Chuck Norris kan deel deur nul. Annelie Ferreira. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Annelie Ferreira
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780624068945
Скачать книгу

      

      Tafelberg

      Vir Kobus Meyer ;-)

      Ek sou daarvan gehou het om van die wêreld ’n beter plek te maak as dit net nie so baie moeite was nie.

      Ouma sweer niks goeds sal in my lewe gebeur voor my kamer nie ’n slag netjies is nie (wat heelwat sal verduidelik indien dit waar is) en Pa se droom vir my is om eendag die Son te word in Drain Wizard & Son.

      Marlie voel redelik vere oor wat ek eendag gaan doen. Ek dink die belangrikste ding vir haar is dat ek uit haar pad bly. Sy sien jonger broers meestal in dieselfde klas as insekte.

      Die ding is, voor jy iets kan doen, moet jy iets kan droom. Mense vergeet hoe belangrik dit is. Ek meen, is die ou wat eerste op die maan geloop het regtig die grootste held? Ek dink nie so nie. Ek dink die grootste held is die ou wat eerste daarvan gedroom het.

      Dis hoekom ek dink Steve Jobs was cool.

      Daai ou het GEDROOM.

      Iewers in die huis roep Marlie.

      Ek begin tik. “Steve Jobs was die stigter en hoof van die rekenaarreus Apple. Hy was ’n ou wat nie net geglo het in drome nie, hy het hulle waar gemaak.”

      Ek dink vir ’n oomblik.

      “Hy is die rede hoekom jy jou vinger op jou selfoon kan druk en soort van basies inligting van enige plek in die wêreld kry.”

      Dit was nie altyd so nie. Ouma kan nog onthou toe die eerste faksmasjien in hulle kantoor afgelewer is. Sy sê dit was soos wetenskapfiksie!

      “As jou ouers slim genoeg was om te besef jy het ’n slimfoon nodig, natuurlik. Ongelukkig kon Jobs nie alle drome waar maak nie.”

      He-he.

      Ek dink dis vir my wat Marlie roep. Ek ignoreer dit en tik verder.

      In Apple se kantore was daar ’n plakkaat met die woorde: “Beware the reality distortion field”. Jobs het van die ouens wat vir hom gewerk het verwag om selfs sy weirdste idees moontlik te maak.

      “Hei!”

      My kop ruk op. ’n Boskasie donker krulle skud in my kamerdeur. As jy mooi kyk kan jy ’n halwe oog agter die kuif uitmaak.

      “Ja?” sê ek versigtig. Marlie se buie wissel meestal tussen koue fronte, stormwinde en donderweer. As jy gelukkig is, tref jy af en toe ’n bietjie mooiweer, maar nie veel vandat sy opgebreek het met daai skelm bobbejaan nie.

      “Is my skoolromp dalk hier?”

      Uhm? Skoolromp?

      “Nee, ek het dit nie vandag aangehad nie,” sê ek.

      “Snaaks, Albert. Ek het in iets yucky gesit vandag. Ouma het dit gevat en nou weet sy nie wat sy daarmee gemaak het nie.” Sy begin krap tussen die klere op my bed.

      “Hei, hei! Dis nie hier nie, glo my.” En daai bobbejaan was die jongste in ’n reeks aapsoorte, jy kon maklik ’n “Law & Order: Juvenile” van hulle gemaak het. Mag Marlie se volgende keuse ’n koalabeertjie wees.

      “Dan het ’n spook dit seker weggedra.” Sy plons neer op my bed. Sy lyk self ’n bietjie soos ’n hoop deurmekaar klere, sy dra altyd goed wat so los sit. En alles swart. Maar vandag is daar iets anders aan haar.

      Sy lyk soort van … vriendelik?

      Sy beduie na die laptop. “Watter game speel jy?” vra sy.

      “Dis nie ’n game nie,” sê ek. “Dis huiswerk.”

      “Jy joke al weer,” sê Marlie.

      “Nee, regtig! Dis ’n mondeling vir LO.”

      “O? Is LO nie die vak wat jy …?”

      “Ja.”

      Sy bly sit en swaai haar been gemaklik heen en weer.

      “Ek is so halfpad daarmee.” Ek tuur na die laptopskerm om te wys hoe ernstig ek daaroor is.

      “Het jy al ooit gewonder …” Uit die hoek van my oog sien ek hoe Marlie ’n T-hemp van my optel en neersit, ’n paar sokkies eenkant toe skuif. “Sê nou ons ma leef nog?”

      Ek sluk omtrent my verstandtande in en draai om op die stoel. “Wat bedoel jy?”

      “Sê nou sy is nie regtig dood nie, sy bly net op ’n ander plek?” Marlie stoot haar kuif terug, twee hele bruin oë blink nou.

      “Marlie …” Flippit. Ek haal diep asem. “Almal weet ons ma is dood.”

      “Kan jy onthou toe sy dood is?” vra Marlie.

      “Ek was een! Natuurlik kan ek dit nie onthou nie.”

      Marlie vou haar vingers inmekaar. “Ouma het gesê ons ma het Italië toe gegaan. Om iets belangriks daar te gaan doen.”

      Ek staar na haar. “Wanneer het Ouma so gesê? Nou?”

      “Nee, toe ek klein was.”

      Oukei, dan is dit nie heeltemal so erg nie. “Marlie, Ouma is nuts,” sê ek redelik. “Weet jy hoe lank het ek geglo daar bly ’n pers mannetjie en vroutjie in die jakaranda hier agter? En dat daar snags olifante in die straat verbyloop? Dalk onthou jy in elk geval verkeerd.”

      “Maar wat as Ouma een keer ’n regte storie vertel het? Opera. Ek is seker sy het gepraat van opera.” Marlie spring op en loop na my venster toe. Sy skyn helder in die namiddagson, die studs in haar ore flits goud. “Sê nou maar net?”

      Sy kan nie ernstig wees nie.

      “Sê as jy die romp iewers sien.” Sy glip by die kamer uit.

      Ek kyk na die deur en knip my oë. Moet iemand dalk ’n head count van Marlie se varkies doen?

      My inspirasie het verdamp. Ek moet die eerste paragrawe op die skerm weer lees om my kop in rat te kry, toe gorrel ek halfhartig nog so ’n paar sinne. Selfs die Yskoningin behoort my darem nie te vrot punte hiervoor te gee nie. Dalk kry dit my LO-gemiddeld vir hierdie kwartaal bo 40 persent, wat sal help. Laas kwartaal was dit ’n volle 34 persent.

      LO suck tot die vyfde mag. Steve Jobs kan sy seëninge tel hy het nooit nodig gehad om dit te doen nie.

      Ek staan op. Dis in elk geval tyd om aandete te begin. Dis darem een ding wat ek begin doen het om van die wêreld ’n beter plek te maak. Orraait, dis my eie wêreld waarvan ons hier praat, maar ek kan Ouma se kos net nie meer vat nie.

      “Turkse visvingers,” sal sy sê terwyl sy die bak op die tafel neersit. Of “Spicy Switserse hoendervlerkies”, of “Nigella se verrassing”, wat ek dink selfs vir Nigella sou verras het. Maar daai “Chinese herderspastei” is een te veel. As die Chinese dit regtig gereeld eet, kan daar onmoontlik soveel van hulle op die aarde wees.

      Sulke goed pla Pa nie. Jy kan ’n gebraaide rubberplakkie op sy bord skep en hy sal seconds vra. Marlie kla gereeld, maar elke tweede dag eet sy in elk geval net appels en jogurt. Met naels vir nagereg.

      ’n Stapel goed op haar kamervloer vang my oog toe ek daar verbyloop. Ou klere, skoene en lappe. Bo-op lê twee fotoalbums, langsaan ou bokse. Is dit vir een of ander projek? Kan nie vir kuns wees nie, sy het dit laasjaar gelos.

      Voor die kombuis steek ek vas. Op die tafeltjie in die hoek van die gang, waar Ouma altyd blomme sit, is daar geen blompot nie. Net ’n skoolromp.

      Wel, wel. Dis seker wat mens ’n moderne rangskikking noem.

      Ouma pak borde in die kas. Haar hare is klam, en baie oranje. Sy moes weer kleursel aangesit het, haar bont hemp se kraag is ook nat. “Ja, toe?” sê sy vir my. “Ek het al begin wonder of jy vergeet het van kos maak vandag.”

      “Nooit, Ouma,” sê ek terwyl ek die yskas oopmaak en buk vir die liter Fanta Grape in die deur. “Dis mos wors en mash, nè?”

      “En ertjies,”