François Bloemhof
1
Bome, bome, bome
Tiaan en Rolf sit op die agterste sitplek en lyk gespanne. Hulle pa ry vinnig, al is die pad nat. Elke nou en dan is daar ’n weerligstraal en grom die donderweer.
Daar kom dit weer – die weerlig skiet uit die lug soos ’n silwer swaard en dan is daar ’n geluid soos iets groots wat keel skoonmaak.
“Het jy geskrik?” vra Rolf met ’n spottende klank in sy stem.
Tiaan vererg hom sommer. “Ek skrik net elke keer as ek jou gesig sien, dis al.”
Rolf lig net sy wenkbroue en antwoord nie sy broer nie.
Hy wat Tiaan is, weet hy dink te veel oor goed. Soos nou; hy is bang hulle kan dalk ’n ongeluk maak, al weet hy sy pa is ’n goeie bestuurder. Daar moet olie op die nat teer wees, en dan gly ’n mens mos maklik . . .
Hy en Rolf is ’n tweeling, maar nie identies nie. Hy het ligte hare en blou oë, terwyl Rolf se hare en oë donker is – en daar is min sake waaroor hulle eenders voel. Toe Rolf so pas met hom gepraat het, was dit die eerste keer in ’n lang ruk dat hy iets gesê het. Die twee van hulle het stry gekry voor hulle by die huis weg is. Rolf het die meeste van die tyd net voor hom sit en uitstaar, in ’n wêreld van sy eie
“Julle moet julle gedra by tant Olga,” sê hulle ma. Sy draai in haar sitplek om en kyk hulle streng aan.
“Ja, julle tante is maar ’n moeilike entjie mens,” merk hulle pa op. “So sit maar julle beste voetjie voor.”
Die twee knik net en Tiaan druk sy hand teen die ruit. Dis ysig koud buite en die reën trek lang trane oor die glas.
Hy kan nie veel van die omgewing deur die wasige ruit sien nie, maar hy maak tog ’n klomp bome uit. Dis net bome waar jy kyk. Bome, bome, bome. En hulle lyk almal eenders.
Hy en Rolf moet ’n week lank by tant Olga gaan bly terwyl hulle ouers by ’n kongres in Johannesburg is. Dis vakansie en hulle het baie daarna uitgesien. Maar toe kom die nuus dat hulle na hulle tante toe moet gaan. Hy en Rolf wou alleen by die huis bly, maar hulle ouers wou niks daarvan weet nie. En nou gaan hulle ’n oppasser hê.
Boonop ’n weird oppasser . . .
Hulle het tant Olga nog net een keer ontmoet, vier jaar gelede toe hulle in graad vyf was. Sy het ’n donkerpers rok gedra en haar hoedjie het ’n sluier gehad, sodat hulle skaars haar gesig kon sien. Tiaan kan eintlik nie glo tant Olga en sy ma is susters nie, sy is net só anders.
“Ons is amper daar,” sê hulle pa en trap die versneller nog dieper in. Hy is duidelik haastig om daar te kom.
Die reën val nou sagter. Regs van hulle sien hulle ’n groot woud met digte bome en blare. Dit lyk soos ’n soliede muur.
“So, dís hoekom hulle dit Donkerwoud noem,” sê Tiaan.
Rolf antwoord nie en staar net by die venster uit.
Hulle ry nog ’n paar kilometer totdat die paadjie nouer word en hulle pa stadiger moet ry.
Dan sê hy skielik: “Daar is die plek.”
“Jig!” roep Rolf uit.
Tant Olga se huis sit aan die kant van die woud en is so versteek tussen die bome dat Tiaan dit skaars kan sien. Dit is van hout gemaak en pas perfek by die omgewing aan.
“Moet ons vir ’n week dáár bly?” wil Rolf weet.
“Sien jy enige ander huise hier rond, dommie? Natuurlik is dit waar ons gaan bly,” sê Tiaan sarkasties.
“Julle weet mos tant Olga hou nie juis van mense nie. Sy verkies om so ver moontlik van die beskawing af te wees,” sê hulle ma.
“Ja, maar . . .” Tiaan het nie besef die plek sou só afgesonder wees nie. Hier is nie eens ’n kafee nie.
Hulle ma probeer hulle moed inpraat: “Julle sal nie verveeld wees nie, hier is baie plek om lekker dinge te doen.”
Dan hou hulle stil. Of Tiaan en Rolf nou van die plek hou of nié, daar is geen kans meer vir omdraai nie . . .
2
Die ligblou figuur
Die motor se enjin is skaars afgeskakel, of tant Olga kom by die voordeur uit. Om haar skouers is ’n pers tjalie en sy dra groot goue oorringe soos ’n sigeuner.
Sy groet hulle kortaf. “Bring julle tasse. Julle wil seker koffie hê,” is al wat sy sê, en hulle volg haar by die huis in.
Dit is net so koud binne soos buite. Swaar, donker gordyne hang voor die vensters en in al die vertrekke brand kerse. Die kerse is in houers wat teen die mure vas is, en die vlammetjies dans en gooi lang skaduwees.
Tant Olga gaan kombuis toe en ’n paar sekondes later hoor hulle die geluid van water wat in ’n ketel getap word.
Rolf sak in ’n stoel neer en hy sien net stof trek. “Jig!” sê hy.
Sy ma lig haar vinger waarskuwend.
Tiaan is te rusteloos om te sit. Hy dwaal tot by ’n venster en trek die gordyn weg. Al wat hy sien, is bome en nogmaals bome. Dit lyk asof groen en bruin die enigste kleure in die wêreld is.
Maar . . .
Hy trek sy oë op skrefies. Het hy iets gewaar? ’n Ander kleur tussen die bome . . .
Sy asem wasem teen die ruit en hy kan nie behoorlik sien nie. Vies vee hy oor die glas. Daar, tussen twee bome, iets ligblous . . .
Dan is dit weg. Hy frons en vee weer oor die ruit, maar daar’s niks.
“Wat staan jy so by die venster, Tiaan?” vra sy pa. “Kom sit hier by ons.”
“Ek staan sommer net en kyk na die woud, Pa.” Tiaan kyk weer stip na die plek waar hy iets gesien het, maar daar is nou niks. Het hy hom nie maar net verbeel nie?
“Is hier ander mense hier rond?” vra Tiaan toe tant Olga die sitkamer binnekom. Sy dra ’n skinkbord met ’n koffiepot en bekers, teelepels en melk en suiker.
“Nee, hier is nie,” antwoord sy toe hulle pa die skinkbord by haar vat. “Nie vir kilometers nie.”
“Maar ek het iemand daar tussen die bome gesien.”
“Bog.” Sy gee ’n snaakse laggie en loop om die gordyn toe te trek. “Hou dit asseblief toe, die lig is te skerp vir my ou oë.”
Skerp? Hy lag amper. Die groot bome gooi lang skaduwees oor die huis en dit lyk amper skemer op die werf.
“Kom sit. Drink jou koffie,” sê tant Olga, nou minder stroef.
“Dankie, tannie.”
“Noem my tant Olga,” sê sy. “Jy weet mos.”
Die koffie proe bitter. Dis nie naastenby so lekker as wat dit geruik het nie, maar Tiaan sê niks.
Ook Rolf is stil. Hy drink nie sy koffie nie en sit net daar soos ’n zombie en staar in sy koppie.
Daar wás iemand, dink Tiaan. Maar wie?
“Nou ja, ons moet weg wees,” sê hulle pa en staan op toe sy koppie nog nie eens behoorlik leeg is nie.
Toe hulle groet, fluister hulle ma vir hulle: “Julle moet julle gedra, en geen gebakleiery nie. Julle is gaste hier en moenie dit vergeet nie.”
Die motor trek weg dat die modder so spat en die tweeling staan hulle en agterna kyk.
“Ek hoop julle kan julleself besig hou. Julle het seker boeke saamgebring,” sê tant Olga, en haar