Die De Zalze-moorde. Julian Jansen. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Julian Jansen
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9780624080992
Скачать книгу
n>

      

      Julian Jansen

      Tafelberg

      “Elke seun word êrens op sy reis na manwees gewond. Die wond kom altyd soos ’n pyl wat ons in die middel van ons hart, ons bron van krag, tref. Omdat daar selde oor die wond gepraat word, en dit nog meer selde genees, dra elke man ’n wond in hom saam. Dié wond is byna altyd deur sy pa toegedien.”

      – John Eldredge in Die ongetemde hart (2009)

      Opgedra aan my pa, Donald, daar bo

      1

      Die dag breek rooi

      IN ’N SLAAPKAMER op die boonste verdieping is die aanvaller berserk. Meedoënloos tref sy kragtige bylhoue die jong donkerkopman teen die kop. Hy is sterk en rats en oorrompel sy slagoffer vinnig, soos ’n roofdier sy prooi. Die jong man keer met sy hande, probeer wanhopig die houe afweer. Hy veg om die dood van hom weg te hou. Maar die dood is bo-op hom.

      Nog houe volg. En nog. Hy gryp na sy aanvaller. Swiepend tref die byl sy linkerhand. Die pinkie hang aan ’n vel. Bloed stroom teen sy nek af, oor sy kaal bolyf tot op sy bokserbroek.

      Hy strompel en val roggelend op sy maag. Sy liggaam kom aan die bopunt van sy bed tot rus, slap, leweloos.

      ’n Gryskopman storm die slaapkamer binne. Die nagmerrie waarvan hy wakker geskrik het, is g’n droom nie, maar doodsgille. Toe hy langs die bed waarop sy oudste seun lê tot stilstand kom, tref die bylhoue hom feitlik almal aan die agterkant van sy kop. Die dood kom vinnig.

      Sy vrou en hul tienerdogter hardloop angsbevange gangaf om met die trap na onder te vlug. Hulle moet verby die kamer waar die doodskrete nou stil geword het.

      Dan is die aanvaller voor hulle. Die ma loop hom tromp-op. Sy word op die neus geslaan. Toe mik hy met die byl na haar kop. Sy probeer met haar regterhand keer en die byl tref haar duim en die boonste deel van haar kop. Haar kop knak vorentoe. Nou is haar agterkop in sy visier. Die kaphoue tref met enorme geweld. Sy val.

      En staan nie weer op nie.

      Die byl wond die blonde meisie regs teen die kop. Sy sak ineen langs haar ma, haar nek-aar gedeeltelik af.

      ***

      Die somerson het al agter die Jonkershoekberge kop uitgesteek toe huishulpe kort ná seweuur in die De Zalze-gholflandgoed buite Stellenbosch werk toe stap. Hulle kan hul oë nie glo nie: Voor ’n dubbelverdiepinghuis in Goskestraat staan ’n halfkaal jong man met bloed aan sy lyf. Hy het net ’n grys slaapbroek en kort wit sokkies aan en is pal met sy selfoon doenig.

      Ál meer nuuskieriges staan nader terwyl die jongeling met die donkerblonde hare ’n ruk lank ’n foongesprek voer, maar hulle kan niks daarvan uitmaak nie.

      OPERATEUR: “Ambulansdienste, goeiemôre.”

      PHILANDER: “Môre. Janine 107. Ek praat met?”

      OPERATEUR: “Jy praat met Christi, Janine.”

      PHILANDER: “Christi, ek het ’n inbeller op die lyn. Hulle is van ’n soort wynlande daar in Stellenbosch, maar die adres is ’n bietjie moeilik. Uhm … drie volwassenes. Een minderjarige meisie. Een volwassene is op die lyn. Sy naam is Henri.”

      OPERATEUR: “Henri?”

      PHILANDER: “Ja. Hulle is nou met ’n byl aangeval. Geen verdagtes op toneel. Hy sê … Ek gaan julle nou konferensie, wil hê julle moet dit hoor. Hou aan. Henri?”

      HENRI: “Ja.”

      PHILANDER: “Ek het ambulansdienste op die lyn nou. So, hy het my ’n paar verskillende adresse gegee. Die een waarmee hy sal gaan, sê hy is 10 Allemannstraat. In Stellenbosch.”

      HENRI: “Ja. As julle na 10 Allemannstraat gaan. Gaan julle iemand daarheen stuur?”

      OPERATEUR: “Oukei, sê my: Wat is jou straatnaam?”

      HENRI: “My straat se naam is Goske.”

      OPERATEUR: “Oukei, die straat waar die incident is?”

      HENRI: “Ja.”

      OPERATEUR: “Oukei, wat is die straat se naam?”

      HENRI: “Goske. Goskestraat.”

      OPERATEUR (SPEL DIT): “G-O-S-K-E?”

      HENRI: “Ja. Goskestraat in Stellenbosch.”

      OPERATEUR: “Is dit ’n straatnaam?”

      HENRI: “Ja.”

      OPERATEUR: “Oukei, wil net gou uitvind. Hou aan vir my.”

      OPERATEUR AAN PHILANDER: “Kry jy daai straat?”

      PHILANDER: “Nee. Ek kry … ’n Bothasig in Milnerton.”

      HENRI: “10. As jy net … Nommer 10 Allemann is net verby my straat. As julle ’n ambulans stuur …”

      OPERATEUR: “Is dit Allemone of Allemann?”

      HENRI: “Allemann.”

      OPERATEUR: “Oukei, spel daai vir my gou. Ek wil net gou hier opskryf.”

      HENRI: “A-dubbel-L-E-M-A-dubbel-N.”

      OPERATEUR: “A-dubbel-N.”

      HENRI: “Allemann met twee N’e.”

      OPERATEUR: “Ek tel dit nie op nie.”

      PHILANDER: “Laat ek dit net hier op my ding skryf.”

      OPERATEUR: “Is dit nommer 10, nè? Al-le-mann.”

      HENRI: “Kry jy enige Allemannstraat? Jy kan enigiemand stuur en ek sal hom daar in die pad ontmoet.”

      OPERATEUR: “Allemanstraat. Nie Anemone. Dis Allemann?”

      HENRI: “Ja.”

      OPERATEUR: “In watter area van Stellenbosch is dit?”

      HENRI: “Haai. Dis in De Zalze.”

      OPERATEUR: “Ekskuus?”

      PHILANDER: “De Zalze.”

      HENRI: “Die naam is De Zalze.”

      OPERATEUR: “Watter area in Stellenbosch is dit?”

      PHILANDER: “De Zaltse. D-E Z-A-L-T-S-E.”

      HENRI: “Nee, D-E Z-A-L-Z-E.” (Philander spel saam met Henri)

      OPERATEUR: “Zalze. Oukei, gholflandgoed.”

      HENRI: “Dis ’n … dis ’n gholflandgoed.”

      OPERATEUR: “Oukei. Oukei, watter soort beserings is dit?”

      HENRI: “Uhm … my, my, my familie en ek is … was aangeval … deur … ’n man met ’n byl.”

      OPERATEUR: “Met ’n byl … Bewusteloos, huh?”

      PHILANDER: “Hulle is bewusteloos, sê hy.”

      HENRI: “Ja … en bloei uit die kop.” (Senuagtige laggie.)

      OPERATEUR: Oukei … die adres. Oukei, wil net die regte ding hier kry. Hou aan.”

      (Altesaam 23 sekondes verloop.)

      OPERATEUR: “Oukei. Hou aan. Jy sê dis 10 Allemannstraat … De Zalze-gholflandgoed in Stellenbosch, nè?”

      HENRI: “Ja.

      OPERATEUR: “Oukei, dankie, meneer, ons sal iemand stuur. Hou net jou selfoon oop, ingeval hulle verdwaal raak.”

      PHILANDER: “Oukei.”

      HENRI: “Oukei. Bel op my selfoon. Ek sal in die straat wees … die ambulans daar kry.”