Die sneeuslaper. Marlene van Niekerk. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marlene van Niekerk
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798153478
Скачать книгу

      Marlene van Niekerk

      Human & Rousseau

      Die swanefluisteraar

      ’n Intreerede

      Geagte Rektor, Dekaan, kollegas, vriende en familie,*

      Wat doseer ’n mens as jy ’n dosent is van Skeppende Skryfkunde? Gaan dit oor die ware, oor die goeie of oor die skone? Betref dit kritiek of fantasie of geloof? Wat is die nut van die letterkunde, die waarde daarvan op die groot doek van menslike inspanninge? En miskien moet ek vra: Is ’n verhaal iets wat ’n mens kan troos?

      Ek wil nie voorgee dat ek op hierdie vrae die antwoorde het nie. Wat ek met u wil deel vanaand, is ’n ervaring waardeur hierdie soort vraag vir my ontersaaklik geword het. Dit betref ’n briefwisseling wat ek met ’n student gehad het – ek noem hom Kasper Olwagen – of liewer, ’n korrespondensie wat hy met my gehad het, want ek het nooit teruggeskryf nie.

      Miskien, het ek gedink, sal hierdie hele episode vir my duidelik word as ek die volgorde van my student se vreemde posstukke en my reaksies daarop noukeurig rekonstrueer; meer nog, as ek dit doen voor ’n kritiese gehoor.

      Die uurglas loop leeg, oordeel self. Ek lê die bewyse aan u voor.[1]

      Die eerste stuk wat ek van Kasper in my posbus gekry het, was ’n brief, as ’n mens dit ’n brief kan noem. Sewe-en-sestig bladsye. Ek lees vir u die eerste paragraaf sodat u ’n idee kan kry van waarmee ek te doene gehad het.

      Bed B

      Saal 1002

      Intensiewe Sorgeenheid

      Academisch Medisch Centrum

      Amsterdam

      24 Februarie 2002

      Beste professor Van Niekerk

      Soos u kan aflei uit die adres, skryf ek aan u vanuit ’n situasie van persoonlike krisis. Lyntjiespapier, lekkende balpunt, infuus in my handrug, kateter in my lelie. Ek weet seker dat so ’n brief, na al die jare wat u my gortdroë manuskripte moes lees, die laaste ding is wat u van my verwag. Ek weet ook dat u u skryfstudente by voorkeur op ’n afstand hou, omdat u in elk geval voortdurend hulle saai en kwalik verhulde ontboeseminge moet lees. Nie dat u ooit in al die jare van my studie so iets van my hoef te gevrees het nie, maar die uur van waarheid (tempus fugit!) het nou aangebreek. Ek ken u goed genoeg om te weet dat ek u nie sal verveel met wat ek op die hart het nie. Maar, soos u altyd sê, geen begeerte sonder tegniek, alle waarheid moet gebring word. Daarom sal ek – so goed en so sleg as wat hierdie genre van spontane mededeling genaamd “brief” dit toelaat – die vermanings in gedagte hou wat u altyd in u weerhaakskrif op my manuskripte neergepen het. Cut to the chase, Kasper! Maak korter sinne, Olwagen! Suggereer, moenie interpreteer nie, stick to the knitting, oriënteer jou leser in tyd en ruimte, lieg, maar moenie bedrieg nie!

      Teen laasgenoemde, teen ’n aanklag van bedrog, wil ek my by voorbaat verweer. Hoewel ek pas drie dae gelede bygekom het uit wat die verpleegkundiges hier as ’n “lallende delirium” beskryf, en nog steeds vir waarneming in die intensiewe sorgeenheid gehou word, het ek konkrete bewyse dat ek nie gedroom het wat met my gebeur het nie. Ek is in die besit van die jas, die skoene, miskien die tong van iemand anders, maar laat ek u nie op die verkeerde spoor bring nie. Ek verseker u dat ek tans nie die energie het om wolhaarstories te fabriseer nie.Trouens, as my wedervaringe in Amsterdam van enige nut was, dan was dit om my te genees van my ambisie om fiksie te skryf. Hiermee gee ek dan ook kennis: ek staak die kursus. Jammer oor u kosbare tyd. Maar mag ek voorstel dat u hierdie skrywe sien as ’n vorm van skadevergoeding? Dit sal my naamlik nie verbaas as u my relaas wil aanwend vir die een of ander van u duistere doeleindes nie.

      *

      Kasper Olwagen – so sal ek hom noem – was dertig jaar oud toe hy hierdie brief geskryf het, reeds afgestudeer in die filosofie. ’n Skraal, bleek vent met intense oë, ’n hoë voorkop, ’n gevoelige mond. Goed versorg, sy hande veral, ’n huid gevoelig vir son en koue. Daar was iets tentatiefs aan sy bewegings, sy neusvleuels was die hele tyd in beweging asof hy die lug op die ligste sweme takseer. Hy het die indruk gewek van breekbaarheid. Sy bynaam onder sy klasmaats was Meneer Xenos. Hy was intelligent, obsessief, menssku, ’n boekwurm wat effens gelispel het wanneer hy senuagtig of opgewonde was. Daar was iets ouwêrelds aan sy manier. Vir afsprake het hy ’n onderbaadjie gedra, ’n donkerrooi strikdas, sy vulpen in die binnesak van sy baadjie. Ek onthou hoe hy dit altyd uitgehaal het om ’n nota te maak in sy klein swart boekie, talmend, asof hy eers aan sy hart wou raak.

      Op my aanbeveling het Meneer Xenos in die jaar 2001/2002 tydens die plaaslike somerreses drie maande lank in die buite-land deurgebring. Ek het toevallig gehoor van ’n beurs van die Stichting Literaire Activiteiten Moederstad – moederstad synde Amsterdam – ’n beurs en ’n woning beskikbaar vir ’n jong ongepubliseerde skrywer uit Suid-Afrika. Ek het gedink dis net die ding vir hierdie kandidaat. Blootstelling aan ’n stimulerende omgewing, en, daarby, druk van sy Nederlandse gashere om iets tot stand te bring. Druk van my kant af het in ieder geval geblyk volledig teenproduktief te wees. Hy was naamlik een van die studente wat maar steeds nie sy skryfprojek vir die MA-kursus kon voltooi nie, gehinder soos hy was deur langdurige skryfblokkasies. Ek het geraai dat dit ’n kwessie was van oorgevoeligheid vir kritiek, vervreemdheid van sy leeftydsgroep, verwarring oor die Suid-Afrikaanse werklikheid, perfeksionisme, ipekonders. Hy het gely aan wat hy genoem het ’n “murmurende hart” – eerder onderdrukte libido, het ek destyds vermoed. Maar na wat met hom gebeur het, lyk my projeksies misplaas. Met hom was daar iets gaande wat buite my bevattingsvermoë lê.

      Die dag toe ek die brief gekry het, het ek net hierdie eerste twee paragrawe gelees en dit opsy gesit. Ek self het toe nog fiksie geskryf, was in die laaste pylvak met ’n roman, die voorfinale hersiening, rondom my die gebruiklike chaos van daardie stadium in die skryfproses – bevrore maaltye van Nice and Easy, ongewaste skottelgoed, ’n muis in die kombuis, eekhorings op die plafon, ’n oorwoekerde tuin, inflammasie in my pols van die ander muis – ek het eenvoudig nie die nut daarvan gesien om verder tyd te bestee aan ’n probleemstudent wat wil staak nie. Waarom het ek hom nie probeer oortuig om sy besluit te heroorweeg nie? Wel, ek was moeg van sukkel met Kasper Olwagen. In die vyf jaar dat hy ingeskryf was, het hy sy werk altyd laat ingelewer, oorgedetailleerde stukke, vol inligting en toeligting waarin absoluut niks gebeur het nie. “Gebruiksaanwysings!” het ek altyd op sy werk geskryf, “Skrap onnodige besonderhede.” Sy ander probleem was diepsinnigheid. Dikwels het hy die kernvraag van die etiek behandel: Wat is ’n goeie mens, hoe moet ’n goeie mens lewe? Maar dan altyd in die vorm van onverteerbare allegorieë. By elkeen van sy moralistiese sinnebeelde het ek in die kantlyn geskryf: “Skrap die idees.” Hy kon maar steeds nie ’n verhaalmatige versoening vind tussen besonderhede en betekenis nie. Kasper Olwagen is ’n filosoof, het ek gedink, nie ’n skrywer nie.

      Maar goed, hier was dan nou ’n brief uit Amsterdam, met ’n eerste paragraaf wat popel van aptytwekkers. Hoekom het ek nie verder gelees nie? Wel, ek was besig. Ek het ’n kaartjie in die pos gegooi: “Spoedige beterskap, dankie vir jou vermaaklike brief, ek teken jou af by die administrasie. Vriendelike groete.”

      Twee weke later het die brief weer onder ’n stapel papiere te voorskyn gekom, en ek het gedink, laat ek liewer hierdie dokument op lêer bewaar, mens weet nooit. En dis toe ek gate daarin pons dat my oog val op die volgende paragraaf. Ek was geïrriteer daardeur, sulke vrypostigheid vind ek onaanvaarbaar van ’n student. Luister net hierna.

      Professor, ek verstaan nog nie alles wat met my gebeur het in hierdie stad nie; trouens, dit is nog steeds aan die gebeur. Ek is verbysterd soos ek hier in my hospitaalbed lê, en ek glo dat u ook verbysterd sal wees wanneer u aan die einde van hierdie brief kom, selfs al is u werksaam aan ’n institusie van hoër onderwys waar daar vir verbystering, vir vrees en fassinasie, vir ootmoed en ontsag as menslike moontlikhede, geen ruimte meer bestaan nie. Oor ’n maand keer ek terug na Suid-Afrika. By wie anders as u sou ek kon bieg oor die voorgevoel wat ek het oor my lot? Soos u weet, is ek ’n alleenloper. Alleenloper! Hoe twyfelagtig is hierdie begrip nie! Niemand is alleen nie, ’n onsigbare lint verbind ons almal en dit is net ’n kwessie van tyd voordat ons teenoor mekaar te staan kom en vra: maar ken ek jou nie van iewers vandaan nie? Toegegee, my verhouding tot u skyn daar geensins ’n voorbeeld van nie, professor. Maar mag ek tog sê dat ek