Jürgen Banscherus
Speurder Kwaaikofski
Vuilspel en nat voete
Vertaal deur Kobus Geldenhuys
Met illustrasies deur Ralf Butschkow
Human & Rousseau
HOOFSTUK 1
’n Jong Sherlock Holmes kan nie lewe van die min geld wat hy met sy speurwerk verdien nie. Maar die vyf pakkies Carpenters wat ek as betaling vra, hou my darem vir ’n week aan die kou. Ek kry belaglik min sakgeld, so ek droom verniet daarvan om duur goed te koop.
Nadat ek die groot kompetisie teen die baasspeurder, Koning, verloor het, het ek geleer hoe baie ’n rekenaar ’n mens in my beroep kan help. So van toe af kerm ek kort-kort by my ma om vir my een te koop. Ek het selfs al belowe ek sal vir die volgende twintig jaar soggens, smiddags en saans al die skottelgoed was. Maar haar hart bly hard.
“Eerstens,” sê sy altyd, “wil ek nie hê jy moet dag en nag voor die skerm sit en rekenaarspeletjies speel waarin jy monsters doodskiet nie.”
“En tweedens?” vra ek dan.
“En tweedens het ons nie geld vir ’n rekenaar nie.”
Ek kan my ma nog oorreed dat ek nie heeltyd rekenaarspeletjies sal speel nie. Ek het ’n rekenaar nodig vir my speursake.
Maar ek kan niks teen Ma se tweede punt sê nie. Vandat my pa ons gelos het, moet ons elke sent omdraai.
Nogtans, ek gaan nie moed opgee nie. ’n Goeie speurder moet geduld hê en deurdruk tot hy sy doel bereik. Hy moet ook ’n goeie verbeelding hê.
Ek het oorgenoeg van al twee hierdie goed. Of so glo ek.
Ek dink lank na oor alles. Twee dae en ses kougomme lank. En skielik dink ek aan ’n plan om my eie rekenaar in die hande te kry. Dis glad nie ’n watwonderse plan nie. Of miskien is dit. Jy kan self daaroor besluit …
Dis kort voor die somervakansie.
Ek en my ma het besluit ons gaan dié keer nie op vakansie nie. Ons moes ’n paar maande terug ’n nuwe vrieskas koop en ’n volvloermat in die sitkamer laat insit. So my ma sê ons is platsak.
Dit pas my eintlik dat ons nie weggaan nie. Dit beteken ek kan die volgende ses weke ekstra geld verdien. My plan is eenvoudig: werk, maak geld, koop ’n rekenaar.
Ek gaan praat eerste met die bakker om die draai van ons woonstelblok. Ek sê ek sal sy brood soggens met my fiets aflewer. Maar hy skud sy kop. “Jammer, Kwaaikofski. Hulle sal sê dis kinderarbeid. As iemand daarvan uitvind, is ek in die moeilikheid.”
By die pers loop ek my ook vas toe ek vra of ek hulle oggendkoerant by mense kan aflewer. “Dis buite die kwessie, boetman,” sê ’n man met hare wat blink van die jel. “Kom gerus oor ’n paar jaar terug. Jy’s op die oomblik nog te jonk. Dis onwettig om kinders in diens te neem.”
Oral waar ek gaan, is dit dieselfde storie. Almal sê ek is te jonk en hulle wil nie in die moeilikheid kom nie, want kinderarbeid is teen die wet.
Flippit! Dis nie asof ek wil klippe kap of klaviere rondry nie. Wat het brood of koerante aflewer te doen met kinderarbeid?
Soos altyd wanneer ek raadop is, gaan kuier ek by Olga.
Ek koop my gunsteling Carpenters kougom by haar kiosk. Sy help my altyd – en nie net met die speursake wat ek ondersoek nie.
Olga skuif ’n glas koeldrank oor die toonbank na my toe en vra: “Pla iets, my skat?”
“Ja,” brom ek.
Eerstens omdat dit die waarheid is. Ek het verniet probeer om vakansiewerk te kry, en dit maak my sommer baie suur.
En tweedens haat ek dit as Olga my haar “skat” noem.
“’n Nuwe saak?” vra sy.
Ek skud my kop, drink die glas koeldrank met een sluk op en stop ’n Carpenters in my mond.
Toe vertel ek vir Olga van my simpel dag en die simpel mense wat nie vir my werk wil gee nie.
Soos altyd laat sy my eers klaar praat voor sy iets sê.
“Ek sal jou graag in diens wil neem, my engel …”
Jig. “Engel” is nog erger as “skat”!
“Maar ek kom net-net uit op die geld wat ek maak.”
“Ek weet,” sug ek en mik om te loop.
Maar Olga hou my aan die arm vas. “Ek het vir jou ’n saak,” sê sy.
’n Ondersoek? Ek wil liewer vir ses weke ordentlike geld verdien. Maar as niemand vir my werk wil gee nie, kan ek netsowel doen waarin ek goed is en speurder speel.
“Laat ek hoor,” sê ek.
“Gaan kyk hoe lyk my Mercedes,” sê Olga. “Maak gou!” sê sy toe ek frons.
Die liefde van haar lewe is soos gewoonlik
oorkant die straat geparkeer sodat sy dit van haar kiosk af kan dophou. Ek dink sy’s selfs nog liewer vir haar kar as vir my. Dit sal my nie verbaas as sy die ding saans saam met haar bed toe vat nie.
Die kar is mooi skoon gewas en die chroomdele blink in die son.
“Wat’s fout met jou kar?” roep ek van oorkant die straat af.
“Is jy blind?” roep Olga terug. “Die bestuurdersdeur, Kwaaikofski, die bestuurdersdeur!”
Ek kyk weer – en sien waarvan sy praat. Oor die hele breedte van die deur loop daar ’n diep krapmerk.
“Is dit nie verskriklik nie?” vra Olga toe ek weer voor haar toonbank staan. Haar oë blink van die trane. Sowaar!
“Wie was dit?” wil ek weet.
Olga haal ’n yslike sakdoek met blomme op uit en blaas haar neus hard. “Ek weet nie, Kwaaikofski. Maar as ek die vuilgoed in die hande kry, dan … dan …” Sy sluk swaar. “Sal jy die saak ondersoek?”
Ek knik.
“Teen jou gewone betaling?”
Ek knik weer.
“Wanneer het jy die krapmerk raakgesien?” vra ek.
Olga dink vir ’n oomblik na. “Gister,” antwoord sy uiteindelik. “Nadat ek met my kar deur die wassery gery het.”
“Was jy die kar nie self nie?” vra ek verstom. Ek het nog altyd gedink sy het vir haar liefling ’n ekstragroot bad in haar tuin laat bou. Met spesiale spuite soos in ’n jacuzzi.
“Gewoonlik, ja,” antwoord Olga vinnig en lyk effens rooi in die gesig. “Maar ek