Vier seisoene kind. Wilna Adriaanse. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Wilna Adriaanse
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Эротическая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624051756
Скачать книгу

      Vier seisoene kind

      Wilna Adriaanse

      Tafelberg

      Vir my ma,

      omdat sy vir my haar liefde vir boeke gegee het

      Bedankings

      My opregte dank aan die volgende persone:

      Margit Meyer-Rödenbeck: Sy was bereid om vir my ’n kykie in die wêreld van teaterrestaurante te gee. As die boek dalk ’n verdraaide beeld weergee, lê die fout egter by my.

      Gian Groen: Vir die gebruik van sy titel “Vier seisoene kind”. Dié treffende lied sal altyd vir my ’n besonderse betekenis hê.

      Im (Naudé) du Preez: Dat Cato ’n stukkie van haar onblusbare gees kon steel.

      Anna Solms: Vir die inspirasie in haar uitsonderlike tuine.

      Jan en Kobá Solms: Vir Cato se huisie onder die bome.

      Madri Victor: Vir ’n altyd gewillige oor en die deurlees en kommentaar. Dit word opreg waardeer.

      Jomarié Dick en Theunis Engelbrecht: Vir hul skerp oë.

      Susan Bloemhof: Vir haar keurige bladuitleg en omslagontwerp.

      Etienne Bloemhof: My bekwame uitgewer. Omdat hy van die begin af geglo het Cato en die bottel Veuve Clicquot het ’n storie. Maar veral vir sy ondersteuning, raad en kundigheid. Ons verbintenis bly vir my ’n voorreg.

      My vriende: Omdat hulle altyd daar is as ek terugkom uit die land van stories en omdat hulle my lewe kleurvol maak.

      My ouers, skoonouers en familie: Dat hulle geduldig met my en lief vir my bly, ten spyte van al die afskeeptye. En veral vir al die gebede.

      My seuns, Cobus, Jaco en Johann: My eerste linie van hulp. Van rekenaarsmarte tot musiekvrae en alles tussenin. Julle laat my slim lyk en maak my sterk.

      My man, Deon: Vir sy vertroostende teenwoordigheid, aweregse humorsin, wye kennis en geduld. Maar veral omdat hy my weer laat glo het ek kan dit doen.

      1

      Ek is ’n weduwee. Cato sit terug en bekyk die vier woorde op die bladsy. Dis ’n sin, besluit sy. ’n Sin met ’n werkwoord. Nie ’n abstrakte konstruksie nie. Bo dit, op haar to do-lys, staan geskryf: Bankbestuurder. Blyplek. Vervoer. Daar moet ander dinge wees wat sy op haar lys kan skryf, maar op hierdie oomblik kan sy aan niks dink nie. Dalk moet sy vervoer bo blyplek inskryf. Wat is die belangrikste wanneer ’n mens ’n nuwe lewe begin? Wiele of ’n woonplek? Hoe beplan ’n mens aan die onbekende? Op ’n muur naby hulle woonstel het iemand geskryf: The cloud of unknowing. Is dit waarna hy verwys het?

      Weduwee. Sy skryf die woord dwarsoor die to do-bladsy. En onder dit: O wee die wee. ’n Verdrietige naam vir ’n verdrietige toestand. Waarom nie huppel nie? Ek is ’n huppel, skryf sy skuins teen die bladsy af. Huppel is ’n aksie, terwyl weduwee ’n passiewe vonnis is. Sy verstaan deesdae waarom die weduwees in die Bybelse tyd so ’n bejammerenswaardige klomp was. Hoe uitsigloos was hulle bestaan nie. Hulle was nie huppels nie. Hulle was afhanklikes. Die weduwees en die wese. Nog ’n verdrietige woord. Maar ís dit so ’n onbenydenswaardige posisie? Gestroop. Sonder verpligtinge. Afhanklik. Geen besluite of toekomsplanne. Geen hoop. Dis swaar wanneer jy agterkom êrens in jou het ’n stukkie hoop agtergebly. Hoop is ’n wrede emosie. Veral as jy nie eers weet waarop jy hoop nie.

      Sy kyk deur die klein venstertjie, die nag in. Die elektroniese kaart voor in die kajuit wys dat hulle ’n rukkie gelede die Middellandse See oorgesteek het en nou ’n klein flikkerende liggie in die donker Afrika-naghemel is. In een nag gaan hulle woestyne, reënwoude en savannavlaktes oorsteek. Die menslike liggaam kan al vinniger as die spoed van klank beweeg, maar het iemand al gemeet of die menslike gees kan bybly? Waarom voel dit dan vir haar of sy vanaand net uit vlees bestaan?

      Sy kyk op toe die vliegtuig ’n effense ruk gee en sien hoe die man langs haar na die volgeskryfde bladsy kyk.

      Sy wil dit omdraai, maar hy leun nader, druk met sy vinger op die bladsy en lees verder. Toe hy klaar is, sit hy weer terug in sy sitplek.

      Cato kyk verbaas na hom, maar hy drink weer aan sy drankie terwyl hy sy boek verder lees.

      Hy moet haar verbasing aanvoel, want hy kyk na haar met ’n skouerophaling. “Dit het interessanter gelyk as die boek wat ek lees.” Hy praat Afrikaans.

      “En nou is jy nuuskierig.”

      Hy skud sy kop en gaap agter sy hand. “Nie so erg dat ek jou gaan uitvra nie, want dan is ek vir die res van die nag dalk jou gyselaar.”

      Cato kan nie help om liggies te glimlag nie. Hy herinner haar aan haarself, ’n eeu of twee gelede, voor Neil haar die woord “diplomasie” geleer het.

      Na ’n rukkie draai hy skielik na haar toe. “Oukei, vertel my waarom het jy so ’n vreemde to do-lys.”

      “En wat as ek jou vir die hele nag gyselaar hou?”

      Sy skouers roer en sy mond pruil effens asof hy dink. “Ek sal die kans vat. Ek het al erger beleef.” Hy maak die boek toe. “En die boek is in elk geval baie vervelig.”

      Cato maak ’n paar krabbelpatrone op die bladsy. “Ek ís ’n weduwee. Maar ek weet nie waarom ek dit neergeskryf het nie. Miskien wil my onderbewuste hê ek moet dit swart op wit sien sodat ek kan ophou om myself allerhande dinge te verbeel.”

      Sy wag dat hy wegdraai, maar hy doen dit nie.

      “Hoe lank is jou man al dood?”

      “Drie maande. Hy was in ’n motorongeluk, een aand op pad van die werk af. Die pad was nat en ’n vragmotor in een van die ander bane het gegly en ’n kettingbotsing veroorsaak. Hy was ’n aktuaris.” En as nagedagte: “Ongelukke gebeur met slim mense ook, het ek uitgevind.”

      Toe hy niks sê nie, vra sy: “Gaan jy nie sê jy is jammer nie?”

      “Sal dit help?”

      “Nee, maar dis wat almal sê.”

      Dis so ’n eenvoudige sin. Met haar ma se dood het sy dit die eerste keer gehoor en gewonder waarom almal dit sê, asof hulle aandadig was. Maar deesdae weet sy dis uit magteloosheid, want wat anders is daar om te sê? Hou moed, dit sal beter gaan? Jy sal hieroor kom? Voor in die tonnel sal weer ’n lig skyn?

      “Kom kuier jy?”

      “Ek is sak en pak op pad terug Suid-Afrika toe. Dis seker ironies dat ek teruggaan terwyl almal daar probeer wegkom. Dis soos om in ’n eenrigtingstraat teen die verkeer in te ry.”

      “Soms is dit juis waar die opwinding lê. Om teen die stroom te gaan.”

      Cato skud haar kop. “Makliker gesê as gedaan. Veral as dit ’n vreemde pad is en jy bang is jy verdwaal of ry teen ’n afgrond af. En stroomop klink meer idillies as wat dit is.”

      “Jy’s te jonk om dit te sê.”

      “Is ek nie te jonk om ’n weduwee ook te wees nie?”

      “Shit happens.”

      Cato glimlag skeefweg. “Dit kan jy weer sê.”

      Hy roep die lugwaardin nader en bestel vir hulle wyn. Toe Cato se wenkbroue lig, sê hy skouerophalend: “Versterking.”

      “Is jy jammer jy het gevra?”

      “Ja.”

      “Ek het die afgelope paar maande gewens mense wil nie so nice wees nie, maar nou is ek dankbaar almal was nie so reguit soos jy nie. Miskien moet ek net ’n slaappil drink en hopelik van beter dae droom.”

      “Daar is nie so iets nie. Dis ’n illusie waarmee mense hulself troos.”

      “Sjoe, die meeste mense sou ten minste vir my gesê het ek moet probeer om moed te hou.”

      “Sou jy hulle geglo het?”

      “Dis irrelevant. Dis wat jy veronderstel is om vir iemand soos ek te sê.”

      “En wat is jy veronderstel om met