Die vierletterwoord. Nelia Engelbrecht. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Nelia Engelbrecht
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780624062943
Скачать книгу
>

      

title%20page.jpg

      Nelia Engelbrecht

      Die vierletterwoord

title%20page.jpg

      Tafelberg

      Hierdie boek word opgedra aan my hartsmense:

      Attie, Adriaan, JanDirk en Elmarie.

      Die see maak bokant sy kop toe. Sy oë brand van die soutwater. Dan sien hy die figuur voor hom. Sy hande vat klere vas en hy begin boontoe beur. Hulle snak albei na asem toe hulle bo kom. Hy sukkel totdat hy hom op die rotse het en probeer dan agterna klim. Gly. Vat die man op die rots se hand vas. Voel hoe die see aan sy lyf pluk.

      Dan verdwyn die son.

butterflies

      1

      Dis môre my missing pa se verjaarsdag en ek probeer al heeldag om nie daaraan te dink nie.

      Stay in the moment. Dis my survival-mantra.

      Op die oomblik is dit darem nie te moeilik nie, want ek is diep in die dinges by my beste vriendin. Actually, ek dink sy haat my.

      Ek staan agter Penny en kyk saam met haar in die spieël.

      “Dis skééf!”sê sy.

      “Ag, jy verbeel jou,” lieg ek.

      “Is nie – my hare is baie korter hierdie kant as aan die ander kant. En môre begin die skool!”

      “Ja, en jy’t die hele vakansie gehad om jou hare te laat sny, maar nee, vandag kerm jy oor jou hare te lank is – noudat al die haarkappers in Wilgendal vol bespreek is.”

      Ek gooi die skêr op die spieëlkas neer en gaan lê op my bed. Penny staar na haarself in die spieël terwyl sy die een kant se hare trek, asof dit kougom is wat sy langer kan rek.

      “Duane. Bel hom. Nou!” Die wysvinger wat sy in my rigting rondswaai, bewe effens.

      Ek kom regop. “Oukei, man, chill tog net.”

      Duane antwoord gelukkig dadelik sy foon. “Hi, ons het ’n hare-krisis. Jy moet kom help, anders moet Penny môre met ’n hoed skool toe gaan.”

      “Moenie vir my sê julle girls het weer met mekaar se hare gekarring nie,” sê Duane kwaai.

      “Wel, laat ek dit so stel: Penny se linkeroor steek meer uit as haar regteroor.”

      “Jééz, Clarissa. Sê vir Penny ek kom.”

      Ek lui af terwyl Duane nog iets brom van ander mense se gaggies wat hy altyd moet uitsorteer.

      “Ontspan, Duane is op pad.”

      “Ek moes van die begin af liewer dat hy my hare sny. Maar nee, jy dink mos jy kan alles op aarde doen.”

      Ek en Penny is al van graad een af maats. Ons het saam voortande gewissel, gekys geraak en saam ons eerste bra’s gekoop. Mens kan maar sê ons is soos familie – dié dat ons so lekker baklei.

      “Gaan maak vir my koffie, ek ly aan skok,” beveel Penny en kyk my verwytend aan.

      “Ek’s nie jou slaaf nie, weet jy?” sê ek, maar staan tog op en stap kombuis toe.

      My ma kom by die agterdeur in toe ek die ketel aansit. Sy dra twee sakke kruideniersware.

      “Hallo, Clarissa. Maak bietjie vir my plek op die tafel, asseblief?”

      “Hi.” Ek skuif die bak vrugte op die kombuistafel een­kant toe. “Hoe is Ma se nuwe baas toe?”

      Die eienaar van die eiendomsbesigheid waar sy werk, het einde verlede jaar by die see gaan aftree en sy seun het van die stad af gekom om die besigheid oor te neem. Dit was vandag die nuwe baas se eerste dag.

      “Hy is heel gaaf – ek dink ons gaan lekker saamwerk,” sê sy terwyl sy pakke gevriesde groente in die vrieskas pak. “Ek het Penny se bromfiets hier buite onder die afdak gesien. Maak jy vir julle koffie?”

      “Ja. Wil Ma tee hê?”

      “Nee, dankie, ek wil eers klaar uitpak.”

      Ons koffie is al op toe ons Duane se vintage- Shelby Cobra wat sy pa vir hom vir Kersfees gekoop het, buite hoor stilhou.

      Hy ry al van graad tien af sonder ’n lisensie. Sy pa is een van Wilgendal se grootste boukontrakteurs en sy ma doen die besigheid se boeke. Hulle is so ryk, hulle kan toe-oë die boetes bekostig wat Duane so nou en dan kry.

      “Dis vir hulle makliker om die tjeks uit te skryf as om my rond te ry. Which suits me fine,” sê hy altyd.

      Die kleur op sy wange verander sommer van die gewone cappuccino-bruin na ’n melkerige latté toe hy vir Penny sien. “Gee whiz, girls, hulle noem die plekke met die spieëls en haardroërs haarsalonne. Dis waar ’n mens jou hare laat sny, julle weet?”

      “Hulle was almal vol bespreek vandag en toe sê Clarissa ek moet sit, sy sal sommer gou my hare sny. Hoe het sy nou weer gesê? O ja, iets soos: hoe moeilik kan dit nou wees,” sê Penny en kyk boosaardig na my.

      Duane sit ’n metaaltassie langs my op die bed neer en haal ’n kam en skêr uit. “Jy,” sê hy en hou die punt van die skêr gevaarlik naby my neus, “is beslis nie ’n professional nie. Van haarsny weet jy niks.”

      “Ag, jou dinges. En jy’s professional?” kap ek teë.

      “Ek weet meer as enige average girl in Palm Lane High van mooimaak af.”

      Dis waarskynlik waar. Duane Willemse is ons skool se eie Glam Guru. Hy het al sakke vol geld verdien met make­overs. Daarom hou ek maar liewer my mond terwyl hy sy magic doen.

      “Nog net hierdie puntjie … daar’s hy.” Duane kom regop en beskou sy handewerk soos ’n trotse pa wat sy eerste baba in die oë kyk.

      “Dankie, Duane, jy’s ’n pêl duisend,” sê Penny.

      Duane draai na my. “Moet ek nie jou eyebrows bietjie trim nie? Hulle lyk weird.”

      “Nee, dankie. Ek hou van hulle soos hulle is.”

      Duane het al jare lank ’n ding oor my wenkbroue. En as hy nie daaroor moan nie, het hy ’n storie oor ek kastig nie genoeg grimering dra nie.

      Ek en Penny stap saam met Duane voordeur toe. “Gedra julle nou, oukei?” sê hy toe hy groet en wegry.

      Penny haal haar scooter se sleutels uit haar skouersak. “Ek moet ook nou waai. Sê vir jou ma ek sê baai.”

      Ek maak die voordeur toe en stap kombuis toe. Ek wonder wat eet ons vanaand. My ma is mal ook kos­maak, maar ek deel nie dié particular passie nie.

      Huisskoonmaak en wasgoed doen is vir my ook abso­­luut tydmors. Alles wat jy skoonmaak, word in elk geval weer vuil en vol kreukels.

      Gelukkig het ons vir Dorah wat in die oggende inkom. Sy’s baie nice. ’n Sterk vrou. Ek bewonder sterk vroue. Ek kry dit meestal reg om te maak of ek ook een is.

      My ma is nie in die kombuis nie. Ek kry haar in haar halfdonker kamer. Sy staan voor die venster en staar na die toe gordyne. Sy hou ’n geraamde foto vas.

      “Is Ma oukei?”

      “H’mm? O, ja.” Sy kyk af na my pa se foto. “Dis môre sy verjaarsdag.”

      “Ek weet, ja.” Ek skakel die lig aan. “Ek sal help aand­­­­­ete maak as Ma wil.” Enigiets om haar uit die donker kamer te kry.

      “Dis nie nodig nie, dankie, ek het vir ons gaar lasagne by die Spar se deli gekoop. Ek sal net slaai maak.”

      Ná ete kyk ons saam TV. Toe my ma gaan bad, gaan haal ek my sigarette in my kamer en gaan sit buite op die