Speurhond Willem en die diamantdiewe. Elizabeth Wasserman. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Elizabeth Wasserman
Издательство: Ingram
Серия: Speurhond Willem
Жанр произведения: Детские приключения
Год издания: 0
isbn: 9780624068914
Скачать книгу
on>

      

      Speurhond Willem en die diamantdiewe

titelblad%20illustrasie.tif

      Elizabeth Wasserman

      Illustrasies deur Chris Venter

       Tafelberg

      Vir Max

      (1998–2011)

      1

      Willem lees tydskrif

      “Watwou!” roep Willem uit. “Ek ken hierdie ou. Hy mag miskien sterk wees, maar slim is hy sowaar nie!”

      Ek loer oor sy skouer en kyk na die foto in die tydskrif waardeur hy blaai. Dit is ’n berig oor die diamantgebied in Namibië, en die foto is van ’n groot wolfhond wat ’n soort koeëlvaste baadjie dra met ’n polisiewapen op.

      “Hy lyk darem nie vir my te onnosel nie. Is wolfhonde nie een van die slimste honderasse nie?” vra ek en loer onderlangs na Willem. Ek hou daarvan om hom soms so ’n bietjie te terg. Hy kan so verwaand wees!

      “Wolfhonde? Gmf!” snork my hond, “jy moenie slim met gehoorsaam verwar nie, Adriaan. Dit is nie dieselfde ding nie!”

      “Hoe so?” wil ek weet.

      “Kyk,” sê Willem, “as jy vir my ’n stok gooi om te gaan haal, doen ek dit?”

      “Ek weet van beter as om te probeer.”

      “Natuurlik! Jy weet ek steur my nie aan ’n stokgooiery nie. Dit is onsinnig om agter ’n simpel stok aan te hol. Vir wat?”

      “Ek sien wat jy bedoel, Willem. Jy is slim, daarom is jy nie gehoorsaam nie.”

      “As jy slimmer goed vir my gee om te doen, sal ek wel gehoorsaam wees.”

      Ek sien dat hierdie gesprek ons nêrens gaan bring nie.

      “Koekies?” vra ek onskuldig.

      Willem spring op en swaai sy stert. “En wat noem jy dit?” lag ek.

      “Kondisionering,” brom hy. “Daaroor het ons honde min beheer.”

      Willem het my die storie vertel van die beroemde wetenskaplike Pawlof wat ’n klokkie gelui het elke keer voor hy sy honde kos gegee het. Na ’n ruk het hulle monde begin water elke keer as hulle die klok hoor lui, met of sonder kos.

      Dit is hoe kondisionering werk en met honde werk dit goed. En slim ofte nie, Willem bly maar ’n brak.

      Ek gaan haal die blik koekies in die kombuis.

      “So wat is die storie van hierdie sersant-majoor Maximiliaan?” beduie ek na die tydskrif wat steeds oop lê. My kieste is vol koekie en Willem moet ook eers klaar kou voor hy my kan antwoord.

      “Lees self,” brom hy.

      Ek tel die tydskrif op en kyk na die berig.

      “ONS VERTROU OP JOU!” MINISTER WENS BEROEMDE SPEURHOND GELUK MET UITSTEKENDE TAAK.

      Tydens die jaarlikse polisiebanket het mi­nister Beudel die beroemde speurhond Maximiliaan, beter bekend as Max, gelukgewens met uitstekende diens en ’n medalje vir dapperheid aan die onverskrokke polisiehond oorhandig.

      Max, ’n sersant in die Namibiese Polisiediens, het tydens ’n klopjag op ’n verlate myn die lewe gered van sy kollega, speur­sersant Goedhals, deur hom onderstebo te spring net toe ’n skerpskutter op die sersant losgebrand het vanuit sy skuilplek in ’n ou donkiekar. Speursersant Goedhals is nie­te­min in die skouer gewond en sterk tans aan in ’n hospitaal in Windhoek.

      Max se nuwe patrolliemaat, konstabel Kolgans, het die speur­hond na die plegtigheid begelei.

      Tot op datum was Maximiliaan verantwoordelik vir die arrestasie van minstens vier diamantsmokkelaars, en weens sy goeie spoorsnywerk is die berugte Aus-smokkelsindikaat nou ook op vlug. Ons hoop dat ons binnekort meer arrestasies gaan sien!

      Willem gee weer ’n snork en blaai aan na ’n advertensie vir hondekos.

      “Nou hiérdie enetjie: oor haar kan hulle maar skryf!”

      Ek kyk na die foto van ’n wollerige brakkie wat saam met haar baas inkopies doen. Sy lyk gelukkig en gesond en volgens die advertensie is dit alles te danke aan daardie besondere handelsmerk hondepille.

      Willem se voorliefde vir wollerige meisie-brakke is welbekend.

      “Skaam jou, Willem, wat van Boris?”

      Willem kry ’n hartseer trek op sy bakkies en ek weet hy verlang. Miskien het hy weer iets nodig om sy aandag af te lei? En ek het nog nie die slegte nuus vir hom vertel nie.

      Dit gaan nie help om dit langer uit te stel nie.

      “Willem …” begin ek. Hy hoor dadelik aan die toon van my stem daar skort iets en loer onderlangs na my. “Daar was ’n afkondiging by die skool vandag. Ons graad gaan hierdie vakansie op die Oranjerivier roei.”

      “Sowaar?” vra Willem skuinsweg en begin weer deur sy tydskrif te blaai.

hoofstuk%201.tif

      “Dit gaan lekker wees. Meneer Van der Merwe sê ons gaan twee-twee in ’n kano roei en in die aand sommerso op die walle van die rivier slaap.”

      Willem kyk stip na ’n berig oor hoe om nuwe werk te soek as jy nie van jou baas hou nie – of as jou baas nie van jou hou nie; dit is min of meer dieselfde ding, nie waar nie?

      Ek weet hy stel nie belang in daardie soort artikel nie. Of soek hy dalk ook nou ’n nuwe baas?

      “Ons sal nie so lank weg wees nie, weet jy. En ons kom ’n week voor die skool begin weer terug – betyds om nog al die dinge te doen wat ons beplan het.”

      Ek het Willem belowe ons kan ’n boomhuis bou dié vakansie, in die groot plataanboom in die agterplaas. Hy was nogal opgewonde daaroor, en het gepraat van ’n basis wat ons daarin kan bou sodat hy onverstoord kan kommunikeer met al sy vriende in die polisiediens regoor die wêreld. En met Boris, natuurlik. Hoofkommissaris Servin was ook entoesiasties oor ons projek en het belowe om vir die toerusting te sorg.

      “Ek kan nie help nie, Willem. Dit is verpligtend vir alle leerlinge, tensy ons ’n sieksertifikaat het.”

      Willem kyk op, sy een wenkbrou belangstellend gelig. Dan laat sak hy weer sy snoet en lees verder.

      “Dis in orde, Adriaan. Dit is goed dat jy bietjie uitkom. Jy lyk hoeka so bleek en maer deesdae,” brom hy.

      Ek sien hoe die wind waai en los hom maar met sy tyd­skrifblaaiery terwyl ek nog koekies in die kombuis gaan soek.

      2

      Voorbereidings

      Die ouers het oorgeneem. Vergaderings word saans in die skoolsaal gehou en lysies word afgerol oor wat die ma’s alles moet saamstuur. Mens sou sweer ons gaan maan toe.

      Pouses staan die ouens en spog oor hoe goed hulle kan roei.

      “Ek het eenkeer tussen drie krokodille deur geroei op my oom se plaas!” spog Bertus.

      “Sowaar?” vra Carla.

      “Ja, en die grootste een het so naby gekom dat ek hom met die roeispaan tussen sy oë moes slaan. Daardie krokodil het geskrik, hoor!”

      Carla se mooi blou oë rek. “Maar daar is seker nie krokodille in die Oranjerivier nie?” vra sy benoud.

      “Mens weet nooit,” sê Bertus en stoot sy bors uit.

      Ek probeer planne maak om nie saam met Karel in ’n kano te beland nie. Karel is my beste vriend, maar hy is nie baie sterk nie en dit klink vir my of die roeiery soms rof kan raak.

      “Adriaan, sal jy