Veldiep. Fanie Viljoen. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Fanie Viljoen
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780624085386
Скачать книгу
ection>

      

      VELDIEP

      Fanie Viljoen

      Tafelberg

      Vir Marita en Willie van Aswegen

      wat een aand my lewe gered het.

      1

      WANNEER DIE WÊRELD GAAN STAAN

      “Ek het iemand anders ontmoet, Tim,” sê Jessica.

      Tim Muller sit roerloos op Hoërskool Caldwell se paviljoen. Net sy inmekaargevlegte vingers trek saam toe hy die woorde hoor, en in sy keel maak sy asem ’n sagte plofgeluid.

      Jessica staan voor hom: kort, donker krulle in haar bleekmooi nek, haar oë net so bruin en haar lippe rond, sag en rooi. En nou ook verraderlik.

      Op die rugbyveld daar anderkant, agter Jessica se rug, speel van die ouens rugby. Hulle roep opgewonde na mekaar en probeer ’n laaste drie inkry voor die skoolklok lui.

      Hiervan sien Tim niks. In ’n oomblik het sy wêreld tot stilstand gekom. Dit trek kleiner totdat daar niks meer oorbly nie behalwe die pyn wat sy hele lyf toerank. Hy staar voor hom uit, deur die pyn.

      “Wie is dit?” vra hy uiteindelik sag.

      “Dis net ’n ou,” antwoord sy ontwykend. “Ek is jammer,” sê Jessica voor sy omdraai en wegstap. Van hóm af wegstap.

      Dis hoe dit eindig.

      “Jess,” roep Tim. Dis die naam wat hy vir haar gefluister het wanneer hulle alleen saam was. “Jess, ek is lief vir jou.” Dis wat hy dan gesê het. Toe was die wêreld nog groot. Haar naam het dit só laat voel. Oneindig en ewig.

      Maar vandag stap sy van hom af weg en is haar naam soos ’n bitter plek op sy tong.

      Sy draai nie terug nie. Sy kyk nie om nie. Sy los hom daar, al het hy haar lief.

      “Ek het iemand anders ontmoet, Tim.” Haar woorde kom na hom toe terug, en wéér tref die gedagte hom soos ’n vuishou. Die intensiteit daarvan maak hom lighoofdig. Hy byt die trane weg wat dreig om te kom. Hy wil huil. Ouens is nie veronderstel om dit te doen nie, maar stuff dit. Hy wil.

      “Dis net ’n ou.”

      Die belaglikheid daarvan maak vraagtekens in sy kop. Hy is lief vir haar en sy los hom vir “net ’n ou”.

      Tim vee oor sy oë.

      Die skoolklok lui. Op die rugbyveld draf die ouens ’n laaste paar treë. Hulle skouers val en stadig draai hulle na die klaskamers toe. “Môre speel ons verder,” roep een.

      Môre voel vir Tim soos ’n vloek.

      Hy wil sy lewe terugdraai na vanoggend toe alles nog oukei was. Nee, dan bluf hy net homself. Vanoggend was dinge beslis nie oukei nie. Hy moes vanoggend al gesien het daar is iets verkeerd. Jessica het haar lyf van hom af weggedraai toe hy haar ’n vinnige soen op die wang wou gee. Hy moes haar nader getrek en haar tóé gesoen het. As hy meer oplettend was, sou hy die teësin in haar lyf gevoel het, maar hy het nie. Hy het vanoggend nog gedink alles is oukei.

      Jis, hy was blind.

      As hy die tyd nie na vanoggend toe kan terugdraai nie, dan eerder verder terug na verlede week of verlede maand. Hy het haar gevat vir ’n piekniek langs die dam op die wildlewe-landgoed waar hulle woon.

      Hy en Jess was alleen daar. Die dag was blink en helder. Sy ma het hom gehelp met die eetgoed en die mooi glase en borde. Jessica het daardie dag gelag en in sy arms gelê. Hy het haar happies kos gevoer.

      Haar vingers het sy gesig verken. Sy het een liggies in die kuiltjie in sy wang gedruk. “Alle engele het dimples,” het sy gesê.

      “Hoe weet jy dit?”

      “Wat anders kan jy wees?” het sy geterg. Later het haar vingers sy oë bereik. Sy het ’n liedjie van Coldplay begin sing: “Honey you should know that I could never go on without you. Green eyes, green eyes …” Haar stem het soos asem in hom kom lê.

      Hy het sy kop oor haar gebuig en haar op haar voorkop gesoen en toe op haar mond. Haar lippe was sag en agterna het sy vir hom geglimlag. Hy het in haar oë gekyk en hy was gelukkig.

      Nou wil hy daardie oomblik terughê. Elke dag wil hy net dáárdie oomblik hê.

      “Jessica,” sê hy sag, en haar naam voel soos dié van ’n vreemdeling. Hy gaan dit nooit weer sê nie. Nee, hy gáán – ’n miljoen keer in sy kop – en steeds sal dit die hartseer nie wegvat nie.

      2

      ALLES IS OUKEI

      Tim wag tot al die ouens klas toe is voordat hy van die paviljoen af opstaan. Hy stof sy sitvlak af en haal ’n paar keer diep asem, maar dit help nie veel om van die morbiedheid ontslae te raak nie. Só het hy nog nooit gevoel nie.

      Hoe gaan hy deur die res van hierdie skooldag kom? Vier periodes strek voor hom uit. Afrikaans, Lewenswetenskap en ’n dubbelperiode Wiskunde – die kersie op die misbaksel van ’n dag.

      Op die stoep voor die Afrikaansklas oorweeg hy dit nog om nie in te gaan nie. Dalk kan hy net iewers op die skoolgrond gaan sit totdat die dag verby is.

      Dan kom die Afrikaansonderwyser se streng stem uit die klaskamer: “Kom, Tim, ek wag nie vir jou nie!”

      Die onnie het sy kop seker bo die hoë vensterbank sien uitsteek.

      “Flippit,” sê Tim sag. Nou het hy nie ’n keuse nie. Hy moet ingaan. Hy voel die onderwyser se oë op hom brand toe hy die klas binnestap.

      “Maak julle handboeke oop op bladsy een-en-vyftig,” grom die onnie.

      “Hei, wat gaan aan?” fluister Edgar toe Tim by die lessenaar inskuif.

      Edgar en Tim ken mekaar al van laerskool af. Daar het hulle elke pouse saamgespeel, was hulle saam in elke skoolkonsert en saam by elke sportgeleentheid. En natuurlik saam in die moeilikheid wanneer hulle nie saam ’n plan gemaak het om dit te ontduik nie.

      Edgar het in ’n stadium baie kom oorslaap. Tim het eers later uitgevind hoekom. “My pa-hulle baklei,” het Edgar sag in die donker slaapkamer gesê.

      Net daardie drie woorde, en daarna ’n sug.

      Die volgende dag kon Tim sien dit was ’n verligting om daardie swaarheid aan iemand te kon erken.

      ’n Maand later het nog ’n erkenning gekom. Dit was weer net drie woorde. “Hulle gaan skei.”

      Tim het dadelik geweet wie die “hulle” was waarvan Edgar praat. Die egskeiding het aan Edgar gevat.

      Elke keer wanneer Tim daaroor gevra het, het Edgar gesê: “Ek deal daarmee.” En hy het.

      Vandag maak sy ma hom groot. Sy pa, ’n motortegnikus, betaal ’n skrapse onderhoud. Edgar sien hom elke tweede naweek, maar soms net een keer per maand, want hy het iemand anders ontmoet. Sy is nou prioriteit.

      Intussen sukkel Edgar en sy ma voort, maar hulle deal daarmee.

      Terug in die Afrikaansklas fluister Edgar weer: “Hei, Tim, ignoreer jy my? Ek vra wat aangaan?”

      Edgar weet wanneer daar fout met Tim is.

      Tim kan niks vir hom wegsteek nie. Tog probeer hy. “Niks, Ed, alles is oukei.”

      “Ek hoop nie ek is eendag só oukei nie.”

      “Ons praat later, reg so?”

      Edgar kyk hom bekommerd aan. Hy knik.

      Tim buk en haal sy taalhandboek uit sy tas. Bobaas-Afrikaans Graad 11. Die skrywers van die boek het gedink dis ’n bobaasidee om elke afdeling van die boek met “bobaas” te begin. Bobaassinonieme, bobaasafkortings, bobaaswoordsoorte.

      Tim se boek lyk nog feitlik nuut. Hy praat mos elke dag Afrikaans, hy hoef dit nie nog te leer ook nie. Lusteloos begin hy deur die boek blaai.

      “Een-en-vyftig,” fluister Edgar vir hom en wys die plek waar die onderwyser lees.

      “Een-en-vyftig,”