Willem Poprok (skooluitgawe). Derick van der Walt. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Derick van der Walt
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780624065944
Скачать книгу

      

      Willem Poprok

      Skooluitgawe

      Derick van der Walt

      Tafelberg

      1. Die land sonder melk en heuning

      Sy ma het gespringclean. Dis elke April se storie al is dit nie “spring” nie, en niks is nou weer soos dit was nie.

      Sy goed is op plekke waar hy dit nie wil hê nie. Sy CD’s is terug in hulle kassies en staan op een van die boekrak se onderste rakke. Alles op sy lessenaar is in netjiese hopies gepak. Hopies wat hy een-een sal moet deursoek as hy iets wil hê.

      As hy darem dink hoe opgewonde hy en Schalk daai oggend in Januarie was toe hulle vir die eerste keer by die hoërskool se hekke ingestap het. Dit was vir hulle soos die land van melk en heuning, van goed wat jy kan doen waaroor jy nog nie eens kon dróóm nie.

      Van al die uitsien het net die hopie hel oorgebly wat sy ma in ’n netjiese stapeltjie op sy lessenaar gepak het: sy handboeke. Hy druk die wiskundeboek wat bo lê vies heel onder in.

      En die simpel foto is terug op sy boekrak. Waar sou sy ma dit uitgekrap het? Hy en sy pa met hulle groen Springbokrugbytruie aan. Hand om die lyf staan hulle. Sy pa vrolik, bier in die hand, by die pa-en-seun-aand in die laerskool se lapa.

      Hy onthou hy het tóé al besluit hy is klaar met rugby. Hy moes nog net aan ’n manier dink om dit vir sy pa te sê. Die briefie! Sou sy ma dit gesien het?

      Hy begin soek paniekerig tussen die hopie handboeke, kry niks. Dis weg, dink hy verslae.

      “Willem!” roep sy ma uit die kombuis.

      Hy antwoord nie, gaan sit op sy bed. Hy is lus en maak of hy slaap. Hy weet wat wag: Lydia en die parkie … En ’n briefie wat eensaam in die middel van die kombuistafel lê waar almal dit kan sien.

      Drie maande gelede was dit nog lekker om met Lydia in haar stootwaen­tjie deur die parkie te hardloop en haar op ’n swaai te stoot totdat sy kraai van die lag. Nou werk dít ook nie meer nie.

      Hy staan met ’n sug op en loop kombuis toe. Sy ma is besig om Lydia in haar stootwaentjie vas te gespe.

      “Jou kamer is nou skoon. Probeer dit tog so hou,” sê sy terwyl sy orent kom.

      Hy was op die punt om te sê hy kan nie vandag die parkie-ding doen nie, maar Lydia klap haar hande en sê opgewonde: “Ry, ry!” Hy weet hy kan nie nee sê nie.

      Sy ma staan in die agterdeur terwyl hy die stootwaentjie by die trappies afsukkel.

      “Ek het … toe ek jou lessenaar reggepak het …” Sy aarsel. “Ek sien meneer Van Rensburg het vir ons ’n brief gestuur … al drie dae gelede.”

      Hy voel hy bloos. Hy kyk nie op nie, vroetel onnodig aan die stootwaen­tjie se wiele.

      “Jy moet dit miskien maar vanaand vir Pa gee. Dan is dit verby.”

      “Sal Ma nie maar nie … terwyl ons weg is?”

      Sy skud haar kop. “Dis nie die einde van die wêreld nie, Willem!” roep sy agter hom aan toe hulle reeds om die hoek is.

      Ja, ja, dink hy. Dis maklik om te praat. Dis ék wat met die gemors sit.

      Die ander sit al aan die eetkamertafel toe Willem op sy plek inskuif. Coenie vertel ’n lang storie oor sy matriekklas se planne om geld in te samel vir ’n geskenk vir die skool voor hulle die einde van die jaar die pad vat. Willem sien sy pa luister ongeduldig, sy kop op ’n ander plek. Sy ma stuur die bakke rond.

      “Hoekom is die gras nog nie gesny nie?” vra sy pa geïrriteerd terwyl hy met niemand spesifiek praat nie.

      “Dis Franna se beurt,” sê Coenie.

      “Dis Willem se beurt,” sê Franna.

      Willem kan nie onthou wie se beurt dit is nie. Hy gee ook nie om nie. Dis gewoonlik maar sy beurt.

      “Willem het verlede week gesny. Dis jou beurt,” sê Coenie vir Franna.

      “Ek kry hooikoors. Miskien moet ek nie meer … Hoekom wil niemand my glo nie!” sê Franna verontwaardig.

      “Ek wil nie ’n diskussie1 hieroor voer nie. Die gras moet môre gesny wees as ek by die huis kom,” beëindig hulle pa die gesprek. Hulle eet ’n ruk in stilte.

      “Hoe is dit dan met julle en die somme?” vra hulle pa onverwags.

      Hier kom dit nou, dink Willem moedeloos. Hy het gehoop sy pa sal sy sê sê as hulle alleen is.

      “Hans …” Hulle ma gluur oor haar bril vir hulle pa.

      “Koeks, ek bedoel maar net … Hoe gaan hulle eendag die besigheid se boeke doen as hulle nie …?”

      “Hans, ék doen die slaghuis se boeke en ek het nie wiskunde op skool gehad nie,” sê sy kwaai.

      Besigheid, of slagtery. Hulle pa praat nie soos ander mense van ’n slaghuis nie.

      “Hans, ek het dan gevra dit moet wag tot ons klaar geëet het,” sê hulle ma vies.

      “Ek weet, Koeks. Dis maar net …”

      Hulle eet in stilte verder.

      “Wie se beurt is dit om skottelgoed te was?” vra hulle ma terwyl sy die borde bymekaarmaak.

      “Dis Franna se beurt,” sê Coenie.

      “Dis Willem se beurt,” sê Franna.

      Willem kan nie onthou wie se beurt dit is nie. Hy gee ook nie om nie. Whatever.

      “Francois, as ek reg onthou, het Coenie gisteraand gewas. Hy’t mos die glas … Ja,” sê hulle ma dan beslis, “dis jou beurt.”

      “Jaa, Maa.” Franna volg haar kombuis toe en skouer Willem in die verbygaan. “Is jý die moroon wat nie kan wiskunde doen nie?” vra hy, net hard genoeg sodat hulle pa nie kan hoor nie.

      Willem probeer terugstamp, maar Franna koes en hy verloor sy balans. Hy tref die muur met ’n slag. Franna grynslag terwyl hy deur die kombuisdeur verdwyn.

      “Willem, skink vir my ’n knertsie en dan kom sit jy by my op die stoep,” sê sy pa.

      Wat is daar om te sê? wonder Willem. Ek kán nie flippen wiskunde doen nie en klaar. Ek wíl nie flippen wiskunde doen nie en klaar.

      Sy pa sit en wieg in die rottangstoel op die agterstoep; Willem kan hom vaagweg in die donker uitmaak. Hy oorhandig die glas en gaan sit op die stoeptrappie. Flip sukkel-sukkel nader en kom lê by hom. Hy krap die hond se maag met sy voet. Hy wag.

      “Kan Franna of Coenie jou nie met die wiskunde help nie?” vra sy pa oplaas.

      Willem antwoord nie, en aan sy pa se gesug weet hy sy pa verwag ook nie regtig ’n antwoord nie.

      “Ons moet maar môre vroeg by meneer Van Rensburg ’n draai maak en hoor wat gaan vir wat.”

      “Ja, Pa.”

      Ten minste lyk dit of sy pa nie agtergekom het die briefie is al drie dae oud nie.

      2. Die dooie argitek

      “Delila” maak Willem wakker soos elke oggend die afgelope twee weke. Of dis iets wat soos “Delila” moet klink.

      Bieep-bieep-bieep-bieep soos trappe van laag na hoog, en dan weer bieep-bieep-bieep-bieep van hoog na laag. Dis ’n onaardse gekerm en dis vals en dis verskriklik. Willem kreun en druk sy kop onder sy kussing in.

      Coenie en sy beuel, soos sy pa dit noem. Coenie sien sleg en kan skaars ’n rugbybal op ’n rugbyveld raaksien, wat nog van vang. Daarom hóéf Coenie nie rugby te speel nie. Coenie ontgin nou ander talente, het sy ma een aand vir tannie Snip oor die foon gesê. Soos in die skool se blaasorkes, waar Willem vermoed Coenie nie sommer ’n verlore talent sal opspoor nie.

      Willem kan sien sy ma en pa byt ook soggens op hulle tande oor die lawaai wanneer almal toustaan vir die badkamer. Hy kan nie dink dat daar iemand anders op hierdie aarde is wie se dag só begin