Skepelinge
Aanloop tot ’n roman
KAREL
SCHOEMAN
Human & Rousseau
!GWĒ
The Bushmen’s letters are in their bodies.* They speak, they move, they make the Bushmen’s bodies move. The Bushmen order the others to be silent; a man is altogether still when he feels that his body is tapping inside. A dream speaks falsely, it is a thing which deceives. The presentiment is that which speaks the truth. The Bushmen perceive people coming by means of it. The Bushmen feel a tapping when other people are coming. Therefore we are wont to wait quietly when the sensation is like this, when we are feeling the things come, while the things come near the house.1
* ‘The word !gwē was used by the Bushmen to denote both letters and books. //kabbo explained that the beatings in their bodies here described are the Bushmen’s “letters”, and resemble the letters which take a message or an account of what happens in another place.’
DIEPTES
‘Dít was my droom. Ek was in ’n huis wat vir my vreemd was, wat twee verdiepings gehad het. Dit was “mý huis”. Ek was op die boonste verdieping. Dáár was daar ’n soort woonkamer waarin daar fraai ou meubelstukke in rokokostyl gestaan het. Aan die mure het daar kosbare ou prente gehang. Ek was verwonderd oor die feit dat dit veronderstel was om mý huis te wees en het by myself gedink: Glad nie sleg nie! Maar toe val dit my by dat ek nog nie geweet het hoe dit op die onderste verdieping lyk nie. Ek het by die trap af gegaan en op die grondverdieping beland. Dáár was alles veel ouer, en ek kon sien dat hierdie deel uit ongeveer die vyftiende of sestiende eeu dateer. Die inrigting was Middeleeus, en die vloer het uit rooi baksteen bestaan. Alles was nogal donker. Ek het van een kamer na die ander beweeg, en gedink: Nou moet ek die huis tog heeltemal verken!
‘Ek het by ’n swaar deur gekom, wat ek oopgemaak het. Daaragter het ek ’n kliptrap gevind wat na die kelder lei. Ek het afgedaal en my in ’n mooi gewelfde, besonder ouderwetse vertrek bevind. Ek het die mure ondersoek en vasgestel dat daar tussen die gewone messelklip lae baksteen aanwesig is; die messelkalk het baksteenfragmente bevat. Daaraan het ek herken dat die mure uit die Romeinse tyd dagteken. My belangstelling het nou sy toppunt bereik. Ek het ook die vloer ondersoek, wat uit plaveiklippe bestaan het. In een daarvan het ek ’n ring ontdek. Toe ek daaraan trek, het die klipplaat opgelig en opnuut was daar ’n trap. Dit was smal kliptreë wat in die diepte gelei het. Ek het afgedaal en ’n lae grot betree. Dik stof het op die grond gelê, met beendere en erdewerkskerwe daarin soos oorblyfsels van ’n primitiewe kultuur. Ek het twee klaarblyklik baie ou en half vervalle mensskedels ontdek.—Toe het ek wakker geword.’2
Hoe wetenskaplik my oorspronklike bedoelings ook was, kan die boek waarin hierdie proses vasgelê is dus nie anders as subjektief, eensydig en willekeurig wees nie, en die proses self is tentatief en aarselend, ’n huiwerige afdaal in die skag van die verlede. Werktuiglik het ek gaan sit om eenvoudige familiememoires op te teken, en tog is dit eggo’s van D.H. Lawrence wat dramaties of melodramaties by my opkom waar ek begin:
Reach me a gentian, give me a torch
let me guide myself with the blue, forked torch of this flower
down the darker and darker stairs, where blue is darkened on blueness,
even where Persephone goes …3
‘Hoe dieper ek kom,’ het Jung oor sy droom geskryf, ‘des te vreemder en donkerder het dit geword.’4
DEFINISIES
Eers is dit egter nodig om duidelik te maak waaroor daar gepraat word.
Die sewentiende eeu staan op geykte wyse bekend as Nederland se Goue Eeu, die eeu toe die Nederlandse provinsies hulle los geworstel het van Spaanse oorheersing, en as onafhanklike republiek fenomenale ontwikkeling op die gebied van handel en skeepvaart gemaak en vir hom kortstondig ’n handelsryk in Afrika, Asië en Amerika verkry het. Ook was hierdie jare van opbloei en vooruitgang ’n tyd van oplewing op die gebied van skilder- en beeldhoukuns, argitektuur, letterkunde en musiek. Die landjie van vissermanne en boere het uitgegroei tot wêreldmag náás Spanje, Frankryk en Engeland, en hierby het die provinsie Holland, waar die land se grootste en rykste stede geleë was, die voortou geneem.
Die vernaamste bron van Nederland se welvaart in hierdie jare was sy winsgewende handel met die Oossee en die Middellandse See, maar niks het die rykdom en trots van die eeu so treffend vergestalt nie soos die skouspelagtige werksaamhede van die Vereenigde Oostindische Compagnie (VOC), selfs al het handel met die Ooste in betreklik geringe mate tot die voorspoed van Nederland bygedra.
Soos ’n tydgenootlike digter die Bewindhebbers van die Kompanjie aangespreek het:
Schatrijke Heeren, die met Balsem en Kaneelen,
En Peerlen en gesteent, en andere kostlijkheden,
Getuigen van uw macht, zoo ver in ’t Oost verspreit,
Uw Voorraatschuren propt in ’s werelts andre deelen …5
Die VOC, binne eie geledere meestal as die ‘Edele Kompanjie’ aangedui, was ’n liggaam wat in 1602 van die Nederlandse State-Generaal ’n monopolie bekom het vir handel met Asië oos van Kaap die Goeie Hoop.
Die Kompanjie het bestaan uit Kamers in die Nederlandse stede Amsterdam, Enkhuizen, Hoorn, Delft, Rotterdam en Middelburg, en verteenwoordigers van die onderskeie Kamers wat as Direkteure van die liggaam opgetree het, was gesamentlik bekend as die Here XVII, of eenvoudig ‘die XVII’.
Die Kompanjie het verskeie voorregte van die Nederlandse owerheid verkry, soos die reg om hom grondgebied toe te eien, oorloë te voer en internasionale verdrae te sluit, en ewe goed het dit oorlogskepe uitgerus en oor ’n eie leër beskik.
Die eerste sewentig jaar van die VOC se bestaan, toe hy hom veral teen sy Portugese handelskonkurrente in die Ooste laat geld het, was ’n tyd van ongekende opbloei en welslae waarin hy van ’n blote handelsmaatskappy ontwikkel het tot wat as ’n ‘intercontinentaal productie-, transport- en handelsbedrijf’ beskryf is.6
In Asië, waar hy soos ’n soewereine staat opgetree het, het die Kompanjie onder andere vir korter of langer tye handelsverbintenisse aangegaan met Persië, die Malabar- en Koromandelkus van Indië, Bengale, Ceylon, Formosa, China en Japan, asook verskeie eilande in die Indonesiese argipel.
Batavia op die eiland Java is in hierdie tyd deur die Nederlanders as die administratiewe en handelsentrum van die Kompanjie gestig.
Volgens ’n oorsig wat Pieter van Dam, Advokaat van die VOC, in 1662 saamgestel het, toe die onlangs gestigte verversingspos aan Tafelbaai reeds tot ’n vestings- en ’n landboukolonie begin ontwikkel het:
De steden, plaatsen en sterkten die de Compagnie is possideerende en met hare garnisoenen heeft beset, zijn Batavia, Amboina, Banda, Molucco, Solor en Timor, Malacca, Formosa, Paleacatta en Negapatnam op de kust van Cormandel, Ceijlon, en de Cabo de Bonne Esperance.7
Die vernaamste oogmerk met die oprigting van die Kompanjie, soos Van Dam in 1662 nog kon meld, was om die ‘voordelen en profijten’ van diegene wat daarin belê het, te vermeerder, en tweedens die bevordering van skeepvaart en handel, ‘mitsgaders uitbreiding en vergrooting van de magt en ’t gesag van ons algemeene Vaderland’.8
Namate die Kompanjie se werksaamhede, verantwoordelikhede en verpligtings op ongekende skaal aangegroei en hy aktief by die handel binne Asië betrokke geraak het, het sy uitgawes vir skepe, forte, garnisoene en administratiewe personeel fenomenaal toegeneem, en sy aanvanklike winste dienooreenkomstig kleiner geword. Oor die ‘jongste jaar’, het Van Dam byvoorbeeld in 1662 berig, is daar byna 2 miljoen gulden aan soldye uitbetaal, en hy het hom uitgelaat oor die las wat die ‘sware garnisoenen en soldijen van ’t volk’ vir die Kompanjie uitmaak. Op Ceylon, skryf hy, was daar ’n garnisoen van omtrent 3000 koppe, en in Batavia ’n ‘sware besetting van 12 en 1400, ja en meertijds meer’.
‘De Maetschappy,’ berig ’n ander tydgenoot, Olfert Dapper, in klinkende taal in sy groot