Gerugte van reën. André P. Brink. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: André P. Brink
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798167369
Скачать книгу
ction>

      André P. Brink

      Gerugte van Reën

      Roman

      Human & Rousseau

      Die uitleg van die teks in hierdie digitale uitgawe van Gerugte van reën mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word.

      Dié land vra water en hy kry bloed

      dié land wat die vuur in hom dra

      Breyten Breytenbach

Memo

      Muggies. ’n Hele swerm muggies vasgepleister teen die voorruit en die veër wat nie wil werk nie. Dit is, verspot genoeg, die eerste beeld wat my opkom as ek aan daardie naweek dink. En dit is net nie meer genoeg nie. Laat ek dit so stel: dit is tyd dat ek nou duidelikheid kry oor wat presies daardie paar dae, Vrydag tot Maandag, gebeur het. Wat eienaardig mag klink, want ek was tog die hele tyd by my positiewe. Maar iets, het ek deurgaans bly voel, iets moet aan my verbygegaan het, ’n onderwaterse iets – soos wanneer mens wakker word en baie goed weet jy het ’n droom van groot belang gedroom, as jy dit net weer kan opspoor, as jy teen daardie water in kan terugroei: maar jy kan net-net nie weer die droom vasgevat kry nie.

      Wat nog altyd ontbreek het, was doodgewoon die tyd. As mens twaalf of vyftien uur per dag besig is met verslae en voorleggings, memoranda, samesprekings, besluite, reëlings of reise, dan is die tyd vir ’n “private bestaan” of vir die terugsoek na betekenisse ’n luukse en herinneringe byna ondenkbaar. Nou sit ek heeltemal onvoorsiens met dié nege dae in Londen, soos in ’n transitowagkamer tussen die konferensie van die United Nations Association waar ons sending vanoggend moes uitstap en my volgende onderhandelinge wat eers aanstaande Donderdag in Tokio begin.

      Ek weet nie wanneer laas dit gebeur het, wanneer laas ek so gevoel het nie. Dis so heeltemal onverwags dat ek, om eerlik te wees, oorstelp voel. As ek my dit die afgelope tien jaar af en toe veroorloof het om ’n week of veertien dae verlof te neem, dan het die hele gesin saamgegaan – Elise en Louis en Ilse – meestal plaas toe. En dan het ek gewoonlik weer alleen vroeër teruggekom om werk in te haal. Selfs dáárdie naweek het ek Louis saamgeneem. Toegegee, daar was soms ’n gesteelde dag of dae, maar dan bereken en met ’n doel: met Bea. Een keer, twee jaar gelede, die hele week in Mosambiek, die laaste keer voor Lourenço Marques Maputo geword het. Die sandpad suide toe, die bougainvillea oordadig en onbehoorlik pers, flentertuintjies en skrophoenders, maer swartmense wat wuif en gryns deur ons stof, en in die skemeraand die rooi en geel van Ponta do Ouro se vakansiehutjies. Ek onthou die onaardse afsondering sonder koerant of radio, en die afdeling Portugese soldate in hul rommelige kakievragmotors, met die klein swart kreupel seuntjie wat hulle as gelukbringer oral met hulle saamgeneem het; en snags, as die dag se opgegaarde hitte ons uitdryf uit die hut, het ons op die strand geslaap en bytplekke opgedoen van muskiete en sandvlooie en God weet wat nog.

      Maar hierdie keer is dit anders. Ek is heeltemal alleen. Sonder berekening of beraming sit ek nou met nege dae wat uit die niks van nêrens in my skoot geval het. Op ’n manier is dit amper skrikwekkend, maar ook ’n sensuele weelde wat my duiselig laat voel. Ek is hier met niemand om aan verslag te doen en niemand om in ag te neem nie. Geen dooies om te begrawe, geen reëlings om te tref, geen skuld om te besweer nie. Net ek. En niemand weet eens in watter hotel ek oorbly nie.

      Ek kon natuurlik vroeër vanaand saam met die ander lede van die handelsending teruggevlieg het Johannesburg toe, soos ek ’n jaar gelede sonder aarseling sou gedoen het. Maar dit beteken twee ekstra reise binne ’n week en daar is iets in my wat teë is daarop, ’n ongedurigheid, ’n onlus. Miskien word mens eenvoudig ouer. Maar dit kan ook wees dat jy ’n stadium bereik waar jy nie kan of wil verder gaan voor jy ’n keer opgeruim het wat agter jou lê nie en nou het hierdie toevalligheid gebeur wat my skielik kans gee om my dié ongewone weelde te veroorloof. Of is dit eerder nood as weelde? Ek verstaan my eie vasgekeerdheid nie: ek moet my daar uitskryf. Dis glo ’n vorm van terapie.

      Lyk dit net retrospektief so, of was daar daardie naweek al iets onwerkliks omtrent wat gebeur? Ek huiwer om te sê: iets apokalipties. In my meer romantiese jare, toe ek nog ernstig aan skryf as ’n loopbaan gedink het, sou ek miskien gepraat het van “die laaste naweek voor die ondergang van die bekende wêreld”, of iets in dier melodramatiese voege. Maar ek is lankal nie meer romanties nie en selfs my humorsin is glo, volgens Bea, hoogstens die positiewe kant van my sinisme.

      Wat op die spel was, was die toekoms van die plaas. Maar dan nie net as ’n stuk grond nie. As ek mag sistematiseer, sou ek in dié vroeë stadium wou beweer dat dit gegaan het om ’n verlies. (Soveel kan tegelyk tot ’n einde kom, selfs al besef mens nie dadelik dat dit ’n einde is nie.) ’n Viervoudige verlies. ’n Vriend, ’n vader, ’n seun, ’n vrou. Iets van dié aard. En dalk nog meer.

      Maar ek wil niks vooropstel nie, en dis nogal moeilik. Want dit plaas seker ’n halwe leeftyd se kondisionering op die spel (syfers en statistiek, programme, prognoses; al die projekte van die vrye onderneming). Ek moet probeer om by iets duidelikers anderkant die diverse feite uit te kom as dit kan. Maar sónder die ingrawery in die ek en die selfontbloting wat in sekere kringe mode is, want my Calvinistiese erfenis frons teen so ’n ontkleedans van die siel.

      Ek wil net – uitsluitlik vir myself, vir niemand anders nie – bestek opneem van wat ek het en kyk wat gebeur. Intellektuele oefening, soos skaak. (My “fotografiese geheue” het baie mense al verbaas en my meermale in onderhandelinge ’n voordeel bo ’n opponent besorg.) Of kom ons noem dit ’n vorm van geestelike massering wat die geknoopte spiere laat ontspan, die senuweepunte streel en uiteindelik met flinke tydsberekening tussen vaardige hande die sogenaamde “complete relief” bring wat, sónder nadraai, ’n nuwe begin moontlik maak.

      Die Thailandse meisietjie (dis te sê ás sy van Thailand is, hulle lieg ook so; maar onmiskenbaar Oosters, en nogal aantreklik) is ’n driekwartier gelede uit met ’n diskrete klik van die deur. (Do not disturb.) Op die dik grysblou hotelmat het ek haar sagte voete nie eens hoor beweeg nie en toe-oog en weldadig op my rug bly lê, met net die klein wit handdoekie oor wat Ma my “ellende” sou genoem het.

      (Hoe sou so ’n masseuse ’n kliënt onthou? Net aan die grootte en fatsoen van sy voël? Of sou sy meer oplettend wees? “Middeljarige man, korterig maar met – hoe sê hulle? – gedistingeerde voorkoms, donker hare gryserig aan die slape, professorale bril op die sogenaamde ‘Romeinse’ neus, ’n bietjie swaar om die middel …”? Mens boet iets in sonder klere.)

      Meestal kry mens te doen met ’n veinsery: hulle beweer hulle is “sekretaresses” of “verkoopsmeisies” of selfs “studente” wat saans ’n paar pond ekstra met massering wil verdien. Die Oosterlinge is nugterder, deegliker, én meer simpatiek: daarom dring ek gewoonlik op hulle aan. En vanaand se meisie uit Thailand – haar naam het ek nie gevra nie – had werklik die vaardigheid van ’n beroepsmasseuse. Ek hou nie van praat terwyl sy met my besig is nie (wat ís daar eintlik om te sê?), maar party beskou dit mos as deel van hul taak om die kliënt aan die praat te hou. Sy nie. Terwyl ek eers op my maag lê en daarna op my rug, het sy stilswyend en rustig en deeglik haar gang gegaan. Teen die einde ook met net die regte mate van subtiliteit ’n keer of wat “toevallig” teen my ereksie verbygestryk sodat die voortsetting met ’n blote glimlag, ’n hoofknik en die minimum woorde in verband met tarief beklink kon word. Sy is sonder omhaal badkamer toe en ek het hoor water tap; vyf minute later het sy kaal teruggekom, so sonder klere nog kleiner as wat sy tevore voorgekom het. ’n Delikate voëltjie van ’n meisie met dun gewrigte, smal heupe, ’n netjiese swart kwassie tussen die bene, en skaars geswolle borsies soos van ’n veertienjarige, met ’n kruisie aan ’n goue kettinkie om haar nek. Ek het haar tepels lui-lui gelê en streel en sien verstyf terwyl sy sedig haar gang met my gaan, haar hare in ’n donker gordyntjie oor haar gesig.

      Die luukse van volslae pasjaskap, die arrogansie van die reddelose male chauvinist? Of die gerieflikste oplossing vir ’n man met ’n “hartprobleem”? (Ek het nog geen seks weer gehad ná daardie middag met Bea nie.) Tog wil ek beweer dat daar vir my méér is in hierdie passiewe oorgawe aan ’n vrou wat behalwe haar fooi niks verder van jou verg nie en buite die gedempte uur van julle samesyn (mooi romantiese frase dié) nooit weer oorweeg hoef te word nie. Dit is een van die min situasies wat mens heeltemal vry laat omdat dit geen enkele verantwoordelikheid