ENA MURRAY
KEUR 14
Weerklank van ons liefde • ’n Tyd om te ween • Die oujongnooi van Polkadraai
Jasmyn
1
Voor die massiewe gebou dwaal haar blik hulpsoekend om haar, hoewel sy weet sy kan van nêrens hulp verwag nie. Agter haar maal die stadsgewoel voort, is dit ’n kom en gaan van mense wat by die groot gebou uitborrel terug na die motors wat eenkant geparkeer staan.
Sy voel weer die oë van die hekwag op haar. Haar besluitlose gerondtrap die afgelope halfuur het reeds sy aandag begin trek. Sy sal hier móét ingaan. Dis die enigste plek waar sy miskien geholpe sal raak. Oor ’n uur of drie word dit nag. Êrens sal sy ’n heenkome moet vind, want as dit eers donker is …
Sy beweeg nader aan die hek en die wag kyk skerper na haar. Jare lank waak hy al hier by die hek gedurende besoektye. Hy het mense van alle soorte leer ken. Maar hierdie enetjie …
Hy kyk stip, onnodig stip, dink die jong meisie toe sy nader kom. Binne-in haar word die naakte vrees ’n harde klont op die krop van haar maag. Hoekom kyk hy haar so aan? Sou hy weet? Sy sluk. Dis tog onmoontlik. Dit het maar gisteraand gebeur. Die koerante sal darem seker nie nou al daaroor berig nie … miskien die radio … Dalk is daar reeds ’n landwye beskrywing van haar uitgestuur.
Sy is bang, besef die ou man onmiddellik. Sou iemand belangrik hier binne lê, miskien buite hoop? Of moet sy dalk self inkom? Sy lyk asof sy ’n pasiënt kan wees.
“Kan ek help, juffroutjie?” vra hy vriendelik en gee voor dat hy nie die ruk van die skraal, jong liggaam sien nie. Die lewe het hom ook al geleer om nie alles te wys wat hy sien of weet nie.
“Ek … moet die matrone spreek. E … waar …?”
Hy neem haar goedig aan die arm. Hoe bewe die kind tog. “Jy stap net met hierdie paadjie langs en dan gaan jy by daardie deur in.” Hy trek haar liggies weg toe ’n groot motor agter hulle stilhou.
“Staan net ’n bietjie weg, juffroutjie. Die dokter wil verbykom.” Hy sê die woord dokter asof hy van ’n koning praat, en spring selfs, rats vir sy ouderdom, opsy en lig sy pet met ’n oordadige glimlag.
Die man agter die stuur knik vlugtig, maar sy blik rus ’n oomblik fronsend op die meisie langs die hekwag. Toe ry hy voort, al met die geteerde kronkelpad langs totdat hy voor die hoofingang tot stilstand kom en sy motor parkeer op die plek wat vir dokters gereserveer is.
By die hek beduie die ou man verder: “Dan vra jy net daar by die toonbank en sê jy wil met die matrone praat. Hulle sal jou verder help.”
“Dankie, oom.”
Hy glimlag weer en daar is kommer in sy waterige ou oë. Dis lank laas dat iemand van haar jare hom as oom aangespreek het. Hy is mos ’n kastige meneer deesdae. Die respekvolle oom het saam met die waters van die tyd weggevloei. Sy vaderlike gevoel neem toe.
“Dis ’n plesier, kindjie. Sê vir oom … kom jy van die platteland af? Kan oom dalk help met iets?”
Die blou oë kyk hom meteens verskrik aan. Toe stotter sy: “Ek … nee, oom, ek is maar van hier … dankie, oom. Ek sal nou moet gaan.”
Hy kyk haar agterna, skraal en slank soos ’n wilgerloot, die swart hare wat soos ’n waterval van ink agter haar rug na benede val. Hy sug. Ja, so is die lewe. Ook die jonges spring nie vry nie. Hulle word vandag te vroeg oud … soos hierdie kind reeds oud is. Wat ’n jammerte dat so ’n mooi mens reeds so gebuk moet gaan. Selfs in haar stap kan jy dit sien – die te swaar las op die skraal skouertjies.
Die deur waarop MATRONE groot aangebring is, staan halfpad oop toe sy huiwerig aanklop. Die vrou agter die lessenaar kyk op en nooi haar vriendelik binne, sê terselfdertyd aan die man wat in een hoek na iets in ’n liasseerkabinet soek: “Gaan maar voort, dokter, u sal nie hinder nie. Kom sit, juffrou. Kan ek met iets help?”
Sy sak in die aangebode stoel neer en besef nou eers hoe moeg sy werklik is. Sy het die hele nag op haar bene gestaan in die toilet van die trein waarmee sy hierheen gevlug het. Sy het in ’n hoekie vasgedruk gestaan, biddend dat niemand moes agterkom die toilet bly beset nie. Elke keer wanneer die trein tot stilstand kom, het sy met beangste oë geluister of iemand nie haar naam uitroep nie; of iemand, die polisie, nie reeds na haar begin soek en agtergekom het sy is aan die vlug nie.
Vanoggend ligdag het sy hier aangekom en gesorg dat sy tussen die malende mense op die sypaadjies wegraak. Sy het gestap … kilometers aaneen, doelloos, rigtingloos. In ’n park, by ’n spuitfonteintjie, het sy water gedrink en toe vinnig padgegee. In ’n park het mense tyd om na mekaar te kyk en niemand mag lank genoeg na haar kyk om haar gesig te onthou nie. Dis beter dat sy tussen die mense op die sypaadjie bly, waar niemand tyd het om na die persoon langs hom te kyk nie.
Ná ’n ruk was sy uit die ergste gewoel. Skuins voor haar het sy die groot gebou gesien en sy kon dit onmiddellik eien aan die witgeklede gestaltes wat in en uit beweeg.
Die behoeftes van haar liggaam het ook al sterker begin word. Sy was honger en moeg. Êrens sal sy moet slaap, ’n dak oor haar kop kry, want die nag begin nader kom. Sy het net tien rand by haar. Waar vind sy daarmee toevlug?
Stadig het haar moeë verstand na ’n oplossing begin soek. Dis ’n hospitaal dié. Groot hospitale het altyd verpleegsters nodig – en hulle kry huisvesting …
Sy kyk op na die vrou hier voor haar en sê toe reguit, eenvoudig: “Ek soek werk. Ek … wil graag hier verpleeg … as u plek het. Ek kan sommer dadelik begin.”
Die middeljarige vrou se glimlag is vriendelik en sy trek ’n laai oop. “Ons het altyd vakatures. Ek sal u die nodige vorms gee. Vul dit net vir my in, asseblief, en laat my dit weer so gou moontlik kry.”
Die jong meisie lek oor haar droë lippe en maak geen aanstaltes om die vorms te neem wat na haar uitgehou word nie. “Maar ek kan onmiddellik begin,” herhaal sy. “Ek wil sommer vandag al begin … asseblief!”
’n Ligte frons verskyn tussen matrone Linda Nel se oë. “Dit sal onmoontlik wees, juffrou. Die vorms moet eers ingevul word. As u u identiteitsboekie by u het, kan ons solank daarmee begin, maar dan …” Haar oë is stip, wêreldwys terwyl sy die jong gesiggie voor haar bestudeer. “Ons moet ook ’n verlofbrief van u ouers of voog kry, want u is nog onmondig, nie waar nie? Hoe oud is u?”
“Negentien – amper twintig.”
“Dan sal u so ’n brief saam met die aansoekvorms moet inlewer. As u môre vir my al die besonderhede verskaf, sal ek die sakie so gou moontlik afhandel.”
Die meisie staan op, knik en sê sag: “Dankie. Baie dankie vir die moeite. Tot siens.”
Sy stap uit en twee paar oë volg haar fronsend. Vlugtig ontmoet matrone Nel en die man in die hoek se oë.
“Juffrou …” Maar sy is reeds by die deur uit. “Sy het die vorms vergeet.”
“Ek sal dit vir haar gee.”
Hy bereik haar toe sy afdraai uit die gang na die ingangsportaal. “Die vorms … u het die vorms vergeet, juffrou.”
Sy kyk op na hom met ’n siellose blik, haar stem toonloos. “Dankie.”
“Juffrou …”
Maar sy is reeds weg, trek die glasdeur agter haar toe en stap weg met die teerpad langs, sonder ’n terugblik, die swart hare waaiend in die wind, die wit vorms in haar een hand vasgeknel. Sy blik volg haar tot by die hek en hy sien hoe die ou man nader stap, ’n paar woorde met haar wissel. Toe eers draai hy om en stap terug na die kantoor.
“Het jy reggekom, juffroutjie?”
“Ja dankie.” Sy kyk in die vriendelike oë op en die drang in haar is byna onkeerbaar om haar kop op hierdie verrimpelde ou man se skouer te lê en alles binne-in haar uit te snik. In plaas daarvan hou sy die vorms omhoog en kry dit selfs reg om te glimlag. “Ek het die vorms gekry. Dis om hier te kom werk … verpleegster.”
Die ou man se gesig klaar op. “Maar dis gaaf, kindjie. Jou oom is baie