Piekfyn Afrikaans Graad 5 Leerderboek vir Huistaal. Rina Lamprecht. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Rina Lamprecht
Издательство: Ingram
Серия: Piekfyn Afrikaans
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9781776071760
Скачать книгу

      

      Rina Lamprecht, Minda Groenewald, Nelmari Smit, Marlene Venter, Suzette Brümmer

      Die uitleg van hierdie digitale uitgawe van Piekfyn Afrikaans Graad 5 Leerderboek vir Huistaal kan verskil van dié van die gedrukte weergawe, afhangende van die instellings op jou leser. Die uitleg vertoon optimaal as jy die standaard instellings op jou leser gebruik. Lesers kan eksperimenteer met die instellings om die vertoning te verbeter.

      Liewe graad 5-leerder

      Welkom terug by ’n Piekfyn-leerervaring in graad 5. Hierdie jaar bou ons voort op jou kennis en vaardighede wat Piekfyn Afrikaans Graad 4 jou gebied het.

      Entrepreneurs, wie is hulle? is die vraag wat module 1 vra en hoop om te beantwoord. Kry idees om rande uit rommel te maak, of om toerisme as sakegeleentheid in Suid-Afrika te ontgin.

      Module 2 neem jou op ‘n reis deur Suid-Afrika … vanaf Sun City tot by die Wieg van die Mensdom. Die grootste teleskoop in Suider-Afrika word ook besoek.

      In module 3 bring ons hulde aan kinders wat aan tuberkulose, MIV/vigs of kanker lei met Sit woema in jou siek lyf. Ontwerp groetekaartjies of doen navorsing oor organisasies soos CHOC wat kankerkinders bystaan.

      Module 4 sit die reis voort van syfers tot Klaas Vakie. Bestudeer ’n weerkaart en lees interessante feite oor die Wes-Kaap en hoe dassies stertloos gebly het.

      Module 5 se tema is: Al eeue ’n reënboognasie. Lees van die eerste bewoners se tradisies, gelowe en kultuur tot by die jongste sensussyfers wat aantoon hoe Suid-Afrika as reënboognasie gegroei het.

      Module 6 neem Ons plantegroei, mooi weer en storms in oënskou. Interpreteer ’n spotprent oor die ysige koue wat ’n gesin oorval.

      Ons kyk in module 7 na kommunikasie: Taal is meer as net woorde. Lees hoe ’n selfoonpes iemand aanhoudend lastig val en gebruik self die Morse-kode.

      Module 8 besef steen en sement is die fondament van elke huishouding. Huise verskil soos mense verskil, vra maar die drie varkies wat die rekenaar ontdek het!

      Elke module bied jou Pitkos en In ’n neutedop om jou taalkennis ’n hupstoot te gee. Pitkos gee jou wenke oor hoe om jou take en opdragte reg aan te pak en In ’n neutedop, die Taalgids en Letterkundegids is jou leerwerk vir Afrikaans.

      Geniet graad 5 met jou Piekfyn Afrikaans!

      Die samestellers

      In hierdie module gaan jy meer leer oor entrepreneurs, inflasie, toerisme en reklame. Jy gaan ook agterkom dat rommel ’n klomp geld werd kan wees!

      Verder gaan jy spoggerig hardop lees en vasstel hoe jy stilleesvaardighede korrek moet toepas wanneer jy ’n piekfyn gedig lees oor ’n kuierkat wat goeie maniere het. Dan konsentreer ons ook op die doel en teikengroep van ’n teks.

      Jy moet dink en redeneer oor taalstrukture wanneer jy skryf. Ons gaan kyk na ontkenning, leestekens, afkortings, sekere spelpatrone, tydsvorme, hoofletters, die kappie, deelteken, lettergrepe en klankgrepe.

      Ons gaan ook na ’n paar letterkundige begrippe kyk, soos die hoofidee van ’n verhaal, karakters, die rol van tyd in ’n verhaal, atmosfeer en die verteller. Daarmee saam ondersoek ons wat ’n vergelyking, alliterasie, die wending in ’n gedig en die kenmerke van ’n kwatryn is.

      Suid-Afrika word ’n gewilde bestemming vir oorsese toeriste en ons gaan lees wie almal hierheen kom en waarom. Jy gaan navorsing doen en ook jou verbeelding gebruik om ’n toerplan vir toeriste uit te werk en ’n mondelinge voorlegging daaroor doen wat onder andere padaanwysings insluit. Om alles mooi saam te vat, gaan jy ’n koerantberig skryf.

      Intussen gaan jy jou woordeskat uitbrei deur te sorg dat jy al die woorde in jou Piekfyn-woordeboek onder die knie kry.

      Die vakansie is verby en almal is platsak na die Desemberfeestyd. Dit is tyd om weer koppe bymekaar te sit en slim planne te beraam om ekstra geld te verdien. Kom ons kyk na enkele idees om as entrepreneur jou eie geld te verdien.

      Aktiwiteit 1: Lees vir begrip

      •Lees en kyk

      •Taalstrukture en -konvensies

      In hierdie aktiwiteit gaan jy

      •preleesaktiwiteite toepas

      •soeklees en vluglees oefen deur selfstandig te lees en begripstrategieë gepas te gebruik

      •die ontkennende vorm verstaan en gebruik

      •die komma, punt, uitroepteken en vraagteken korrek in sinne gebruik.

      Prelees: Maak voorspellings wat op die titel en prente gebaseer is en bespreek dit.

      Pitkos

      Leesvaardighede

      Prelees

      Vluglees is wanneer ’n teks net vlugtig gelees word. Waarom moet jy ’n teks vluglees wanneer jy ’n stilleesoefening doen?

      Jy lees om

      •’n idee of ’n prentjie te kry van waaroor die teks handel.

      •’n idee te kry van hoe moeilik of maklik die teks is.

      •jou voor te berei vir die vrae wat jy moet beantwoord.

      Hoe vluglees ’n mens? Lees …

      •die opskrif en bestudeer die foto’s.

      •die inleidende paragraaf, want dit vertel waaroor die leesstuk handel.

      •die eerste sin van elke paragraaf, want dit bevat die hoofgedagte.

      •die slotparagraaf, omdat dit dikwels ’n opsomming van die teks gee.

      Soeklees is wanneer daar na spesifieke inligting gesoek word sonder om die teks noukeurig deur te lees.

      Begripslees is wanneer die inhoud aandagtig deurgelees word met die doel om dit te begryp.

      Aandagtige lees is wanneer die teks deeglik gelees word om die inhoud te verstaan en om die inligting te kan weergee.

      Wanneer jy ’n leesbegripsoefening of -toets doen, moet jy die volgende stappe volg:

      •Vluglees eers die teks om vas te stel waaroor die teks handel.

      •Lees dan die vrae deur, om vas te stel waarna jy moet oplet.

      •Lees die teks vir ’n tweede keer, maar hierdie keer lees jy dit aandagtig deur.

      •Beantwoord vervolgens die vrae deur gebruik te maak van jou soekleesvaardighede. Kry die kernwoord in elke vraag en soeklees vir daardie woorde in die teks. Dit sal jou na die antwoord lei.

      Lees en kyk vir begrip

      Pas jou leesvaardighede toe op die volgende teks. Jou onderwyser gaan jou antwoorde formeel assesseer.

      Anneliese Carstens het die volgende artikel, twee foto’s en ’n handgeskrewe boodskappie aangestuur. Kyk hoe dit rondom die teks gebruik kan word.

      Vroue-entrepreneur van die jaar

      Anneliese Carstens, eienaar van Maranki’s op Bonnievale, is aangewys as Landbouweekblad en Sanlam se Vroue-entrepreneur van die jaar.

      Haar onderneming, wat babaklere en -produkte vervaardig, het ontstaan nadat sy ’n speelmatjie by ’n vriendin gesien het en nie een in die omgewing vir haar kind kon vind nie. Toe begin sy Maranki’s rondom ’n selfgemaakte speelmat en het die produkreeks algaande aangevul.

      Die onderneming het gegroei