Locum vir liefde. Malene Breytenbach. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Malene Breytenbach
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Эротическая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624057659
Скачать книгу
>

      

      Locum vir liefde

      Malene Breytenbach

      Hartklop

      1

      Laura is baie bewus daarvan dat sy nou ’n enkeling is toe sy die ontvangslokaal van die Russiese skip die MS Irina betree. Sy sou saam met haar man op dié toer gekom het, maar nou is net sy hier. Sy het niemand om dit mee te deel nie.

      Die tradisionele verwelkomingseremonie aan boord is die aanbied van brood en sout, gemik op die klomp toeriste wat van Moskou na St. Petersburg gaan reis op die waterweë. Die skeepspersoneel is in onberispelike uniforms of tradisionele geborduurde drag geklee en almal glimlag verwelkomend.

      Dit lyk feestelik, maar Laura voel moeg en morsig. In haar verkreukelde denimpakkie, wat sy al twee dae lank aanhet, steek sy af by die vars, kleurryke drag van die skeepspersoneel. Haar donker hare is deurmekaar en haar grys oë, so het sy in die vliegtuigbadkamer gesien, is bloedbelope van die lang reis met min slaap. Sy moes boonop ure lank op lughawens rondsit. Dit was ’n verligting toe haar toerbus by die rivierhawe in Moskou aankom, om op die skip te kan klim en te weet sy hoef nie meer haar swaar tasse rond te sleep nie.

      Dit is die eerste reis waartydens sy ’n weduwee is. Sy en Albert het verskeie kere saam gereis en dit was altyd so lekker. Sy probeer haar treurigheid die soveelste keer wegdink: Dit gáán leersaam en lekker wees, en Rusland het haar nog altyd gefassineer – die land van die skatryk, eksotiese tsaars, so ’n kleurryke verlede.

      Albert het dié reis al verlede jaar beplan en hul plekke bespreek nadat een van sy pasiënte so hoog opgegee het oor die ervaring. Toe is Albert agt maande gelede aan ’n hartaanval dood. Laura het dit oorweeg om die reis te kanselleer. Naderhand het sy besluit om dit nie te doen nie, want sy het gedink dit kan terapeuties wees.

      Sy het hul praktyk op Stellenbosch verkoop, besluit om te reis en oorsee te locum. Ver van die bekende plekke wat haar so pynlik aan Albert herinner.

      Toe sy as jong dokter met Albert getroud is – ’n algemene praktisyn wat baie ouer as sy was – wou sy nie daaraan dink dat hy lank voor haar kon doodgaan nie. Sy het hom liefgekry as man en bykanse vaderfiguur, as tere minnaar en as kollega. Hulle het nie kinders gehad nie. Hier waar sy nog nie oor sy dood kon kom nie, is haar emosionele toestand broos. Sy kyk tam om haar rond in die skip se ontvangslokaal.

      Sy het in Londen by die toergroep aangesluit en tot dusver het sy nie regtig met die ander mense gemeng nie. Naby haar is drie opvallende reisigers. Hulle lyk nie verkreukel en moeg soos al die ander nie. Sy wonder of hulle werklik deel is van die toergroep – sy kan hulle nie van die vlug vanaf Heathrow onthou nie. Dit lyk na die soort mense wat eerder besigheids- of eersteklas sou vlieg. Aan hul baie ligte velle skat sy hulle kom uit die noordelike halfrond.

      Die middeljarige vrou is deftig en dra baie blink juwele. Haar dik swart-en-grys hare is in ’n Franse rol en haar tweed-klere is opmerklik van hoë gehalte. Diamante blits behoorlik aan haar vingers. Die jonger vrou skat Laura in haar twintigs. Sy is klein, slank, blond en besonder mooi, maar sy lyk bleek en nie juis gesond nie. Die man, wat Laura so by die dertig skat – haar eie ouderdom – is opvallend, steurend aantreklik. Sy oë is bykans turkoois en sy hare pikswart en blink. Hy is lank en lenig, sy gesig fynbesnede. Tog is hy besonder manlik. Sy voete is groot, sy lang vingers is goed versorg. Sy ontspanningsdrag is duur en sit net reg aan sy lenige lyf.

      Hemel, sy moet ophou staar! Netnou kom die mense dit agter en dan is dit ’n verleentheid, met die reis wat nog voorlê. Dié groepie is egter so treffend dat ander mense ook omdraai om na hulle te kyk. Ongetwyfeld is hulle welvarend en baie stylvol.

      Die ouer vrou kyk Laura nou hovaardig takserend aan – sy hoop nie hulle het gesien sy staar nie! Sy lyk vir Laura na ’n snob. Die jonger een kyk anderpad, maar Laura betrap haar dat sy haar een keer met skrefiesoë bestudeer. Die man kyk ernstig en takserend na die mense om hom, maar nie met dieselfde houding van meerderwaardigheid as die ouer vrou nie. Hy het nie die selfbewuste arrogansie van iemand wat weet dat sy voorkoms bewondering of nydigheid uitlok nie.

      Hy moet met die jong vrou getroud wees, besluit Laura, en die ouer vrou is haar ma, sy lyk na haar. Laura probeer ringe aan die mense se vingers sien. Daar’s niks aan die man se ringvinger nie, maar nie alle mans dra trouringe nie. Die jong vrou is duidelik dolverlief op hom. Sy kyk met bykanse aanbidding na hom. Laura het lanklaas sulke openlike verliefdheid aanskou.

      Dit maak haar hartseer, want haar eie liefde het uit haar lewe verdwyn en daar is ’n leegte in haar hart. In haar klein kajuit gaan sy heeltemal alleen wees. Daar is niemand om haar indrukke van die reis te deel nie, en die bietjie wat sy tot dusver van Rusland gesien het, het haar reeds soveel aangegryp dat sy graag met iemand daaroor wil praat.

      Hopelik maak sy vriende op die reis. Sy kry dit gewoonlik reg om mense na haar aan te trek. Albert het altyd geterg dat sy ’n beter bedside manner het as hy.

      Suutjies beweeg sy nader aan die drietal sodat sy kan hoor hoe en wat hulle praat.

      “Ek is bly julle handhaaf nog ons ou Russiese tradisies,” sê die ouer vrou, wat proe-proe aan die broodjie met sout wat een van die bemanningslede nederig-vriendelik vir hulle aanbied terwyl sy oë na die mooi blondine draai.

      “Is mevrou dan Russies?” vra hy verbaas in Engels met ’n swaar aksent, want die vrou se Engels was vir seker die koningin s’n.

      “My mense het van St. Petersburg gekom,” sê sy. “Die Baltikovs. Hulle was uit die aristokrasie en moes vlug toe die Revolusie in 1917 uitgebreek het.”

      Die bemanningslid grinnik, half oorbluf. “O, e . . . ek sien.” Hy beweeg vinnig weg met sy brood en sout.

      “Hy en sy soort is waarskynlik kommuniste,” spot die ouer vrou. “Dié dat ek hom so skrikmaak.”

      “Nie noodwendig nie,” sê die man in ’n diep, melodieuse stem. “Dinge verander in Rusland.”

      Laura moet brood en sout neem by ’n man wat voor haar kom staan het. “Dankie, dit is wonderlik om so verwelkom te word,” glimlag sy.

      Hy glimlag terug, maak ’n kopknik. Dan beweeg hy traag aan en kyk nog ’n slag glimlaggend om na haar. Hy is nog betreklik jonk, maar sy hare is staalgrys. Hy dra ’n uniform en Laura wonder watter soort offisier hy is.

      Spoedig gaan die mense na hul kajuite of om die skip te verken. Laura gaan pak uit in haar kajuit, stort en was haar hare. Toe sy klaar is, en baie varser voel, kyk sy na haar toerbrosjure. Oor ’n uur moet sy by die saal op die vyfde dek wees sodat die toerdirekteur die passasiers aan die kaptein en offisiere kan voorstel, almal saam ’n skemerkelkie kan geniet en die reisplan bespreek kan word.

      * * *

      Laura staan eenkant in die saal met haar glas vonkelwyn en bekyk die mense. Waar sou daardie indrukwekkende drietal wees? Sy hoop hulle kom na die skemerpartytjie, hulle is interessant om na te kyk. Veral die man is sag op die oog.

      Sy kan mans beoordeel en aantreklik vind sonder om hulle te begeer, vertel sy haarself. Daardie swarthaarman is nie iemand wat ’n mens maklik kan miskyk nie. Die vroue op die toer gaan beslis kyk en seker met hom probeer flankeer. Sy mooi, blonde vrou – of meisie – gaan nie daarvan hou nie. Maar nou ja, sy is self mooi genoeg om die mans se aandag te trek.

      Die toerleier roep om aandag. “Dames en here, vir diegene wat nie saam met ons gevlieg het nie en my nog nie ken nie, ek is Tatiana Beresova, jul toerleier. Hierdie twee here langs my is kaptein Oleg Kaminski en eerste offisier Ivan Blasovic. Dié skip is ons hotel in Moskou én ons vervoermiddel. Julle gaan julle verstom oor die mooi en historiese plekke op ons reis. Oor vyf dae kom ons in St. Petersburg aan, waar julle op die skip sal bly tot die einde van jul toer. Ek hoop julle sal ’n heerlike, leersame en gesellige reis hê en ons Russiese kookkuns en besienswaardighede baie geniet.”

      Terwyl Tatiana kortliks vertel van die plekke waar hulle aan wal sal gaan, let Laura op dat die opvallende drietal taamlik naby haar staan. Sy het hulle nie sien inkom nie. Al drie lyk vars en elegant.

      Ná ’n paar tellings betrap die man haar dat sy hulle staan en ontleed. Hy knik. Sy knik vinnig terug en kyk weg,