Eggo's in die skimberge. Kobie Kruger. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Kobie Kruger
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Детская фантастика
Год издания: 0
isbn: 9780624068341
Скачать книгу
n>

      

      Eggo’s

      in die

      Skimberge

      Kobie Krüger

      Tafelberg

      Vir Caitlin, Kelly en Sabrina,

      met baie liefde.

      1

      Iewers is daar dalk ’n wonderlike wêreld

      Gansdal se leerders borrel by die klaskamers uit. Die somervakansie het begin. By die graadvyfklaskamer kom ’n donkerkopmeisie haastig uitgestap en loop in ’n groot seun vas. Die seun se naam is Bertram. Hy is soos ’n gorilla gebou. Die meisie steier agteruit van die botsing.

      “Askies,” prewel sy.

      “Aspoestertjie!” sê Bertram spottend. “Hoekom kyk jy nie waar jy loop nie? Is jou kop al weer vol stof en spinnerakke?”

      Die meisie antwoord nie. Sy begin wegstap.

      “Wat doen jy die vakansie, Aspoestertjie?” hou Bertram aan om haar te tart. “Bly jy al weer alleen by die huis?”

      Henk Velder is nog in die klaskamer langsaan toe hy hoor hoe Bertram die meisie terg. Hy weet wie die meisie is – Mattie Moolman. Bertram terg haar altyd. Henk se bloed kook terwyl hy vinnig by die klaskamer uitstap. “Bertram – hou jou mond!” waarsku hy.

      “Henkie!” sê Bertram vermakerig en draai om. “Dink jy miskien ek sal my mond hou omdat jý sê ek moet?”

      “Ek weet jy kan nie jou mond hou nie, Bertram – jy borrel oor van onnosele dinge om te sê – maar sê dit eerder vir mý!”

      “Oukei, man! Kom ons gesels oor jou: sien jy uit na jou vakansie saam met die ganse en die hoenders? Ha-ha!”

      “Ha-ha!” lag nog iemand. Dit is Bertram se broer, Boetman. Hy is ook soos ’n gorilla gebou. “Jy moet lekker hoenderhokke skoonmaak, Henkie!” sê hy luidrugtig en kom staan by Bertram. “Ons sal aan jou dink daar by die see.”

      Henk ignoreer hulle en begin wegstap, maar hy gaan staan weer en kyk verras na Mattie Moolman. Sy het omgevlieg en kom vinnig nader. Dit lyk of daar vonke uit haar oë spat. Sy kom staan met gevoude arms voor die twee boelies.

      “Dink julle al weer julle is snaaks?” sis sy vir hulle. “Is julle te vervelig om te verstaan hoe vervelig julle is?”

      ’n Klompie leerders staan nou stil en kyk belangstellend na Mattie; hulle het haar nog nooit kwaad gesien nie. Bertram en Boetman gaap haar oopmond aan.

      “En wat gaan júlle twee miskien die vakansie doen?” vra Mattie vir hulle. “Ek weet julle gaan see toe, maar wat doen vervelige mense by die see?”

      Bertram en Boetman sê niks. Hulle lyk nog steeds soos twee stomgeslaande gorillas.

      “Ha!” sê Mattie. “Die vraag is te moeilik vir julle! Toemaar, ek weet wat julle doen – julle lê natuurlik heeldag op die strand en niksdoen! Dis hoe vervelig julle is!”

      “Ha!” sê Bertram. Sy voorkop is vol plooie soos hy probeer dink wat om nog te sê. Boetman se mond beweeg, maar daar kom nie woorde uit nie.

      “Moenie so hard dink nie, julle twee!” sê Mattie. “Nou-nou ontplof julle breins – die bietjie wat daar is! Kom ek vertel julle liewers iets: hier’s ’n rivier langs die dorp – ingeval julle dit nie weet nie. En raai wat? Terwyl julle vakansies op die strand lê en niksdoen, het ek en Henk hope avonture op die rivier!”

      “H’n?” vra Boetman.

      Bertram frons net en snorklag.

      “Is ‘avonture’ vir julle ’n vreemde woord?” vra Mattie. “Ek wou julle vertel het watse avontuur ons die vakansie gaan hê, maar wat help dit as julle nie eers die woord ken nie?” Sy draai om en stap kop omhoog weg.

      Bertram en Boetman kyk haar verbaas agterna. Die leerders wat gaan staan het, giggel en lag, en stap weer aan.

      Henk skud sy kop en begin ook stap. Hy het nie geweet Mattie kan haar humeur verloor nie. Dit was lekker om te sien hoe sy die twee boelies aanvat. Hulle kon nie glo sy doen dit nie – hulle koppe het heeltemal gaan staan. Eintlik is Bertram en Boetman nie so gevaarlik soos hulle lyk nie. Hulle is sommer net lummels met groot bekke, maar nie almal weet dit nie.

      Hý weet dit. Hy woon al vyf jaar lank saam met hulle. Hulle is sy neefs.

      Henk was sewe jaar oud toe hy by sy oom en tante en twee nefies op hul plaas in die Gansriviervallei kom woon het. Henk lyk nie soos sy neefs nie. Hy is skraal met vaalblonde hare en daar is niks omtrent sy voorkoms wat mens aan ’n gorilla laat dink nie. Aan die begin was Henk bang vir Bertram en Boetman. Toe vind hy uit dat dit maklik is om vir hulle weg te hardloop. Hulle haat dit om te hardloop.

      Hulle haat dit ook om te werk.

      Henk werk hard op die plaas. Elke dag moet hy die ganse en die hoenders kos gee, hul drinkbakke was en hul hokke skoonmaak. Bertram en Boetman ken die kuns om geen vinger te verroer nie. Dit is vir hulle heerlik om te kyk hoe Henk werk. As hulle verveeld raak, kom verbrou hulle sy werk en dra stories oor hom aan. Somervakansies is vir Henk lekker, want dan gaan Bertram en Boetman saam met vriende see toe en bly die hele vakansie weg.

      Die son bak warm terwyl Henk aanstap plaas toe. Op die horison bewe die bulte asof hulle aan die kook is. Bertram en Boetman ry op hul fietse by Henk verby en skree iets oor avonture saam met ’n stupid meisiekind.

      “Sy moet jou liewer help ganse en hoenders oppas!” skree Bertram.

      “Leer haar hoe om hoenderhokke skoon te maak!” skree Boetman.

      Hulle lag so vir hulle eie grappe dat hulle amper van hul fietse afval.

      Henk steur hom nie aan hulle nie. Hy loop en dink hoe lekker dit gaan wees om vir vyf weke lank nie onnosele grappe te hoor nie. Sy ore is moeg vir nonsens en lawaai. Hy sien uit na stiller dae.

      Ongelukkig kan tannie Berta ook ’n groot geraas maak. Oom Gys maak minder geraas, maar hy is knorrig en hy grom baie.

      Gelukkig gaan oom Gys en tannie Berta ook later in die vakansie see toe, gewoonlik van so Kersfees tot Nuwejaar. Dan is hy lekker alleen op die plaas.

      Hy en die spul ganse en die horde hoenders.

      Hulle maak hom ook partymaal ’n bietjie mal, maar hulle stuur hom minstens nie rond nie. Hulle probeer ook nie snaaks wees nie, en hulle dra nie stories aan nie. Die werk kom gouer klaar en hy het meer tyd om te doen wat hy wil.

      Hy wil Mattie Moolman gaan help om haar boomhuis klaar te bou. Dis in ’n melkhoutboom langs die rivier naby haar huis. Dit rus op twee takke wat oor die water hang. Hy moet sorg dat die vloer stewig is, dink hy. Dit moet ’n veilige boomhuis wees. Daar is niemand wat ’n ogie oor Mattie hou nie. Sy bly vakansies alleen by die huis omdat haar gesin sommer net van haar vergeet.

      Hy wonder oor die avonture waarvan sy netnou gepraat het.

      Watter avonture?

      Daar was die keer toe die hangbrug wat hulle besig was om te bou, gebreek het, en hulle hulle disnis geval het. En die dag toe hulle met die vlot op die rivier tussen rotse vasgespoel en amper verdrink het. Maar noem mens dit avonture, of ongelukke?

      Watse avontuur het sy bedoel gaan hulle die vakansie hê?

      Beplan sy dalk iets waarvan hy nie weet nie? ’n Regte avontuur? Dit sal ’n kort avontuur moet wees. Mattie weet mos hy kan nie vir lank van die plaas af wegkom nie. Miskien het sy sommer dinge opgemaak om Bertram en Boetman stil te kry.

      Henk stap by die plaashek in en gaan staan. Hy kry warm. Die plaaswerf is doodstil. Niks roer nie. Selfs die bloekombome lyk of hulle staan en slaap. Dalk kan hy gou wegglip en in die spruit gaan swem, dink hy.

      Net toe hy wegdraai, spat die stilte aan skerwe.

      “HENK! Kóm nou! Hier’s werk!” Dis tannie Berta wat van die huis af gil. Die ganse begin histeries skree, soos hulle altyd maak wanneer tannie Berta se stem oor die werf weergalm.

      Agter