Vir my pa en broer
Outeursnota
In dié boek word daar dikwels van rassekategorieë soos ‘swart’, ‘wit’ en ‘kleurling’ gebruik gemaak. Die gebruik van aanhalingstekens dui op die gekonstrueerde aard van dié terme en is daarop gemik om ’n mate van afstand van die aanstootlike implikasies te bied. Tog, om dit vir die leser makliker te maak, is die aanhalingstekens weggelaat, maar die etikette moet steeds versigtig gehanteer word. Rassekategorieë word ook nie met hoofletters geskryf nie om die verskeie variasies van elke ras aan te toon, en om geeneen te bevoordeel nie. Sekere ander historiese terme soos ‘naturel’, ‘armblankevraagstuk’ of ‘armblankeprobleem’ is aanvanklik in elke hoofstuk in aanhalingstekens geplaas, waarna die leestekens weggelaat is om lees te vergemaklik. Hierdie terme is (dikwels betreurenswaardige) produkte van hul tyd. Die leestekens dui weer eens afstand aan en selfs daarsonder moet die terme steeds so gelees word.
Inleiding
Dít is die verhaal van die grootste towerkunsie ooit.
Terwyl die mindere towenaars van die geskiedenis – die alchemiste van die Middeleeue en hul moderne eweknieë in moderne Las Vegas – doodgelukkig was om lood in goud te probeer verander of ’n olifant te laat verdwyn, het die goëlkunstenaars van Afrika ’n hele volk uit niks geskep.
Met die grond van Suid-Afrika, waar wind en weer op hierdie verhoog hul merk gelaat het, het hierdie towenaars ’n geharde ras in die lewe gebring – ’n taai groep boere en jagters – en hulle ’n kultuur gegee. Van liedere en taal voorsien. Hulle in hoede en kappies geklee. ’n Geskiedenis, ’n tuiste en ’n land gegee wat hulle hul eie kon noem. En aan hulle die geskenk van wit velle en steil hare gegee.
Maar dit was net die eerste deel van die towerkunsie. Terwyl die mense trots op die verhoog gestaan en buig het, het die gordyn gesak. ’n Tromgeroffel, ’n flitsende lig, ’n knal en ’n bol rook. Toe die gordyn weer opkom, het baie van dié op die verhoog verdwyn. Verstommend genoeg het niemand het dit agtergekom nie.
Dit was eers baie later, nadat die towenaars self verdwyn het, dat die gehoor dit besef het. Baie van dié wat verdwyn het, het teruggekeer. Die gehoor het begin sien dat die ander nooit regtig verdwyn het nie. Hulle was heeltyd daar.
Hierdie verhaal vertel hoe die towenaars hul toertjie uitgevoer het. Belangriker nog, dit is die verhaal van hoekom hulle besluit het om dit uit te voer. Dit is nie die volle verhaal nie. Dít sal baie jare en baie boeke verg, maar dit is ’n storie.
Hierdie besondere verhaal eindig – as daar gesê kan word dat dit wel eindig – in omstreeks 2010, toe Suid-Afrika die grootste sportgeleentheid ter wêreld aangebied het – en die wêreld-kollig weer eens op die jong demokrasie geskyn het.
Meer as 15 jaar ná sy eerste volledig demokratiese verkiesings betree Suid-Afrika wat sommige kommentators ’n ‘tweede wittebrood’ met die wêreld gedoop het. Die hernieude aandag het iets van ’n herontdekking van die land deur die internasionale pers tot gevolg gehad. Die nuusdiens Reuters, byvoorbeeld, was veral geïnteresseerd in die verskynsel van wit armoede in Suid-Afrika.
In ’n land wat so deur wit bevoorregting en die kragdadige handhawing van wit baasskap gedefinieer is, is die voorkoms van akute wit armoede as besonder nuuswaardig beskou. ’n Fotograaf met ’n Pulitzer-prys agter sy naam het opdrag gekry om ’n foto-essay oor die ‘nuwe’ armblankes saam te stel, waarop wye kommentaar vanuit Suid-Afrika en die res van die wêreld gevolg het. In ’n onderhoud met The New York Times het die fotograaf, Finbarr O’Reilly, benadruk dat wit armoede in Suid-Afrika ‘nie ’n nuwe verskynsel is nie, maar dit lyk of die getalle meer opvallend is as wat dit in die verlede was’.1
Dit was nie die eerste keer dat The New York Times oor dié kwessie verslag gedoen het nie. ’n Dekade vroeër het die koerant iets soortgelyks gepubliseer, waarin opgemerk is dat ‘om ’n wit man in Suid-Afrika te wees, het vantevore ’n vaste werk, ’n huis, ’n motor, ’n sekere aansien beteken. Vir ’n oorweldigende meerderheid van wit mans is dit steeds die geval. Maar vir ’n toenemende aantal wittes is daar ontstellende nuwe werklikhede’.2
In die Reuters-artikel wat O’Reilly se foto’s vergesel, word gemeld dat ‘onder apartheid, wat in 1948 ingestel is, wittes wye beskerming en beskermde arbeid geniet het. Die swakste en mins opgevoede is beskerm deur die staatsdiens en nywerhede in staatsbesit wat as werkskeppingskemas gefunksioneer het, (en) wat selfs die armste wittes van ’n huis en lewensonderhoud verseker het’.3
Daar was gemengde Suid-Afrikaanse reaksie op O’Reilly se foto’s. Die invloedryke nuuswebwerf Daily Maverick het byvoorbeeld gefokus op die probleem van armes se essensialisasie volgens ras, maar wend geen poging aan om historiese konteks te bied nie.4
Dié ‘nuwe’ wit armoede word as vanselfsprekend aanvaar. Hoewel hierdie artikels impliseer of reguit sê dat wit armoede in Suid-Afrika ’n nuwe verskynsel (of nou meer akuut as ooit is), is dit eenvoudig verkeerd. Geen melding word gemaak van wat voor apartheid gebeur het nie.
’n Vreemde vorm van kollektiewe geheueverlies bestaan wat Suid-Afrika se ‘armblankes’ betref. Dié geheueverlies is opsetlik en is oor jare tot stand gebring met die onuitgesproke instemming van Suid-Afrika se heersende klasse.
Wittes word spesifiek uitgebeeld asof hulle nooit arm was nie, of as synde groot getalle van hulle beslis nooit arm was nie.
Tydens die eerste dekades van die twintigste eeu het die ‘armblankeprobleem’ egter só ’n omvang aangeneem dat dit die uitslag van nasionale verkiesings beïnvloed het. Dit was van kardinale belang vir die standaardisering van rasseverhoudinge in Suid-Afrika en die uiteindelike instelling van apartheid. Die armblankeprobleem is allermins ’n nuwe kwessie. Dit was instrumenteel in die skepping van ’n hele volk en wesenlik vir sy identiteit.
Hierdie mense is die Afrikaners, meestal van Hollandse afkoms, wat ’n eeu gelede die meerderheid van arm wittes uitgemaak het en, so wil dit voorkom, ook die meerderheid van arm wittes vandag. Tussen die 1880’s en 1939 het ’n reeks natuurrampe, oorloë en ekonomiese insinkings die Afrikaners in grootskeepse armoede gedompel. In 1916 het die regering byvoorbeeld geraam dat daar meer as 121 000 arm wittes was.5 Teen 1924 het minstens ’n kwart van Afrikaners in die armblanke-kategorie geval en teen 1930, toe die Groot Depressie sy tol begin eis het, was sowat 300 000 – ’n derde van alle Afrikaners – ‘absoluut armlastig’.6
Daar was egter nooit sekerheid oor die getalle nie, en volgens sommige ramings het die aantal ‘verarmde’ wittes teen 1932 meer as die helfte van die Afrikanerbevolking beloop. Dit is ’n verstommende getal.
Minder as ’n eeu gelede was Afrikaners nie bekend vir apartheid of wit bevoorregting nie, of vir hul gerieflike voorstedelike huise met swembaddens, veiligheidsalarms en Sondag-plesierritte nie.
Nee – minder as ’n eeu gelede was Afrikaners bekend vir hul armoede, as mislukte boere en agterplaasbewoners.
Die armblankes het aanvanklik meestal op die platteland gewoon, maar met die ontdekking van diamante en goud het die toenemende industrialisasie van Suid-Afrika daartoe gelei dat groot getalle arm wittes na stede gestroom het. Dié stedelike armes het grootliks bepaal hoe die staat en die onderskeie regerings die probleem probeer takel het. Die spoedige groei van veelrassige krotbuurte, veral in die mynstad Johannesburg, het problematies geblyk te wees vir die koloniale owerhede wat daarop ingestel was om wit aansien te handhaaf.
Die armblankebevolking, 1908–19327
Jaar | Raming | Deel van wit bevolking | Deel van Afrikanerbevolking |
1908 | 35 000 | 2.8% | 5.2% (in Suid-Afrika) |
|