Heeltyd by God. Milanie Vosloo. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Milanie Vosloo
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796315878
Скачать книгу
tion>

      Heeltyd by God

      MILANIE VOSLOO

      Hoe onbeskryflik is sy teenwoordigheid!

      Hoe ryk is ek om ons almagtige God

      oral en altyd by my te hê …

      Wat ’n voorreg om alles en almal

      voor Hom neer te sit …

      my gekromde self

      die mense wat ek liefhet

      hulle wat ek nie (wil) ken nie.

      My en jou God …

      ’n Vriend vir altyd, ’n ewige metgesel.

      Deel in die voorreg

      om met God te gesels.

      Heeltyd.

      Liewe Vrou

      Weet jy hoe lief God jou het?

      Só lief dat Hy heeltyd by jou wil wees, gedurig met jou wil gesels en daagliks in ’n verhouding met jou wil leef. Hy wil hê jy moet die vrymoedigheid hê om met Hom te gesels en jou hart met Hom te deel. Want in daardie deel met Hom, in die stilwees by Hom, sal jy ervaar hoe Hy jou van sy liefde vir jou verseker, sy vrede oor jou uitstort en sy goedheid en wysheid aan jou openbaar.

      God wil met jou praat wanneer jy sommer net die lewe en die mense om jou geniet, maar Hy wil ook met jou gesels wanneer jy twyfel, bang is, oor jouself wonder, sukkel met verhoudings en stoei met al jou verantwoordelikhede.

      Mag jy met die eerlike woorde in hierdie boek leer om met jou gedagtes, jou gewone menswees-woorde en jou hele JY hééltyd in kontak te leef met die Een wat jou so liefhet dat Hy sy lewe vir jou gegee het.

      Vrede vir jou, Vrou.

      Milanie Vosloo

      Die mense wat ek liefhet

      ’n Onthou-ma

      U moet ma’s gevorm het uit u trane,Vader,

      want lank nadat hul gesuiwerde liefde

      oor ons gestroom het,

      sien ons nog die soutkristalle op ons lewe blink.

      Wanneer ek koppig is, hou sy kop.

      Sy’t wysheid wanneer ek “slim” is.

      Haar krag blom wanneer ek swak is.

      Ek weet U hou my altyd vas, Here, maar

      dankie vir ’n ma wat drukkies gee,

      wat my beter ken as wat ek myself ken,

      wat help waar my arms te kort is.

      Dankie dat U haar gebede hoor en verhoor.

      (Sy het my al so baie voor U neergesit!)

      Dankie dat sy altyd in my glo …

      Ook wanneer ander – en ek self– aan my twyfel.

      Koester haar in die kelk van u liefde, asseblief.

      Liefling

      Liefling

      Vader, dankie dat u vir my ’n man gestuur het

      wat my meer mý maak.

      Help my om hom meer hóm te maak en

      hou ons altyd óns.

      Houtraamvensters

      Liefde is soos ’n gesellige huis

      waarna jy graag terugkeer

      om uit die koue

      by ’n kaggelvuur

      tuis te kom.

      Gelukkige liefde het vensters

      waardeur jy uitkyk

      na die wêreld

      buite jou veilige hawe.

      Ware liefde is houtraamvensters

      waardeur jy sonder oopmaak

      die volle prentjie sien

      geraam in blokkies pret

      sonder ’n binnegordyn.

      Vader, seën ons huwelik

      met die vreugde van onvoorwaardelike liefde.

      Verkyker-liefde

      In ’n liefdesalbum

      word daar gereeld geblaai

      om die heldermooi onthou-jy-nogs

      deur te kyk

      en weer eens die lens

      van saamwees te fokus

      op ’n visie –

      groter as wat die blote oog

      ooit kan sien.

      Hou ons liefdesbootjie

      altyd geanker

      aan u volmaakte Godheid

      sodat ons saamwees

      U verheerlik in

      reënboog-onthou-jy-nogs.

      ’n Nuwe lewe

      Met elke asemteug voed my wese die nuwe lewe

      wat in my vorm.

      Ek glimlag oor die voorreg om ’n nuwe mens

      onder my hart te dra

      en wonder oor sy wese, sy menswees en …

      sy sterwe.

      Vader van alle lewe, hou hierdie bondel altyd

      in die baarmoeder van u liefde.

      Omvou hom deurentyd

      met die donskombers van u genade.

      Tel hom saggies op wanneer hy val en

      smeer die salf van u vergifnis oor sy pyn.

      Wys hom die pad na liefde. U liefde.

      Gee aan hom ’n lewensmaat

      wat altyd vir hom ’n vriendin sal wees,

      ’n werk waarin hy hom sal uitleef en, as dit u wil is,

      kinders om sy tafel om hom vreugde te gee.

      Laat sy lewe U tot op sy sterfbed verheerlik.

      En, Here, help my as ma om hom te lei terwyl ek kan.

      Maar help my veral om hom sy eie reis te laat neem.

      Tiener-tantrums

      Ek wens U het ’n boekie,

      How to raise your child,

      saam met my bondeltjies vreugde gestuur,

      want, Here, ’n ma se posbeskrywing

      is soms baie duister!

      Toe hulle klein was, het ek hulle groot gewens

      wanneer hul speelgoed ná slapenstyd rondlê.

      Nou weet ek nie hoe om die stukke van hul lewens

      aanmekaar te hou nie.

      Gee tog wysheid om hul grootwordstryd te verstaan,

      te bloei in hul pyn, te glimlag in hul vreugde

      (al is dit ook deur my trane).

      Ek het ’n groot porsie begrip nodig

      om hul groepsdrukvrees te verstaan;

      te aanvaar hulle sal eers ééndag weer van my hou.

      En wanneer hulle in hul voortvarendheid verdwaal,

      gee my ’n sagte hand in