1
“Wát?” Dixie hoor hoe skril haar stem is, hoe hekserig skerp, hoe lelik.
Dan sien sy die agterkant van die taxi voor haar nader kom. Te flippen vinnig nader kom.
“O dinges!” roep sy uit. Sy gryp vervaard met al twee hande na die stuurwiel, hoor hoe die selfoon langs haar voete op die vloer val, sy rem, skree … vloek. Die Tazz kom met ’n ruk en ’n sluk skeef in die pad tot stilstand, ’n skrale meter van die opgekrokte taxi se agterkant af.
Om haar gaan die toeters aan die skel.
“Simpel vroumens!” roep ’n ou met tatoes op sy arms wat rakelings by haar verbyskuur. “Het jy jou lisensie in ’n lucky packet gekry?” Hy steek ’n middelvinger in die lug.
Dixie trek haar asem skerp in. Sy verdien daardie middelvinger, sy weet. Dit en nog baie meer. Sy wil huil. Of baklei. Uitklim en iemand klap. Die eerste die beste man wat verbykom. Haar kop teen ’n muur stamp. Weghardloop. By ’n krans afspring. Enigiets om van die frustrasie ontslae te raak.
Sy hamer met haar vuiste op die stuurwiel. Sy ís sowaar die swakste bestuurder in die hele Johannesburg, sy ís ’n simpel vroumens, sy hoort nie op die pad nie.
Vaagweg hoor sy Jo-Jo se ontstelde stem uit die selfoon by haar voete kerm, maar sy kan nie nou daaraan aandag gee nie. Eers toe die verkeer weer begin beweeg, laat sy haar asem stadig uit. Amper. Dit was amper. Dis ál wat sy nou nog nodig het – skade aan haar motortjie waaraan sy nog drie en ’n halwe jaar moet afbetaal. Of om met gebreekte bene plat op haar rug in traksie in die hospitaal te beland. Sonder ’n mediese fonds, sonder ’n man, ’n kêrel, niks, kaal uitgetrek deur die dinge wat haar die afgelope ruk van alle kante af aanval soos kakkerlakke in ’n vuil kombuis.
Eers toe sy voor die huis stilgehou het, tel sy die selfoon op.
“Waddehel gaan aan?” vra Jo-Jo. “Wat het gebeur? Ek hoor jou vloek en ek hoor remme skree en ek wag vir die slag. Jy sal my nog ’n hartaanval gee!”
“Ek … daar was ’n taxi voor my en …”
“Liewe hemel, Dixie, weet jy nou nog nie om nie met jou selfoon teen jou oor te bestuur nie!”
“Dis nie die selfoon teen die oor wat my amper die ewigheid ingestuur het nie, dis die goed wat jy sê.”
“Ek sê nie jy móét dit doen nie – ek stel dit net voor.”
“Dat ek in Bliss and Beautiful gaan werk terwyl jy oorsee rinkink.”
“Nie rinkink nie. Ek het ’n man ontmoet.” Jo-Jo klink ingenome. “O wel, eintlik hoop ek daar gaan wél ’n bietjie gerinkink word.”
Dixie rol haar oë, al is daar niemand om dit te sien nie. “ ’n Man ontmoet? Is daar dan iewers in die hele wye wêreld ’n man oor wat jy nóg nie ontmoet het nie?”
Jo-Jo lag. “Ja, blykbaar. In Australië. Ek het sy funky foto op Facebook gesien en ons het begin chat.”
“Jy weet hoe fake kan Facebook wees. Die foto wat jy gesien het, is dalk dekades gelede geneem of dis van sy buurman wat modelwerk doen in sy vrye tyd. Of hy het ’n foto van hom gephotoshop om soos ’n filmster te lyk. Dalk is hy ’n skaapboer met ’n hoed en ’n boepens.”
“Ontspan, Dixie, ek is nie stupid nie – ek weet wat ek doen. Ek het hom al in sy speedo gesien en hy’s ’n hunk van ’n man.”
“In sy speedo! Hoe de dinges?”
“Ons het mekaar geskype, man, hoe anders?”
“In julle onderklere?” Maar dan bedink Dixie haar. “Of nee, wag, ek wil eerder nie weet nie.”
“Ontspan tog, o koningin van kamma-kuisheid. Hy het van die swembad af ingekom, in sy speedo met ’n handdoek oor sy skouers en met sy hare nat oor sy voorkop. Sy spiere … daardie arms … sy borskas … Hou, hart, hou!”
“En nou wil jy agter gespierde arms en ’n borskas aan Australië toe foeter? Is dit nie ’n bietjie naïef nie, sus? Selfs vir jou?”
“Moenie so suurgat wees nie, Dixie-man. Net omdat jy besluit het om single te bly totdat jy oud en tandeloos is, beteken nie die res van ons moet ook soet en selibaat wees nie. Ek dink hy kan dalk Die Een wees.”
Dixie trek haar handsak nader, klim uit die motor. “Die Een?” Sy lag bitterbek. “Watter Een? Hoeveel Die Ene was daar al in jou lewe?”
“ ’n Paar,” erken Jo-Jo nonchalant. “Maar jy weet wat ek bedoel – Die Een vir nou.” Haar stem raak dromerig. “En dalk vir die res van my lewe.”
Die selfoon is tussen haar oor en haar skouer vasgedruk terwyl Dixie die motor sluit en in die tuinpaadjie afstap. “Jy’s troubedonnerd, Jo-Jo. Jy’t al genoeg trourokke gedra om jou wedding planning-besigheid net daarmee aan die gang te hou.”
“Só erg is dit darem nie.”
Nee, dit is nie, maar dis erg genoeg. Jo-Jo hou van trourokke – en van trou. En van troukoeke. Soveel so dat die koerante al oor haar wil begin skryf. Die eerste twee rokke was in maagdelike wit – wat natuurlik ’n bespotting van maagdelike wit maak. Die derde het ten minste darem ’n paar pers blommetjies opgehad om die maagdelike wit te breek, en die een wat sy verlede jaar gedra het, was wawielwyd en skelrooi. Dixie vermoed Jo-Jo se volgende trourok sal purperpers wees. Moontlik nog met ’n Australiese aanslag.
“Nie almal kry so ’n kick uit trourokke en troukoek soos jy nie,” herinner Dixie haar. “Elke keer wat jy trou, is dit ’n moerse gedoe. As jy so aangaan, rol jy teen jou tiende troue in die paadjie af preekstoel toe van al die troukoek wat jy deur die jare verorber het.”
“Moenie vir jou laf hou nie.” Jo-Jo lag. “Jy weet mos: Troukoek maak nie vet nie.”
“Waar op aarde kom jy aan daardie twyfelagtige stukkie wysheid?”
“Lyk ék miskien vir jou vet?”
Eintlik nie. Jo-Jo het ’n lyf waarvoor baie vroue sal moor.
“En niemand eet méér troukoek as ek nie.”
Dis ten minste waar.
“Troukoeke word met soveel liefde aangemaak, die heilsaamheid is deel van die bestanddele. Dís hoekom dit nie vet maak nie,” gee Jo-Jo een van haar onlogiese verduidelikings.
“Wat mý betref, is daar niks wat heilsaam is aan troukoek nie.” Dixie aarsel ’n oomblik. “Of aan ’n ewige trouery nie.”
“Dit was nie altyd so nie. Toe ons klein was, het ons mekaar bloedneus geslaan omdat jy net so graag soos ek die bruid wou wees. Ma het ’n foto van jou in haar Bybel waar jy in hoëhakskoene en met die kanttafeldoek oor die kop paradeer.”
Dixie wil nie aan haar lawwe drome en dinge van destyds herinner word nie, maar Jo-Jo is nou behoorlik op ’n memory trip.
“Ek dink jy het daardie dag met Andries getrou. Onthou jy hom? Die bure se seunskind met die skurwe hakke en die loopneus. Ons moes hom met lekkergoed omkoop om met jou te trou.”
“Toe al,” sug Dixie. “Tóé moes ons al iemand omkoop om met my te trou. In die jare daarna het niks verander nie.”
Sy wag verniet dat Jo-Jo haar troos. Soms ís daar niks wat gesê kan word om van die brandgevoel van vernedering in jou borskas ontslae te raak nie.
Sy onthou daardie dag goed. Hoe Andries met die rowe op die knieë en ’n rooi verkoueneus langs haar staan en snuif het. Hy wou nie daar wees nie, hy wou régtig nie daar wees nie. Andries was dom – hy’t die vorige jaar gedruip en daar was nie veel hoop dat hy dit dáárdie jaar sou maak nie. En arm, sies tog. Hy’t nie eens ’n pa gehad nie. Daar was net ’n loseerder in die agterste kamer, die een met die pampoenkleurige skoene en die dissipelbaard. Maar selfs Andries wat niks gehad het om oor grootkop te hê nie, wou nie eens kamma-kamma met haar trou nie.
Dit was net hulle drie wat dié dag troue-troue gespeel het. Daar was ’n ernstige gebrek aan deelnemers om al die rolle te vertolk