Elizabeth Wasserman
Illustrasies deur Astrid Castle
Tafelberg
Vir al die kinders wat nog
nooit op die maan was nie – EW
Die wêreld van Jannus en Kriek
Ons helde
Doopname: Jannewario Frederikus Knoets en Krisantalia Renostrum Knoets, algemeen bekend as Jannus en Kriek. Hulle is min of meer agt jaar oud, en hulle is ’n tweeling.
Adres: Huis Deurmekruis
Onder Afrit 7 van die snelweg
Naby die dokke
Hulle ouers: Knersius en Soetlief Knoets. Knersius is die speltoetser van ’n groot uitgewery. Soetlief is ’n gevaarlike spioen.
Hulle troeteldier: ’n meerkat met die naam van Meneer Snoek. Sy is ’n wyfiemeerkat, maar haar voornaam is Meneer en haar van is Snoek.
Hulle oupa: Hy is ’n avonturier, ’n uitvinder en ’n baie onvoorspelbare ou man. As hy nie iewers anders is nie, bly hy onder Huis Deurmekruis, waar hy allerhande interessante dinge doen en goeters uitvind in sy kelderlaboratorium. Sy brein is so groot en so besig dat dit vir hom moeilik is om aandag aan gewone dinge te gee. Miskien raak hy net ’n bietjie deurmekaar van ouderdom, want hy noem alles wat hy nie kan onthou nie “dinges”.
Wie is Zip?
Is hy een van Oupa se uitvindings? Niemand weet wat hy is of waar hy vandaan kom nie, maar hy het gehelp om hierdie boek te skryf.
'n Doodgewone dag begin
’n Harde knal ruk Huis Deurmekruis.
Ma Soetlief gaan kalm voort om ontbyt aan haar gesin te bedien.
Pa Knersius kyk nie eens op van die dik woordeboek wat hy lees nie.
Jannus knoop sy das: net perfek.
Kriek eet ’n groenboontjie met haar mes en vurk. Sy is deesdae ’n vegetariër.
Niemand steur hulle aan die knal nie. Want in Huis Deurmekruis is vreemde geluide doodgewoon.
“Hoe was jou stappie, Meneer Snoek?” vra Kriek. Die meerkat spring rats op die tafel en begin knaag aan ’n wurm wat Ma Soetlief vir haar met ’n soplepel in haar bakkie skep.
Pa Knersius kyk skuinsweg op van sy woordeboek. “Hoekom is Snoek vandag groen?” vra hy.
“Sowaar!” sê sy vrou en lig haar masjiengeweer van die haak agter die stoof af. “Maar is meerkatte dan nie gewoonlik groen nie?”
“Die meervoud van meerkat is meerkaaie,” help haar man haar reg. “En hulle behoort bruin te wees, dink ek.”
“Ek sal haar na werk veearts toe vat!” belowe Soetlief.
“Helaas!” sê haar man. Hy is lief om sulke snaakse woorde te gebruik. Hy lees dit in sy woordeboek.
Ma Soetlief tel ingedagte die meerkat aan haar nekvel op en hang die diertjie aan die haak agter die stoof.
Meneer Snoek maak dadelik haar oë toe en begin saggies snork.
Oomblikke later hoor die tweeling hoe hul ma se motorfiets wegbrul in die rigting van die stad.
“Sy het vergeet om die skottelgoed te was!” kla Jannus.
Kriek sug. “Staan opsy, ek sal dit doen!”
Sy draai die kraan oop en spuit die tafel met die tuinslang af.
Pa Knersius maak net betyds die sambreel oop wat hy altyd onder sy stoel bêre. Hy hou nie daarvan as sy woordeboek nat word nie.
Jannus haal Meneer Snoek van die haak af en prop haar in sy boeksak. Die meerkat snork dadelik verder.
Kriek pak hulle kosblikke in. Iets swaars rol in haar kosblik rond. Sy maak dit oop om te kyk wat dit is.
“Granate!” sug sy. “Ma het al weer ons kosblikke omgeruil, en nou gaan sy seker iets met my toebroodjies probeer opblaas.”
“Is granate dan nou in seisoen?” vra haar pa sonder om op te kyk van die woorde wat met ’n M begin.
Kriek sug weer.
Sy en haar broer sal moet opskud, of hulle is laat vir skool!
Sy gee sy kosblik vir hom aan en Jannus pak dit in sy boeksak. Hy vang sy suster se oog. Soos dikwels lees die tweeling mekaar se gedagtes. Ja, hy is ook verveeld. Ja, hy wens ook dat iets opwindends wil gebeur.
Kriek knik vir hom en pak haar ma se kosblik netjies in haar skoolsak.
“Wederom!” roep hulle pa hul agterna, sonder om op te kyk van sy woordeboek.
Die kinders spring op hulle fietse en jaag skool toe.
Agter hulle skud nog ’n knal die ruite van Huis Deurmekruis.
’n Doodgewone dag het begin.
Huis Deurmekruis
Huis Deurmekruis was een van die eerste huise aan die buitewyke van ’n klein stadjie. In daardie dae was dit ’n rykmansbuurt en Huis Deurmekruis was een van die deftigste wonings in die straat.
Die klein stadjie het al hoe groter en groter geword. Die hoë geboue en besige strate van die middestad het al hoe nader en nader aan Huis Deurmekruis gekruip. ’n Groot snelweg is bykans reg oor die ou huis gebou.
Die gesinne in die ander huise het weggetrek na nuwer, stiller buurte.
Hulle huise is platgeslaan en deur fabrieke vervang. ’n Spoorlyn is gebou. Die stad het aanhou groei en groei, en die munisipaliteit het