Harry Griesel 2: Die spookplaag. Sonja Kaiblinger. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Sonja Kaiblinger
Издательство: Ingram
Серия: Harry Griesel
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798175388
Скачать книгу
>

      SONJA KAIBLINGER

      Die Spookplaag

      Met illustrasies deur Fréderic Bertrand

      Afrikaans deur Irma Badenhorst

      Human & Rousseau

      Die ongenooide spook

      “Otto! Joe-hoe, is jy doof?” kraai ’n stem. “Opstaan, op­staan! Uit die bed uit!” Iets swiep deur Otto se hare en plons langs hom op die kussing neer. Otto maak sy oë op ’n skrefie oop. Vincent, sy troeteldier-vlermuis, sit voor hom.

      Otto brom ongeduldig, draai om en druk sy gesig dieper in sy kussing, terwyl hy sy oë styf toeknyp. Hy was in die middel van ’n spannende droom en wou graag weet wat volgende gaan gebeur.

      Grieselgryper Harry het hom na die Oorkant saamgevat. Maar hulle het nie die grieselrige roete gevat nie; hulle het sommer deur die ingang in die staanhorlosie gestap en in ’n kitsch, bont land agter die wolke beland, wat Otto op ’n manier aan Alice in Wonderland laat dink het.

      Vandat Otto toevallig met ’n regte, egte Grieselgry­per bevriend geraak het, droom hy baie van Harry en sy avonture. Harry het nog nie vir Otto saamgevat na die Oorkant toe nie, maar ’n paar weke gelede het hulle Philippe Bleu, die eienaar van ’n pretpark en boonop ’n spookdief, se besigheid laat vou. Selfs Vincent het vir ’n verandering gehelp en iets beteken. Intussen is hy ongelukkig weer sy ou self … ’n regte pyn!

      “Toe kom nou!” skree Vincent en spring op en af op Otto se kussing. “Kyk hoe laat is dit al. Eerste periode: biologie. Toe, toe, toe – wikkel, slaapkous!”

      Skielik voel Otto ’n skerp steekpyn in sy oorlel.

      Hy vlieg op en gluur woedend na sy troeteldier. “Eina, Vincent, is jy mal? Jy’t my gebyt!”

      Vincent grynslag, jy sien net vampiertande. “Ek is enige wekker se moses!”

      “Jy’s seker nie lekker nie!” Otto wys na die venster. “Dis nog stikdonker buite. Mens kan nog die volmaan sien.”

      “Nonsens! Dis al sewe-uur in die oggend,” hou Vincent hardkoppig vol en vou sy vlerke.

      “Dis nog donker”

      “Dis al oggend!”

      “Donker!”

      “Oggend!”

      “Hou jou bek!” Otto gaan lê weer op die bed. Hy gaan wraggies nie twee- of drie-uur in die oggend opstaan en skool toe gaan, net omdat ’n grootbek vlermuis dit so verkies nie. Vincent het al erger poetse as dít gebak.

      “Hoor jy, Otto,” Vincent swaai sy een vlerk voor Otto se neus rond, “die staanhorlosie in die sitkamer het nou net begin slaan.”

      Otto luister aandagtig. Een, twee, drie … Hy tel sowaar sewe slae.

      Vincent kyk triomfantlik na hom. “Sien jy nou? Jy behoort teen hierdie tyd te weet dat tannie Sharon se horlosies nooit verkeerd is nie. Sy stel hulle elke aand.”

      “Ag, oukei.” Otto sug en kom orent in die bed. As Vincent reg is, is hy reg. Otto se tannie versamel allerhande horlosies wat bekend is daarvoor dat hulle tot op die sekonde reg tyd hou. Maar hoekom maak die staanhorlosie in die sitkamer of dit al oggend is, as dit buite nog stikdonker is? Iets is nie lekker nie.

      Otto besluit om te gaan kyk wat aangaan. Hy kruip teësinnig uit die bed en loop met die trappe af sitkamer toe.

      Hy kan sy oë nie glo nie. Die horlosies wys almal verskillende tye! Volgens die groot staanhorlosie is dit sewe-uur. Die wysers van die koekoekhorlosie wat langs Otto teen die muur hang, wys dis middernag. Die houtdeurtjie gaan oop en die koekoek skree sy longe twaalf keer uit, terwyl die wekker van ’n digitale horlosie se alarm dieselfde tyd begin raas. Die syfers wys dis halfses in die oggend. Dis baie vreemd!

      “Goeie genade. Watse onaardse lawaai is dit?” Sir Tony duik langs Otto op. Hy dra gestreepte pajamas en ’n slaapmus met ’n tosseltjie op sy kop en hou ’n kers in sy hand. “Is die koekoek koorsig?”

      Sir Tony is een van die huisspoke wat in tannie Sharon se villa bly. Otto is die enigste een wat hulle kan sien. Hy het nie die vaagste benul hoekom hy hierdie bui­tengewone gawe het nie, maar hy is heeltemal oukei daar­mee.

      Sir Tony, Bert en Molly is glad nie grillerig nie; net baie veeleisend. Veral Sir Tony, wat dink hy is die eienaar van die huis. Dis waarom hy altyd ondersoek instel na alles wat verdag lyk.

      “Ek het self nie ’n idee wat hier aangaan nie.” Otto haal sy skouers op en skakel die lig aan om beter te kan sien wat fout is met die koekoekhorlosie. Op die oog af lyk die lelike ding heeltemal normaal. “Tannie Sharon se horlosies is nooit stukkend nie. Wat gaan aan?”

      Otto se woorde is nog nie koud nie, toe daar ’n rukwind deur die vertrek waai. Die kroonkandelaar rinkel en oom Archibald se foto langs die venster hang skielik skeef. Otto is die ene hoendervleis.

      “Miskien is dit Bert en Molly wat ons ’n poets wil bak,” sê Otto en krap ingedagte sy kop. Sy ander twee huisspoke gedra hulle baie keer soos twee stout kinders, maar vir tannie Sharon se horlosies het hulle gewoonlik ’n heilige respek.

      “Ek dink nie so nie.” Sir Tony skud sy kop. Skielik val die porseleinbeeldjies wat op die laaikas staan, op die vloer; kompleet asof ’n spookhand hulle afgooi. “Die twee gedra hulle gewoonlik nie soos poltergeeste nie.”

      Otto sien uit die hoek van sy oog hoe iets by die kaggel verbyflits. Die volgende oomblik draai die wysers van tannie Sharon se kaggelhorlosie in die teenoor­ge­stelde rigting.

      Otto dink skielik aan iets anders. “Miskien … het ons hier met ’n ander spook te doen.” Hy trek sy oë op skrefies, maar sien niks nie.

      Sir Tony lig sy welige wenkbroue. “ ’n Vreemde spook? Hier tussen my vier mure? Nee kyk, ek sien hom sommer gou-gou reg.” Hy sweef tot op die kaggelhorlosie en rek sy nek. “Wie is jy om sonder toestemming in Sir Tony se villa in te kom? Dis huisverstoring!”

      Eintlik is dit al lankal nie meer Tony se villa nie, maar tannie Sharon s’n. Otto weet uit ondervinding om Sir Tony nie te onderbreek nie.

      In plaas daarvan om te antwoord, slaan die staanhorlosie in die hoek so ’n snaakse, dowwerige slag. Die wysers draai in teenoorgestelde rigtings.

      “¡Cállate! Hou jou mond, vetsak!” weerklink ’n giggelende stem uit die staanhorlosie. Verbeel hy hom, of hoor Otto ’n Spaanse aksent?

      Die volgende oomblik spring ’n skraal man uit die horlosie en gaan staan selfversekerd voor Sir Tony.

      “Die is nou mý spook-casa! My naam is Fernando, die stier­vegter van Sevilla.”

      Die spook praat met ’n rollende “r” en stoot sy ken uit om ’n beter indruk te maak.

      “Die vet bulle waarteen ek al geveg het, laat jou soos ’n louwarm Tortilla lyk!” roep hy uit.

      Die spook is omtrent so groot soos Otto, het pikswart krulhare, ’n lang weglêsnor en dra ’n kostuum met goue versiersels. Met ’n blitsvinnige handbeweging haal hy ’n rooi doek uit en swaai dit voor Sir Tony se neus heen en weer. “¡Arriba!”

      “Goeie genade!” Sir Tony rol sy oë en kyk neerha­lend na die nuwe kêrel. Hy oorweeg dit nie eens om die astrante vent te antwoord nie. “Watter onnosele Grieselgryper het jou hier vergeet? Ek is seker Harry was al weer te lui –”

      “Wag ’n