie op.
Maar toe ek die pakkie oopmaak, is ek nie meer kwaad vir Olga nie. Sy het my bederf met tien pakkies Carpenters kougom, een vir elke jaar.
“Net die beste is goed genoeg vir jou, Kwaaikofski,” kondig sy vrolik aan.
“Ja-ja,” sê ek vinnig. Om te keer dat sy nog iets sê wat my laat bloos, stop ek die geskenkpapier in haar hande en sit die Carpenters in my broeksak. Toe voel ek die opgevoude tweehonderdrandnoot. Ek moes dit vanmôre ingedagte in my sak gesteek het. As ek wil, kan ek vir my hoeveel pakkies Carpenters daarmee koop. Miskien moet ek? Maar toe kry ek ’n beter idee.
“Het jy vanaand tyd?” vra ek vir Olga.
“Vir jou – altyd, my skat.”
Ek ignoreer die “my skat” en sê: “Ek wil jou en my ma vir roomys vat. Sewe-uur, by Giovanni. Reg so?”
“Jy …? Vir ons …?” Olga druk ’n sigaret in haar mond, maar soos gewoonlik steek sy dit nie aan nie. “Het jy genoeg … Kan jy …”
“… betaal?” help ek haar. “Hoekom anders sal ek julle nooi?”
“Laat ons liewer betaal … Giovanni is nie goedkoop nie.”
Ek skud my kop beslis. “Jy en my ma is my beste vriende. My pa het geld gestuur vir my verjaardag. So ek nooi julle uit en klaar!”
Olga buig effens. “Ek voel geëerd,” sê sy.
’n Paar uur later sit ons drie in Giovanni se roomysplek.
My ma lyk soos gewoonlik. Sy dra swart jeans en ’n trui wat ’n paar nommers te groot is. Maar Olga het haar opgetof vir die groot geleentheid. Sy dra ’n geblomde rok, ’n goue haarband en silwer hoëhakskoene waarmee sy skaars kan loop.
Giovanni hou baie van hoe sy lyk. Hy maak vir Olga ogies tot sy vrou dit nie meer kan vat nie. Sy gryp hom aan die kraag en boender hom agter die glaskas met die roomys in.