Vet feetjies vlieg nie
Kristel Loots
Tafelberg
1
My naam is Lucy Lombaard en ek is vet.
Miskien nou darem nie spekvet nie, maar nogtans lekker vet.
As ek in Rubens se tyd geleef het, was ek ’n looker. Dan was my danskaart vol, sou daar gedigte oor my geskryf word en liedere gesing word. En daar sou skilderye van my wulpse poedelkaal lyf deur meesters geskilder word wat miljoene werd sou wees. Baie wow!
Maar toe word ek mos in die verkeerde eeu gebore, in hierdie eeu waar vrouelywe soos kodestrepies lyk. Soepel wilgerlatlywe, buigsaam in alle rigtings, is aan die orde van die dag. Vir boomstomplywe soos myne is daar selde ’n plekkie in die son.
Dis my XXL-lyf wat raakgesien word die oomblik wat ek om ’n hoek aangerol kom. Nie my “bekoorlike kuiltjies” soos skrywers dit sou noem nie. Of my beau-ti-ful bokkie-oë nie. Of my welige blinkblonde krullebol nie. Ook nie my sagte, vol mond wat ’n halfdronk ou al as taamlik soenbaar beskryf het nie. Of my spierwit tande wat ’n appel met ’n enkele hap kan halveer nie.
Nee, dis my childbearing hips, my boobs soos heliumgevulde ballonne by ’n kinderverjaarsdagpartytjie en my cleavage wat blykbaar magneties inwerk op al wat ’n man is se oë.
Maar eintlik is ek meer as net ’n paar double-D’s.
Kyk, ek is nie kliponnosel nie. Nie hééltemal nie. Nie meer nie.
Daar wás ’n tyd, lank, lank gelede, toe ek histeries bly geraak het oor die wonderlike nuus wat in my inboks beland het. Oor ’n verlangse familielid van wie se bestaan ek nie eens geweet het nie. Stinkryk! In Londen nogal! ’n Liewe, dierbare oom wat o so tragies in ’n motorongeluk daarmee heen is, siestog, so onverwags en alles. Maar not to worry, ek is toe mos die gawe man se enigste erfgenaam van ietsie meer as ’n miljoen Britse ponde. Nogal!
Al wat ek moes doen, was om ’n klompie duisend se oordragkoste te betaal. Verder was dit nie nodig om ’n vinger te verroer nie – die geld sou tjoef-tjaf in my bankrekening wees. Met komplimente van my oorle verlangse omie. Ag, en ek sou kon doen met ’n miljoen, so met die wisselkoers in my guns en als.
Dalk sou ek die oordrag selfs gedoen het, as dit nie was vir die toestroming van beloftes oor Zimbabwiese dollars wat my ook toekom nie. Dis toe dat ek my onskuld oor onverwagse erflatings finaal verloor het.
Daarom vreet ek nie meer alles vir soetkoek op nie, al is ek ook hóé lief vir eet. Daarom het ek my bedenkinge oor die e-pos wat ek hierdie Vrydagmiddag oor middagete op my iPad kry toe ek my blog se inboks oopmaak.
Moenie ’n fout maak nie – die Funky Feetjie/Funky Fairy-blog kry meer hits as waarvan ek ooit sou kon droom en jy kan my niks vertel van weirdos wat Funky Feetjie se skryfsels op hul eie manier vertolk en my alter ego van naderby wil leer ken nie. Sy word gereeld genooi vir naweke in driester-hotelle met kamerdiens. All expenses paid! Come as you are. En moenie bodder om te veel klere saam te bring nie …
Ek lees en ek skrik en ek wonder watter sleutelwoorde in die search-blokkie hierdie wesens na my blog toe gelei het.
Google is nie altyd jou vriend nie.
Sommige desperate soekers na pret en plesier van die lyf beland alte maklik op ’n dwaalspoor. So dan en wan duik daar selfs ’n begriplose man of twee op wat ’n adamsappel by Funky Feetjie soek en nie rede wil verstaan nie. Kyk, Funky Feetjie/Funky Fairy is miskien tweetalig, maar sy is nie dáárdie tipe funky nie, ook nie daai tipe fairy nie. Ek block daardie ouens die een na die ander. Toegang streng verbode. Ai tog! Feetjie is sommer net funky en vermaaklik en wil vertel van die mens en sy dinge. Dis al.
Bietjie van ’n drama queen, toegegee, maar dis hoe ver dit strek.
Ek leun nader aan die rekenaarskerm om die weirdo van die dag se e-pos nóg ’n keer te lees. Asof die kleiner afstand my sal help om groter duidelikheid te kry oor die e-pos wat glo van Billy Bruwer af kom.
Billy Bruwer nogal. Dié Billy Bruwer. Ja, sure! En ek is die koningin van Kammaland.
Gegroet, skepper van Funky Feetjie!
Hierdie is helaas die enigste manier waarop ek jou kan kontak. Ek weet nie wie die ware jy is of waar jy jou bevind nie, maar ek aanvaar te goeder trou hierdie e-pos gaan by jou in jou gedaante as Funky Feetjie land en privaat gelees word. En nie as kommentaar wat gelewer is op die blog verskyn nie.
Dis uiters noodsaaklik dat ek met jou as skrywer in aanraking kom. ASAP! Ek vra egter dringend dat hierdie e-pos en alle ander moontlike kontak of korrespondensie tussen ons streng geheim gehou sal word. Ek verduidelik sodra ons by mekaar kan uitkom om te gesels. My kontakbesonderhede verskyn hier onder. Skakel my asseblief direk op my private selfoon en nie by die algemene kantoornommer nie.
Vriendelike groete
Billy Bruwer
Vriendelike groete se watsenaam! Daar skree ’n alarm iewers in my kop. Wát is die ou se storie? Billy Bruwer wat mý kontak? Einste hy, new kid on the block, wat feitlik oornag ’n bekende in mediakringe geraak het? Grootbaas van Media Uniek wat verwoed buite die boks bly dink, al word hy dikwels daaroor gekritiseer? Kyk noord en foeter ongestoord voort, al sê wie ook wat, verskyn op al wat geselsprogram is, antwoord vrae vreesloos, hoe moeilik ook al. Uitdagend. Uiters kontroversieel, maar nogtans flavour of the month, word na elke groot sosiale funksie toe genooi, die kameras voortdurend op hom gerig, die publiek se nuuskierigheid oor hierdie nuweling onversadigbaar.
Dan nog eye candy par excellence ook. Nie een van die moderne androgene mansmense wat jou alewig laat wonder nie. Nee. Deels macho man, deels metroman, maar onbetwisbaar alfaman van kroon tot toon, ’n bedreigde spesie, skaars soos koekies in ’n weeshuis. Lyk asof hy ’n leeumannetjie grond toe kan stoei – en jy dan nog steeds slegs aftershave sal ruik. Frieken awesome, as jy my sou vra.
Billy Bruwer nogal. Wat my blog lees? Ja, sure! Het varke dalk begin vlieg sonder dat ek daarvan gehoor het? Of het perde miskien horings gekry en ek het nog net nie so een gesien nie? Op soek na mý? I don’t think so! Miskien nog na Funky Feetjie soos sy op haar gedokterde profielfoto lyk, maar nie na my wat nog nie veel verder met my skryfwerk gevorder het as om te blog nie.
Dis eerder moontlik dat daar met my die gek geskeer word. Nie dat my regte naam of kontakbesonderhede ooit op die blog verskyn en ek enigsins as Lucy Lombaard herkenbaar is nie. Dit kan dus nie ’n persoonlike aanval wees nie, eerder iets wat teen my Funky Feetjie-persona gerig is. Regte cloak-and-dagger stuff. Geheimenisse en fake vertroulike fluisteringe, melodrama op sy beste.
Iemand iewers dink seker ek is dom genoeg om hiervoor te val.
Ek kyk weer met ’n arendsoog na die e-pos. Mmm … Lyk regtig baie legit. Die briefhoof, die e-posadres, alles lyk reg en eg. [email protected], die Johannesburgse hoofkantoor se telefoonnommers, die straatadres en ander besonderhede wat verskaf word, alles klop. Moerse convincing, ek moet sê.
Daar kriewel iets in my gedermtes, soos ’n sespotige insek wat reg is om uit ’n kokon te bars. Opwinding? Hoop? Whatever! Sê nou maar net dis regtig Billy Bruwer wat die e-pos gestuur het. Sê nou maar net daar is iets omtrent my blog wat hom interesseer … Cool it, Lucy, moenie op hol gaan oor niks nie. Selfs al ís dit die baas van Media Uniek wat die skrywer agter Funky Feetjie se blog wou kontak, kan daar ’n doodgewone, baie boring verduideliking wees. Ek beweeg tog nie in Die Kringe nie. Daar waar die literati en die glitterati skouers skuur.
Ek vrek van nuuskierigheid, maar ek is ook versigtig. Daarom antwoord ek per e-pos en stuur nie my telefoonnommer nie. No way! Ek lap ook nie uit wie Funky Feetjie in der waarheid ís nie.
Hiermee erken ek ontvangs van onderstaande e-pos. Stuur asseblief meer inligting. Vriendelike groete. Namens Funky Feetjie.
Ek gooi Die Taal. Lekker formeel – maar, so hoop ek, op ’n manier wat dit vir hom sal duidelik maak Funky Feetjie vattie twakkie, nie van kabouters nie en ook nie van gekskeerders nie.
Hy antwoord dadelik: Aangename kennis,