Titelblad
RONELDA S KAMFER
grond/Santekraam
KWELA BOEKE
Opdrag
Vir Nathan
gaan i
ons moet gaan
die heeltyd ons
moet gaan
teenwinde hou
ons trug
maar gaan
is wat
ons moet
gaan weer
en weer
mettertyd gaan
ons moet
grond
die klippe hou grond aan die aarde vas soos ’n mat
eendag lank gelede was daar
’n berg
die berg het die grond aan
die aarde
vasgehou soos ’n mat met klippe
aan
sy hoeke eendag toe gebeur daar
iets
hy wat die berg is
verloor sy konsentrasie
met dié word ’n stukkie van sy
grond
deur die wind opgetel en weggewaai
dis
toe so dat dié spesifieke
stuk
grond nie sy bewoners
kon behou nie
hy het nie daai ding wat
grond moet hê vir mense nie
Klippenkust
wanneer die son soggens skeel
opkom en sy strale die baster-
see splinter sien die mense
van Klippenkust die silwer strepe
wat vêr strek strek vanuit uit die hemel
en hulle sien hulle sien hoe
die Arniston uit die see uitrys
en trug seil Ceylon toe
hulle sien hoe die see-
spoke miswolke word en smelt
die mense sien mekaar almal sien
vir Sara die Slimvrou voor haar kooi
kniel en ’n klein kapsule onder haar
kant van die matras uithaal en skelm
sluk terwyl haar man haar enigste
enigste man Kêns Terence salig
droom droom van die drie mooi
meerminne wat hom van die dood
gered het toe hy vyf dae lank op Vler-
kies sy erfstukbootjie alleen die siek
swart see ingedryf het Sara die Slim-
vrou het alleen in haar huisie gesit
en wag gewag vir haar enigste enigste
man om nooit ooit weer trug
te kom nie sy wou hê die see moes hom
vat maar toe kom hy trug seniel
stukkend met sy mooi meerminstories
Sara die Slimvrou lees nie meer tee-
blare nie sy hoor nie meer
die wind sing nie soggens maak
sy haar kombuisvenster
oop en sukkel
om die wraak-blind seereuk te sluk
sy bots met die see die see
wat Kêns Terence vir haar trug gegee
het
die mense van Klippenkust sien
alles hulle sien vir Mooi Mitchy
Mitchell met sy mooi maer meisie
die mense sien
hoe hy sy
oë vryf en saggies
uit die kooi klim
op sy tone
toilet toe trippel
die mense sien veral
hoe Mooi Mitchy Mitchell
sy mooi maer meisie se onderklere
uit die wasmandjie haal
en hoe hy dit aantrek hulle sien
hoe hy in trane uitbars
terwyl hy in die spieël
kyk die mense sien hoe Mal Maria
met die sluitel om haar nek halflyf oor
haar kombuisdeur hang die mense
van Klippenkust
sien hoe oom Grootvis Visser
douvoordag
op sy stoep sit
sit en trug dink
dink aan
sy pa dink aan sy ma en dink
aan ’n tyd toe die see nog kon
praat en al die wêreld se stories
onder in die water
gebly het hy dink aan die stemme in sy are
oom Grootvis Visser dink aan sy mense
die mense en die santekraam
gaan ii
vergaan
vêr gaan
tydelik is alles
ver-heen en ver-weer
gaan daarmee heen
verlelik is goed
met
die tyd wat vêr van goed
was
sovêr
so vêr
Insha’Allah
miskien sal daar weer
’n wind kom
’n wind groot genoeg
en lief genoeg
grond genoeg
om my trug te
waai na waar
ek ook eenmaal dik
bedonnerd gebore is
Insha’Allah
gaan iii
heen is
waar ons moet gaan