Best Books Studiewerkgids: Fiela se kind - die drama Gr 12 EAT. Junaid Anthony. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Junaid Anthony
Издательство: Ingram
Серия: Best Books Studiewerkgidse
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9781776070237
Скачать книгу

      Best Books Studiewerkgids:

      Fiela se kind – die drama

      vir

      Graad 12 Eerste Addisionele Taal

      Saamgestel deur

      Junaid Anthony

      Die uitleg van hierdie digitale uitgawe van die Best Books Studiewerkgids: Fiela se kind – die drama vir Graad 12 Eerste Addisionele Taal kan verskil van dié van die gedrukte weergawe, afhangende van die instellings op jou leser. Die uitleg vertoon optimaal as jy die standaard instellings op jou leser gebruik. Lesers kan eksperimenteer met die instellings om die vertoning te verbeter.

      Die bladsyverwysings in hierdie uitgawe verwys na die bladsye in die gedrukte boek.

      Hoe om hierdie studiewerkgids te gebruik

      Die Best Books Studiewerkgids: Fiela se kind – die drama is saamgestel sodat jy in die Graad 12-letterkunde-eksamensukses kan behaal.

      As jy goed deur die studiewerkgids werk, sal jy

      •die drama ’n interessante leeservaring vind

      •die storielyn baie goed begryp

      •die insig hê om die teks te analiseer en letterkundeterme te verstaan

      •die eksamen vol selfvertroue en met sukses kan aanpak.

      Hierdie studiewerkgids bevat die volgende:

      •Agtergrondinligting om die konteks van die drama beter te verstaan en die karakters vir jou te laat “leef”.

      •’n Samevatting van die belangrikste gebeure met volledige opsommings van elke bedryf vir hersiening en die Engelse vertaling daarby.

      •Uitgebreide aantekeninge en besprekings van al die letterkundebegrippe in die kurrikulum sodat jy dit kan verstaan en toepas.

      •Foto’s waar dit nodig geag word wat jou sal help om die karakters te visualiseer.

      •’n Woordeskat- en uitdrukkinglys aan die begin van elke toneel.

      •Verdeling van baie lang tonele in korter dele wat elk op ’n spesifieke gebeurtenis fokus.

      •Kontekstuele vrae en -antwoorde ná elke opsomming om jou te help.

      •’n Konsepvraestel ter voorbereiding vir die finale eksamen.

      Biografie: Dalene Matthee

      Die skrywer vandie roman, Fiela se kind, Dalene Matthee (gebore Scott), is op 13 Oktober 1938 op Riversdal in die Suid-Kaap gebore. Sy matrikuleer in 1957 en ontvang later op Oudtshoorn en Graaff-Reinet verdere musiekopleiding. Sy behaal ook haar lisensiaat (sertifikaat) in klavier.

      © Annari van der Merwe

      In 1956, op die ouderdom van agtien jaar, trou sy met Larius Matthee. Uit hierdie huwelik word drie dogters gebore. Ná hulle geboorte begin Dalene skryf – aanvanklik kinderverhale vir die radio, maar later ook tydskrif- en vervolgverhale. Die twaalfuurstokkie, haar eerste boek, word in 1970 gepubliseer. Daarna sien verskeie ander boeke – ’n Huis vir Nadia (1982), Die Judasbok (1982), Petronella van Aarde, burgemeester (1983) en ’n bundel kortverhale – die lig voordat sy met haar Bosromans beroemdheid verwerf.

      Teen die einde van 1978 gaan Dalene op ’n driedae-staptog deur die Knysnabos. Ná die staptog snuffel sy in die museum op Knysna rond vir inligting oor die inheemse bome en daar win sy die kennis in wat uiteindelik die onderbou van haar Bosboeke vorm. In die museum kom sy ook af op die geskiedenis van een van die boswerkerkinders wat van sy familie weggebreek het om sy geluk op sy eie te gaan soek: dit word die verhaal van Saul Barnard in Kringe in ’n bos (1984).

      Nog twee Bosboeke volg: Fiela se kind (1985) en Moerbeibos (1987). In 1993 verskyn Brug van esels en in 1995 Susters van Eva. Pieternella van die Kaap volg in 2000 en die vierde en laaste Bosroman, naamlik Toorbos, in 2004.

      Dalene Matthee is op 20 Februarie 2005 in Mosselbaai oorlede. In September 2005 word haar laaste boek, Die uitgespoeldes, gepubliseer. Haar boeke het ’n groot impak op die samelewing gehad.

      Sy ontvang verskeie toekennings vir haar skryfwerk. In 1986 word sy die eerste vrou en persoon buite die boswese wat die gesogte Suider-Afrikaanse Instituut van Boswese-toekenning ontvang. Dit word in 2004 weer aan haar toegeken. Ander toekennings is onder andere die ATKV-Prosaprys (vier keer) en in 1993 was sy die eerste Suid-Afrikaner wat die Switserse Stab-toekenning ontvang het.

      Tydens ’n meningsopname in 1999 by 350 biblioteke landwyd is Fiela se kind as die Suid-Afrikaanse Boek van die Eeu aangewys. In die algemene kategorie was Fiela se kind tweede naas J.R. Tolkien se Lord of the Rings.

      In 2007 word die Nasionale Departement van Kuns en Kultuur se Suid-Afrikaanse Literêre Toekenning nadoods aan Dalene toegeken. Op 23 Februarie 2008 word ’n gedenksteen vir haar by die groot geelhoutboom by Krisjan-se-nek in die Knysnabos onthul. Die boom van 880 jaar is herdoop na die Dalene Matthee Big Tree en die staproete wat hier begin, het die Kringe in ’n bos-staproete geword. Haar as is by Krisjan-se-nek gestrooi.

      In 2015 word die Sanlam Knysna Awards gehou en Dalene Matthee ontvang erkenning van haar bydrae tot Knysna se gemeenskap en letterkundige-erfenis.

      Dalene Matthee is die enigste Afrikaanse skrywer van wie meer as een miljoen boeke in Afrikaans in Suid-Afrika verkoop is. In 2007 het twee van haar boeke Exclusive Books (’n boekhandelaar in Suid-Afrika) se lys van “101 books to read before you die” gehaal.

      Met haar boeke het Dalene Matthee daarin geslaag om tot in die hart en siel van mense te dring.

      Voorwoord deur Frans Swart/Lefra Produksies oor die teaterproduksie

      (REGISSEUR EN VERVAARDIGER: LEFRA PRODUKSIES)

      Dalene Matthee, Suzanne van Wijk, Fiela Komoetie. Drie merkwaardige en besondere vroue!

      Suzanne van Wijk het ’n ongelooflike goeie verwerking vir die verhoog van Dalene Matthee se roman, Fiela se kind, gedoen en ’n volwaardige drama geskep. As dramastudent van die Akademie van Dramakuns (die bekende ADK) het ek in Johannesburg onder juffrou Aletta Gericke studeer. Juffrou Aletta se kollega in die Kaap was Suzanne van Wijk – ook een van ons land se beste radiodrama regisseurs. Ek was bevoorreg om onder beide hierdie legendes te werk en te studeer. Juffrou Suzanne was kwaai, maar geliefd onder alle spelers. Of jy nou wou of nie … haar kuns − toneelspel en die teater − het jy as speler altyd respekteer. Sy kon daarin slaag om tweehonderdpersent uit enige akteur of aktrise te haal en was veral bekend daarvoor dat spelers onder haar regie ongelooflike vertolkings gelewer het. Juis omdat sy die verhoog, skrywers, stories, die teater en spelers so goed verstaan het, is haar verwerking van Fiela se kind só goed. Terwyl sy besig was met die verwerking, het sy my menige kere geskakel en gesê dit is so moeilik om te besluit wat laat sy uit – veral met die verhoog in gedagte.

      Die eerste opvoering van Fiela se kind in 1986 in die destydse Nico Malan Teater Sentrum (nou Kunstekaap – Artscape naby die strandgebied van Kaapstad) was ’n ongelooflike sukses en verkoop vir maande uit. Teatergangers kamp op die Nico se trappe en bring gebakte patats as deel van hulle aandete. Ongelukkig is daar ook groot kontroversie oor die produksie met juffrou Suzanne en Kruik se stryery oor sekere akteurs in die produksie. Nietemin is die eerste opvoerings van Fiela se kind ’n weghol sukses.

      In 1992 besluit ek om Fiela se kind op te voer. As jong regisseurtjie is ek so voortvarend om vir Dalene Matthee te bel om te vra of ek haar kan kom sien om die regte te bekom. “Nee magtig man, ná al die bakleiery wil ek nie weer vir Fiela verhoog toe stuur nie,” kom die kwaai antwoord van Matthee. Ek skrik my dood. Maar besluit ek moet deurdruk! Bangerig sê ek: “Nee Mevrou, daar gaan geen bakleiery wees nie. Ek sal persoonlik sorg daarvoor. Ek kom sien u sommer op Hartenbos.” Na ’n lang sug, sê sy toe: “Ja jong kom tog maar, maar ek kan niks belowe nie. Ek het net ’n halfuur vir jou, want ek is besig