Moord per suurlemoen. Jelleke Wierenga. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Jelleke Wierenga
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780624068976
Скачать книгу

      Moord per

      suurlemoen

      Jelleke Wierenga

      Tafelberg

      Opgedra aan die gewese kwaai buurvrou met die

      blaffende honde wat die storie geïnspireer het.

      En aan my binnekind, wat hou van lag.

      Voorspel

      Doef!

      En daar lê die buurvrou op die naat van haar rug tussen ’n klomp suurlemoene. ’n Doodse stilte heers. ’n Mens kan die gras hoor groei.

      “Hoe …? Wat …?” stamel ek.

      “Sy’s dood! Jy’t haar doodgegooi!” fluister Brunhilde. Sy’s so wit soos ’n vadoek wat in Jik gewas is. “Net toe jy gooi, toe storm sy uit. Jy’t haar doodgegooi!”

      “Dis onmoontlik!” My stem klink bewerig. “Jy kan nie iemand met hierdie papskilgoed doodgooi nie!”

      “Jy’t haar seker net op die regte plek gegooi …”

      Die een oomblik is ek Dale Steyn, wêreldklasbouler, die volgende oomblik lê ’n vrou leweloos op die veld. Dis hoe hierdie hele sage begin het. Hierdie sage van kop verloor oor ’n moord per suurlemoen. Van ’n gesteelde Gold Wing. Van Russiese akteurs. Van ’n Romanof-prinses met ’n veel gesoende handjie. Van getikte dwelmoperateurs. Van vergeefse liefde …

      Maar laat ek begin by die eintlike begin.

      Twee brakke blaf alles aan die gang

      “Nóú gaan daardie canisse hul anusse sien!”

      Ek hoor dit dwarsdeur die geel sponsproppe in my ore. My suster Brunhilde praat soms in gesofistikeerde tale. Sy verskyn in die deur van my slaapkamer met hare wat lyk of hulle ’n kwaai elektriese skok opgedoen het. Vir baie vroue kos dit ure in ’n haarsalon en ’n fortuin om hulle hare te kry om so te lyk. Bronnie pluk haar rooi hare binne minute so.

      Ek beduie na die proppe in my ore om my suster te laat verstaan dat ek besig is met dringende navorsing en onder geen omstandighede gesteur mag word nie.

      “Ek SÊ,” skree sy met groengeel oë by my ore, “ek gaan daardie mal brakke vermoor!” Ook maar goed ek het oorproppe in, anders was my oortromme nou beskadig.

      “Kalmeer, suster,” sê ek en haal die oorproppe uit. “Jy sterf nog aan ’n hartaanval voor jy uit die skool is.”

      Ek gebruik my spesiale kalmerende stem en bedaarde gesig wat ek oefen vir situasies soos dié. Ek gaan eendag ’n briljante sielkundige word en kry gelukkig baie oefening met Brunhilde.

      “Gaan jy my help?” spoeg Brunhilde.

      “Waarmee, suster, waarmee?” kreun ek.

      Dis ’n retoriese vraag, want ek weet voor my siel dat ek, ’n vredeliewende en saggeaarde lam, binnekort by die een of ander vorm van geweld teen honde betrek gaan word.

      Ek kon haar natuurlik met ’n drieletterwoordjie geantwoord het, ’n kragdadige “Nee!”, maar Brunhilde het vergeldingsmetodes wat sterk manne soos miswurms laat krul. Soos ’n onverwagse skop op die knie. Brunhilde beweer dis ’n Oosterse skopbokstegniek wat sy gereeld moet oefen omdat dit eendag nog ons lewens gaan red. Hoe, weet ek nie. Al wat ek weet, is dat die lewe reeds halfpad uit my knieë geskop is en dat ek spaar vir bioniese plaasvervangers.

      “Kom jy of kom jy nie?” eis Brunhilde. Sy storm daar uit.

      Ek sug. My navorsing is daarmee heen. Goed, party mense sal sê ek sit met my voete op die lessenaar en lees ’n boek met die titel Artemis Fowl. Vir hierdie waarnemers wil ek net sê dat ’n mens jou nie moet blind staar teen hoe dinge op die oppervlak lyk nie. In werklikheid is ek besig met ’n diepgaande studie oor die gevorderde gevegstegnieke van oorlogsugtige feë.

      “Kom jy?” skree Brunhilde by die agterdeur. Soos sommige mense onweer kan aanvoel deur die koeëls in hul gebeente, so voel ek ’n skielike pyn in my regterknie klop.

      Twee blaffers van formaat het saam met ons nuwe buurvrou in die huurhuis langsaan ingetrek. Kyk, ek is nie van nature ’n hondehater nie, maar ek kry deesdae drome waarin ek spanjoele en worsies met ’n krieketkolf aanval.

      Die spanjoel en worsie langsaan blaf en kef en kef en blaf vir alles en almal. Selfs ’n mossie se skaduwee ontstel hulle so dat hulle ’n halfuur lank hul bekke daaroor moet rek.

      Die vorige huurders het ’n string snotterige, tjankende kinders gehad. Hulle het hul stink weggooidoeke, koeldrankblikke, papiere en leë wynbottels in ons erf gegooi. Vandag kan ek getuig dat blaffende brakke erger is.

      Ma het met die buurvrou oor haar honde gaan praat. Toe sê die buurvrou honde móét blaf, dis hulle geaardheid. Bowendien, inbrekers moet weet daar’s honde.

      Ma: “Dis óns geaardheid om rus en vrede te wil hê.”

      Die vrou het haar skouers opgehaal. “Wel, dit pla mý nie. My honde beskerm júlle ook.”

      Ma: “Ons wíl nie deur jou honde beskerm word nie!”

      Buurvrou: “Wel, dis jóú probleem. Jy’s ’n hondehater.”

      Ek en Brunhilde was aan die ander kant van die kanferfoelieheining. Dis nie dat ons afgeluister of gespioeneer het nie. Dis net dat ’n mens in hierdie gevaarlike tye bewus moet wees van wat om jou aangaan.

      Terwyl Ma nog praat, het die buurvrou se spanjoel en worsie begin blaf. Ma praat, die buurvrou praat harder en die brakke blaf kliphard. Die brakke word nie stilgemaak nie.

      Ma se gesig het van pienk na rooi verander. Laas toe sy so rooi was, het sy amper ’n sjef in ’n skouspelagtige vuurwerkvertoning bokveld toe gestuur. Dit was die keer toe – nee wag, dis ’n lang storie.

      Gelukkig jaag ’n ambulans of polisiemotor juis op daardie oomblik met loeiende sirenes in een van die systrate af.

      Ma het omgedraai en met lang treë na die buurvrou se voorhekkie geloop. Dit het klaarblyklik betyds tot haar deurgedring dat ’n mens altyd die gevolge van jou dade moet dra.

      Dis ’n bekende sielkundige feit dat as ’n mens nie die hond kan skop nie, jy op jou kinders gil. Toe Ma my en Brunhilde sien, gil sy: “Bly net uit my pad uit!” Het ek dit al genoem dat Ma ook rooi hare het?

      Toe gaan staan sy ’n halfuur lank onder die kouewaterstort in ons agterplaas. Vir dié wat dalk nou ontsteld is oor die skandelike vermorsing van water, wil ek die gerusstelling gee dat ons ’n groen en gesonde huis is. Al ons stort-, bad- en skottelgoedwater loop uit in ’n gryswatertenk onder die grond. Ons gebruik dit om ons tuin nat te maak.

      Ons is so groen en gesond dat daar geen televisiestel of mikrogolfoond in ons huis is nie. Ook nie tjips, koeldrank, Rice Krispies, hamburgers, witbrood, witsuiker, witrys of winkelkoekies nie. Dit spreek seker vanself dat ek en Brunhilde ook nie selfone, iPods of ons eie skootrekenaars besit nie. Ons het wel ’n biblioteek in die toilet.

      Ons basuin dit nie juis by die skool uit dat ons groen en gesond is nie. Ons is klaar gebrandmerk as “anders” en “snaaks” omdat ons ’n tweeling is. ’n Tweeling wat glad nie na mekaar lyk nie. Ek is baie dankbaar vir Brunhilde se part dat sy nie my aristokratiese neus het nie. En ek is baie dankbaar vir my part dat ek nie haar punt-in-die-wind rooi hare het nie.

      Ons is ook nie juis gewild by die skool nie omdat ons so voorbarig is om intelligent te wees. Ons is jonger as die ander in ons klas. Ek dink dis oor die Encyclopaedia Britannica in ons toilet.

      Iets wat ’n mens natuurlik by die skool nie kan wegsteek nie, is jou naam. Onderwysers het die hinderlike gewoonte om dit gedurig hardop voor almal te sê. My naam is Bruno, hoewel ek nie ’n hond of ’n beer of ’n komediant is nie.

      Brunhilde was eers Bronnie. Maar sy het oornag Brunhilde – haar doopnaam – geword toe sy lees dat Brunhilde in die Noorse mitologie ’n Walkure was, een van Odin se oorlogsgodinne. Die Walkures het tydens veldslae bepaal wie leef en wie sterf. Dan het hulle die gesneuwelde helde na Walhalla, die saal van gevalle krygers, vergesel. My beskeie mening