Christine le Roux
Keur 4
Liewe onskuld
Om lief te hê
’n Veilige hawe
Human & Rousseau
Hoofstuk een
Olivia Joubert skuif reg op die stoel, oorweeg dit om haar bene te kruis en besluit daarteen. Sy kyk af na haar skoot, skiet ’n wolletjie van die knie van een swart kous af en kyk vlugtig weer na die man oorkant haar. Hy het sy stoel skuins geswaai en kyk by die venster uit terwyl hy oor die telefoon praat. Sy weet nie waarna hy kyk nie; buite die groot venster is net ’n ander hoë gebou sigbaar. Die lug lyk na modder, maar dis die skuld van die getinte vensters.
“Ek is baie jammer,” sê die man skielik en sy kyk op. Hy praat nou met haar, nie meer oor die telefoon nie. Hy staan op, kom om sy lessenaar en skud haar hand. “Ek is Nicolas Steytler.”
“Aangename kennis,” sê sy en kom ook effens orent. “Ek is Olivia Joubert.”
“Ek is jammer oor die gesprek,” sê hy en wys na die telefoon. “My sekretaresse moes nie –”
“Dis alles in orde,” sê sy vriendelik. Dis heerlik warm in sy kantoor, sy wil eintlik haar baadjie uittrek. Waar die hitte vandaan kom, weet sy nie, sy sien geen verwarmers nie. Seker onder die vloer, die plek lyk luuks genoeg.
“U is hier in antwoord op my advertensie,” sê hy.
“Dis reg.”
Hy sit effens terug in sy stoel en die stoel knak gewillig agtertoe om hom te akkommodeer. Olivia neem afgunstig kennis hiervan. Sy wou nog altyd so ’n stoel gehad het – ’n stoel wat hom inrig volgens jou behoeftes.
Nicolas bestudeer die meisie voor hom. Sy is die sesde applikant sedert sy advertensie verskyn het. Daar was al vyf middeljarige of bejaarde dames. Twee het hy onmiddellik geskrap omdat hulle gewoon nie opgewasse sou wees teen die eise en aktiwiteite van twee klein kindertjies nie. Een het vir hom presies reg gelyk en hy het haar aangestel vir ’n proeftydperk van twee weke. Dit het gelyk of die kinders van haar hou en hy het net begin ontspan totdat hy een aand by die huis gekom het en byna verstik toe hy die voordeur oopstoot. Eers het hy gedink die huis is aan die brand, maar toe hy kombuis toe storm, het hy die oorsaak van al die rook gekry.
Wat oorspronklik in die kastrol was, weet hy nou nog nie. Miskien groente, miskien vleis. Wat oor was, was ’n swart verbrande klont. Onherkenbaar en onnoembaar. Mevrou Voster was in haar kamer, ’n leë jenewerbottel langs haar op die mat. Dit het ’n dag gevat om haar sober genoeg te kry sodat hy haar in die pad kon steek en ten minste ’n week voor die haglike reuk van verbrande kos uit die huis en al die kombuiskaste en gordyne gewas was.
Met die volgende kandidaat was hy versigtiger. Sy eerste vraag was nou of die persoon drink, maar selfs dit het nie gehelp nie. Juffrou Koster was volgende, ’n ongetroude dame in haar vroeë vyftigerjare. Tydens die onderhoud het sy innemend voorgekom en hom oor en oor verseker dat sy dol is op kinders en ’n uitstekende kok daarby.
Die laaste gedeelte was waar. Hy het elke aand aangesit by ’n tafel wat so mooi gedek was dat hy gedink het hy eet in ’n restaurant. Daar was vars blomme, die huis het geskitter alhoewel hy haar verseker het dat die versorging van die huis nie deel van haar pligte was nie. Sy het hom trots gewys watse koekies sy vir die kinders gebak het. Gemmerbroodmannetjies en hasies en muise gemaak van malvalekkers. Hy sou haar seker as die ideale oppasser beskou het as hy nie een middag kort na middagete by die huis aangekom het om ’n lêer te kry wat hy vergeet het nie.
Die huis was so skoon soos altyd; uit die kombuis het die wonderlikste geure gekom – al het hy pas klaar geëet, het hy sy maagsappe voel roer by die vooruitsig aan wat die aand vir hom wag. Maar die huis was ook onnatuurlik stil afgesien van die geneurie uit die kombuis. Hy wou haar nie steur nie en het die trappe twee-twee opgespring om die lêer by sy bed te gaan kry. En hy wou darem net die kinders groet.
Hulle kamers was toe en toe hy aan Emma se deur vat om dit oop te stoot, het hy tot sy skok gesien dis aan die buitekant gesluit. Dieselfde met Nicky se deur. Die kinders het doodstil op hulle beddens gesit en na hom gekyk met groot, angstige oë.
“Wat de ongeluk gaan hier aan?” het hy gebulder toe hy by die kombuis instorm.
“Meneer Steytler,” het sy gesê en geglimlag. “Kyk net na die rooiwynsous wat ek maak vir die –”
“Ek gee nie om vir die sous nie! Waarom is die kinders in hulle kamers toegesluit?”
“Ag,” het sy ewe vriendelik en onverstoord gesê. “Dis makliker, dan hoef ek nie te wonder waar hulle is en of hulle in gevaar verkeer nie. Hulle is veilig en ek kan aangaan met my werk.”
“Jou werk is om hulle op te pas, nie om te kook nie!”
Juffrou Koster is die volgende dag weg, baie gekrenk en verontreg.
Die volgende kandidaat was so senuagtig dat sy nie kon stilsit nie. Buitendien was sy so swaar gegrimeer dat hy seker was sy gaan meer aandag gee aan haar gesig as aan die kinders.
En nou sit juffrou Joubert hier. Hy is klaar mismoedig; sy is te jonk.
“Hoe oud is u, juffrou Joubert?” vra hy.
“Vier en twintig. En u?”
Hy is so verbaas dat hy antwoord. “Agt en dertig.”
“H’m,” sê sy. “En die kinders?”
“Emma is ses en Nicky vier.”
“Gaan hulle al skool toe?”
“Emma is in graad een en Nicky gaan kleuterskool toe.”
“Hoekom?” vra sy.
Hy staar na die groot blou oë wat na hom kyk. “Hoekom wat?” vra hy geïrriteerd.
“Hoekom gaan Nicky kleuterskool toe? Hy behoort nog by die huis te speel.”
“Omdat daar niemand is om hom op te pas nie,” sê hy ergerlik. “Dit het u miskien ontgaan, maar dis waarom ek iemand soek om na hulle te kyk.”
“H’m,” sê sy weer. Dan glimlag sy skielik en hou haar vinger in die lug. “Mag ek iets raai? Ek dink ek is nogal goed om mense se beroepe te raai.”
Hy is so verstom dat hy nie antwoord nie, en hy sit net na haar en kyk. Sy lyk vir hom na ’n ballerina. Sy is van medium lengte, maar geweldig fyn gebou. Haar donker hare is strak van haar gesig weggekam en agter teen haar kop in ’n stywe bolla vasgedraai. Waar dit ander mense oud kan laat lyk, beklemtoon dit haar fyn gesig en laat haar lyk soos ’n kind wat aantrek soos haar ma. Nie dat sy outyds geklee is nie, allesbehalwe. Sy dra ’n roomkleurige truitjie wat styf om haar bolyf pas, ’n kort swart baadjie hieroor en ’n kort swart rompie. Die swart kouse en plat enkelsteweltjies, maar veral die manier waarop sy haar bene vou, het die grasie van ’n balletdanseres.
“’n Advokaat,” breek sy deur sy gedagtes. “Ja. Ek kan u sien staan in ’n swart toga, hande geklem om die lapelle, oë op die beskuldigde.”
Sy lippe trek effens. “U is heeltemal reg, ek is ’n advokaat.”
Sy haal haar fyn skouers op. “Sien, ek is altyd reg.”
“Juffrou Joubert,” sê hy. “U is hier om aansoek te doen vir ’n pos en ek is ’n baie besige man.” Hy kyk na die kristalhorlosie op sy lessenaar. “Ek moet nou-nou in die hof wees. Kan ons voortgaan?”
“Natuurlik,” sê sy en verskuif van posisie. “En ek is nie ’n ballerina nie, ingeval u gewonder het. Almal dink altyd ek is een, maar dis verkeerd. Ek het wel ballet geneem toe ek klein was, maar ek het nie regtig die temperament nie; of die dissipline nie, veronderstel ek. Daardie ure se staan op jou tone en draai nou jou voet soontoe en vou jou handjies net só en –”
“Juffrou Joubert,” sê hy gebiedend.
“Jammer.” Sy glimlag stralend. Sy dra min grimering, behalwe miskien iets om die groot blou oë met hulle lang, donker wimpers. Haar naels is kort geknip en ongeverf. “Vertel my van die