Absoluut Einstein. Christien Neser. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Christien Neser
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780624090410
Скачать книгу
tion>

      

      Tafelberg

      Vir Minka en die meisies van Ashton

      ⋅ 1 ⋅

      Simone: “Ek het haar gesê sy moenie vir VLR staan nie. Net gatkruipers wil op die leerlingraad wees. Maar nee, wat weet ou Simone nou?”

      “Vrekkit! Kan oom Joof nie sy voet op die petrol sit nie? Net die gedagte aan Paap gaan my ’n aar laat bars.” Dylicia voel asof ’n horde rysmiere haar van binne af vreet. Die neus van haar regterskoen is al nerfaf teen die randsteen geskop. Sy weet dit help absoluut niks nie, maar sy kan nou spykers hoes van haas. Die bus is al sewentien minute laat. Parkrand Hoërskool se uithangbord by Busstop 4, die laaste een op die roete, hang aan net een geroeste skakel bo haar kop. Sou Paap weet hoe toiingrig dit lyk noudat die skool se naam so windskeef hang?

      Hoog tyd dat iemand iets daaraan doen.

      “Iemand?” hoor sy Paap se stem. Dis nou meneer Papenfus. Oepsie, doktor Papenfus. Die geraamde sertifikaat hang blinknuut in sy kantoor, en hy laat mens dit nie sommer vergeet nie. “Iemand en Almal en Hulle. Die universele sondebokke. Húlle het dit vergeet, álmal doen dit of dat. Nee, mense. Jy is tot die Verteenwoordigende Leerlingraad verkies en dit impliseer dat jy nou iémand is.”

      Oe a ê-ê. Sug. Sal sy nou wraggies die een word wat met ’n tang en ’n rol draad elke slap naambord gaan regruk?

      Nie sommer nie, want sy is uitgesonder deur sy edele die adjunk-hoof vir ’n spesiale projek: die nuwe seun wat vandag by Parkrand begin. Paap sê hy neem Kuns en Robotika soos sy en dis haar plig, nee, haar projek, om hom te help inskakel.

      Sy kon ’n wawiel doen van blydskap. Dis stukke beter as kleedkamerdissipline.

      Dylicia kyk op haar horlosie. Dis nie meer snaaks nie, oom Joof!

      Sy verskuif die draband van haar portfolio met sketse na haar linkerskouer, want sy was van plan om gou by die kunsklas verby te gaan op pad na Paap se kantoor.

      Juffrou Dommisse gaan trou en dis haar laaste dag voor sy vir die res van die jaar met verlof gaan.

      Dylicia kan skree van blydskap, want die doodnormale, vaal kunsjuffrou het die laaste drie maande in ’n draak ontaard, ’n opregte Bridezilla wat vuur spoeg. Laas Vrydag het sy ’n paar mense se sketse stukkend geskeur en gegil dat hulle praktiese werk moet in wees vóór die einde van vandag, of dis ’n ronde nul. Sy sal dit wraggies doen ook, sonder om ’n oog te knip.

      Die nuwe kunsjuffrou sal met ’n swart kat op ’n besem moet invlieg as sy kwaaier as Bridezilla wil wees. En as oom Joof haar nóg vyf minute laat wag, gaan sy self ook in ’n heks verander.

      Maar dan, asof uit die niet, swaai die skoolbus agter ’n vragmotor uit en skuur amper die velle van haar kniekoppe af.

      “Netjiese stoppie daai, oom Joof. My neus was amper weg.” Sy swaai haar rugsak en haar kunstas tot op die boonste trappie. “Laat waai, asseblief? Ek is in my kanon in laat.”

      “Die verkeer, juffie. Die verkeer,” maak oom Joof verskoning. Maar hy word oombliklik doodgeskree deur die klomp rampokkers in die tweede ry van voor.

      “Delicious!” skree die spul soos ’n swak spreekkoor. Die graadneges. Die Vuilhonde. Haar klasmaats.

      ⋅ 2 ⋅

      Simone: “Ek weet regtig nie wat die seuns in haar sien nie. Sy’s ’n geek! Ek meen, sy het netbal gelos om robotte te bou. Hoe weird is dit nie?”

      “Delicious! Jy sit langs my.” Henco, die ene draadbek, praat eerste.

      “Nee, hierso! Delicious, hier’s jou plek. Kalla sit in die paadjie.” Bees, met sy bolwange, druk die skraal Kalla met sy elmboog van die bank af. Kalla gaan sit met ’n hik op die busvloer.

      Dylicia buk, kry Kalla aan sy mou beet en trek hom op. Dewald Basson steek sy voet voor Kalla in. Hy struikelval tot in Dylicia se arms.

      “Kalla en die delicious monster.” Dewald. Sarkasties, soos gewoonlik. “ ’n Nuwe bangmaakstorie vir kinders.”

      “Goeie een, ou Dewald,” bulk Bees.

      “Ek en Kalla sit voor by oom Joof.” Sy sleep die maer outjie tot reg langs die busbestuurder.

      “Watchit, Kalla. As jy met Delicious kanse vat, gee sy jou naam vir die Paap,” bulk Bees Bolwange.

      “Jy breek my hart, Delicious! Is dit daai fancy schmancy balkie van jou?” kwaak Henco vals.

      Die balkie. VLR. Sy vryf oor die buitelyn van die stukkie materiaal wat haar ma met netjiese stekies vasgewerk het. Dit sit knus onder die skoolwapen op haar baadjiesak.

      Wat ’n gedoente!

      Vandat sy laas Maandag met die balkie en die nuus by die voordeur ingestap het, is haar ma op die foon. Die lyne, die satelliete, die optiese kabels, wat ook al tussen Johannesburg en Ashton loop, het sedertdien oortyd gewerk. Die predikant, die skoolhoof, elke juffrou wat sy nog gehad het, die bure. Almal op Ashton is teen dié tyd seker lekker dik vir haar ma.

      Want ma Felicia het die krane groot oopgedraai.

      “Dis soos ek sê, antie Dollie. Die kind is nog nie eens ’n jaar in die skool nie en hulle kies haar op die leerlingraad. Ja, ja. Hier kies hulle junior prefekte uit elke standerd. Dis ’n yslike skool, ja, oor ’n duisend. En sy kom uit ’n dorpie waarvan niemand hier nog ooit gehoor het nie. Dis mos alte spoggerig vir ’n kind van Ashton, of hoe?” Dieselfde storie, oor en oor.

      Spoggerig? Regtig?

      Intussen is Simone kwaad vir Dylicia. Hulle sit nie meer pouses saam onder die boom nie. Sy kan verstaan dat haar bestie net haar oë rol wanneer die interkom aangaan en die kantoortannie soos klokslag die VLR vra om pouse iewers te gaan aanmeld.

      En elke keer wat sy kantoor toe geroep word, koggel die Vuilhonde haar: “Ashton se liggie! Ons klas se pliggie!”

      Sy kan dit hanteer. Maar Kalla Verdoorn?

      “Kalla,” sê sy sag vir die maer outjie langs haar. “Jy moenie vir jou laat boelie nie. Jy is goed genoeg nes jy is.”

      Hy knik.

      “Maak asof hulle nie bestaan nie. En moet asseblief nie soos hulle probeer wees nie.”

      Hy knik weer.

      “Jy’s slim. Doen jou eie ding. Eendag gaan die hele spul Vuilhonde nog vir jou werk. Hulle gaan jou menéér Verdoorn noem. Beter nog, doktor Verdoorn.” Sy gee hom ’n speelse elmboog in die ribbes.

      Sy wange bloos babapienk. “Miskien,” sê hy sag. “Kom jy Roboklub toe vanmiddag?”

      Dylicia glimlag. Die robotika-geeks kom twee middae ’n week bymekaar. Daar’s altyd iets om te bou, want daar is elke naweek kompetisies waaraan hulle kan deelneem. Die nasionale Lego Robofest is die groot een waarvoor al die spanne werk.

      “Vir seker. Maar net as jy vir my ’n pienk melkie koop. En as jy my met Spider-Girl sal help?”

      Spider-Girl is haar robot. Op die oomblik is sy nog net ’n lelike Lego-spinnekop. Maar met Kalla se hulp, gaan sy haar pote leer gebruik. Elke poot moet afsonderlik kan beweeg en klein voorwerpies optel. En sy moet reg wees vir meneer Barnard en die Robofest. Dylicia is die enigste meisie in die Robotika-klub en sy het baie om te bewys.

      “Enige tyd, Delicious.” Kalla se glimlag is breed.

      Delicous. Nie Dyllie soos in haar ou skool nie. Delicious. Die naam klou aan haar soos hondebol in die groefies van ’n tekkiesool. Toe sy laas jaar, halfpad in die tweede kwartaal, by die skool instap, het die ding begin.

      By die skool se adminkantoor moes sy sê waarvandaan sy kom. “Ashton, juffrou,” het sy mooi hard geantwoord.

      “Waar? Ek kry dit nie op my rekenaar nie,” het die vrou met ’n diep frons gevra en rondgesoek. “Spel dit, asseblief?”

      “A-s-h-t-o-n,