HELENE DE KOCK
Omnibus 4
TIENDES VAN SILWER
GRUISPAD NA TÓG WAT
SKEMERSPEL
Human & Rousseau
1
“Het jy dalk vir my ’n potskerf?” vra Keppie met sy gesig na die muur gekeer. Hy lê al van gisteraand af en staar na die plakkaat van ’n bloedjong Grace Kelly bo sy koshuisbed. Vergeet maar van Julia Roberts en die Pfeiffer-vroumens, sê hy altyd – dáár’s nou vir jou ’n ware Pretty Woman!
Pietman de Waal sug innerlik waar hy voor die venster staan en afkyk op die diepgroen grasperk tussen die twee manskoshuise. Toegegee, dink hy, Grace Kelly was baie mooi, maar dis nie die punt nie. Nee, hy ken mos daai potskerf-storie van ou Keppie. Elke jaar dié tyd soek hy die spreekwoordelike potskerf om die rou sere wat sy toetspunte laat, mee te krap. En elke jaar is Pietman se antwoord dieselfde: Nee, swaerie, jy moes die rampspoed sien kom het. Nou is daar nie eens ’n ashoop naby nie. Al wat jy kan doen, is om jou oudste T-hemp te skeur en daai asbak vol stink stompies op jou kop om te keer. Dalk sien ou prof Henning dit as ’n teken van berou of iets.
Miskien, dink Pietman nou, moet hy Keppie dié jaar anders benader. Hy self het eintlik nie meer raad met hierdie pêl van hom nie. Keppie is die goedheid self; hy is eerlik en lojaal, maar so sonder woema soos ’n pap flitsbattery. Dís nou wat sy akademie aanbetref. Op alle ander gebiede leef hy dat die vonke spat. Maar feite is feite: Keppie sleep Fisika 1 al drie jaar lank en soos wat dit vir Pietman lyk, ken hy nog nie die verskil tussen swaartekrag en sonsverduistering nie. Maar van sterre tel, weet hy als!
“Keppie,” sê Pietman ongeduldig, “lig jou uit die velle en begin swot. Ek is nou keelvol vir jou gekerm.”
“Ekskuus dat ek leef,” brom Keppie net en trek sy kop met die laken toe. Maar Pietman is op dreef.
Buitendien, as hy ’n ding wil sê, dan sê hy hom en dan kan wie ook al nou maar vies wees.
Hy loop pluk die duvet van sy kamermaat se swart krulle af. Keppie se oë vlieg oop en hy veer orent.
“Is jy befoeterd, my ou?” wil hy weet. “Géé my goed!”
“Nee,” antwoord Pietman bedaard, tree vorentoe en gooi die beddegoed met ’n boog by die oop venster uit. Maar hy weet mos hoe vinnig Keppie is en die duvet het nog nie op die grasperk onder beland nie toe is die man al op hom en hy keer die hou net betyds met ’n voorarm weg. Dis net arms en bene soos hulle oor die koshuisvloer rol. Maar hulle ken mekaar se baklei. Hulle is nie verniet al drie jaar lank kamermaats nie. En vanoggend is hulle gou moeg; bly sommer in ’n hopie op die mat in die middel van die vloer lê. Dis Keppie se mat wat hy glo by sy groottante geërf het en dit bestaan feitlik nog net uit fraiings.
“Klim af van my mat af,” sê hy dikbek, “en loop haal my beddegoed.”
“Ek sal dit oorweeg,” sê Pietman en strek hom lui uit, “maar dan moet jy begin leer, swaerie. Jy gaan wragtig nooit graad vang nie!”
Keppie se donkerbruin oë blits meteens onder die woeste kuif en dit lyk of hy hom moet inhou om nie weer ’n hou na Pietman te mik nie. Toe blaas hy sy asem hard deur sy neus uit, sy kleur hoog.
“Luister, pêl, my akademiese welstand is my saak en net myne. Verstaan?”
“Nee!” sê Pietman driftig. “Ek verstaan nie waarom jy niks aan die saak doen nie! Swot en kry klaar!”
Keppie trek sy sterk vingers deur sy lang nekhare en kyk speurend na Pietman. “Jy weet, my ou, jy klink nou nes my stiefma. Sy wil ook altyd hê ek moet klaarkry. En ek is nie lus nie. Dis lekker op die kampus. Die lewe hier pas my.” Daar is iets soos uitdaging in die groot donker oë wat hy op Pietman rig en ’n oomblik verstom dit sy vriend werklik. Dis nie Keppie dié nie, dink hy. Hy is nie soos gewoonlik net sommer vies omdat hy aangespreek word nie. Daar is iets anders fout.
“Wassit met jou?” vra Pietman en stut homself op een elmboog sodat hy met oorgawe kan luister.
Keppie sit regop en slaan sy arms om sy opgetrekte knieë, sy mond saamgepers. “Ag, dis sommer niks. Eintlik moet ek dit maar net doen en klaarkry.”
“Wat?” por Pietman, nou nogal geïnteresseerd. Keppie lyk werklik omgekrap.
“Huis toe gaan,” sê hy sugtend. “Vir die hele naweek.”
“O . . . ek sien,” sê Pietman. Nie dat dit die waarheid is nie. Nee. Maar hy weet mos dit gaan nou niks help om verder iets uit Keppie te probeer kry nie. Hierdie huistoeganery van hom is al van hul eerste jaar af ’n netelige kwessie. Hy sê niks en ’n mens moet hom liewer ook nie uitvra nie. Toe een van hul vriende hom destyds speurend begin uitvra het na sy herkoms, het hy kort en kragtig gereageer: “Kyk, man, ons is van die gewone Fouries. Dié sonder ’n stamboom. Hoe ons grootvaar aan die suidpunt beland het, weet ek nie en ek stel ook nie belang nie. Al wat tel, is dat ek, Keppie Fourie, nou hier op Tuks is. Orraait?” En toe die knaende mannetjie nog wou karring, het hy hom voor die bors aan sy Disneyworld-T-hempie vasgevat en geskud-skud. “Luister, my ou. Ek gaan dit net een keer sê. Ek en my soort is nou nie agterlik nie, maar ons is eenvoudig. En ons het nie geld nie. My beursie is leeg – soos in boomskraap. Ek is hier omdat my oorlede ma se tante daarvoor sorg. Afgesien van my kewertjie, besit ek zero. Dus is ek die vrygewigste ou op kampus. Ek het niks om uit te leen nie en daarom bied ek alles gratis aan!”
Die ou het sy duur T-hempie uit Keppie se vingers losgeruk en woedend gesê: “Ek het niks nodig nie, Fourie! My pa sorg goed vir ons!” En toe die kring se belangstelling luiweg in sy rigting draai, het hy sy meerkatgesig in Keppie s’n gedruk en gesmaal: “My pa dien in die topbestuur van hierdie land se vervoerwese, ou pêl, en ek ry ’n BMW!”
Die mannetjie is op die plek uitgejou, want sy mond was hopeloos te groot. Maar Keppie het hom meteens met byna kameraadskaplike vriendelikheid betrag en gesê: “Nou toe nou! Dat ons nou soveel gemeen moet hê, nè? My outoppie bestuur mos ook. Jy kan maar sê hy is ook in die vervoerwese!”
Die manne wou hulle breek. Blykbaar was dit net die meerkat wat nog nie geweet het nie: Keppie se pa werk op die paaie. Dit het die meeste van hulle al tydens oriëntering uitgevind toe die seniors wou uitvis wat almal se pappies vir ’n lewe doen – indien een van hulle dalk ietsie op die kampus doseer. Keppie het hulle dadelik gerusgestel. Sy pappie is geensins ’n pretbederwer nie. Sy werk is om te sorg dat almal sonder hobbels kom waar hulle moet. Seepglad van punt A na punt B. Dis so eenvoudig soos dit.
Nee, Keppie dra sy herkoms met ’n vrolike glimlag – solank niemand te veel uitvra nie. Dis hy wat Pietman is wat ongemaklik was toe hy moes sê dat hy nie ’n pa het nie. Oorlede toe hy tien was. Maar hy was ’n dokter. Dit help, die ding dat sy pa darem iets was, so het hy homself al meermale probeer troos. Want die ou bekende, hol gevoel het steeds in hom kom lê as hy ander ouens saam met hul pa’s sien. Soms beny hy selfs vir Keppie. Padwerker ofte nie. Hy hét immers nog ’n pa. Iemand op wie se skouer hy kan leun. Al is die iemand nie juis ’n iets nie.
Partykeer wil-wil Pietman hom skaam as hy so aan die man dink, maar dan luister hy maar soos die ouens praat en hy besef al hoe meer: Geld praat en posisie imponeer. En ’n man is op universiteit om die een of albei dinge te doen: om te leer hoe om met geld te werk sonder dat dit opraak, en om so slim te raak dat ander mense jou as diplomaties beskou.
Hy bekyk Keppie soos hy daar sit met die wêreld se gewig wat sy fris skouers afrem. Hy klik met sy tong.
“Jy weet, pêl, jy maak die lewe vir jouself onnodig moeilik. Gaan ’n slag huis toe en geniet dit. Wie weet hoe lank jy en jou pa mekaar nog het.”
Keppie se blinkbruin oë skuif nadenkend na sy kant toe. “Jy weet nie hoe baie dink ek daaraan nie, Pieta. Maar dit maak dit nog nie maklik om huis toe te gaan nie.” Hy spring meteens op. “Ek gaan nou maar my beddegoed haal en stort aangesien jy my rus so verstoor het. Kyk dat niemand aan my plakkaat vat nie, hoor!”
“Goed,” beloof Pietman laggend soos elke ander oggend. Vandat een van die ouens vir Grace Kelly ’n snor geteken het toe Keppie een nag om twaalfuur ’n aria